Die Langkloof, Cheetah en gholf. ’n Classic.
Oom Jaco Engelbrecht is vroeër vanjaar oorlede. Hy was Hortgro se streekverteenwoordiger in die Langkloof, ’n boerderygebied verantwoordelik vir so 20% van die land se appels. Dus is ’n streekverteenwoordiger in dié gebied uiters belangrik vir Hortgro.
Dis nou hier waar Cheetah in die prentjie kom. Eers moet mens hom seker formeel voorstel as Neil-Pierre Strydom. Maar al is hy ’n boorling van die Langkloof, gaan heelwat mense wonder van wie jy nou praat. Totdat jy Cheetah in die prentjie bring. Dan ken almal hom. Want Cheetah is ’n lekker ou. Hy lag altyd; is altyd bereidwillig om deel te wees. Hy is ’n lekker ou. Hy is ook kaptein van Joubertina se gholfers en is ten tye van die gesprek besig om die nuutste Classic te organiseer.
Waar kom hy nou aan ’n naam soos Cheetah? (Vrystaat het niks hiermee te doen nie.) Dis ’n lekker storie, maar net eers so ’n bietjie agtergrond oor hom, voor ons by dié bynaam uitkom. Gebore en getoë in die Langkloof, grootgemaak op Vryheid tussen Krakeel en Louterwater, matriek geskryf op Hoërskool McLachlan in Joubertina. Daarna Bestuursrekeningkunde op Universiteit Stellenbosch. Natuurlik oorsee om uit te vind dat ’n Cheetah hoort tog maar in Afrika. Terug Kaapstad toe. Daar het hy homself begin ontwikkel in bestuursinligtingstelsels. Hy het baie goed gedoen, maar die maatskappy waarvoor hy dit gedoen het, het begin sukkel. Dis nou net daar waar gholf tot die redding kom. Hulle sê mos meeste van die wêreld se beste sakebesluite word so putjie vir putjie gemaak.
“Die Baldies het my altyd genooi om saam met hulle in die Classic te speel. Dit was so 10 jaar terug en ek gesels met Cornelis Muller van Louterwater-landgoed en hy sê vir my dat al die boere se finansiële inligting is in plek, maar hulle bestuursinligting skiet tekort. So toe kom ek terug Kloof toe en begin ’n soortvan hulpbronbestuurstelsel. Cornelius het my aanvanklik ’n bedrag betaal, maar die hele ding het ontwikkel in ’n besigheid genaamd Alchemy Management Systems met ’n programmeerder, Riaan Koegelenberg as my vennoot. Toe stig ons Sisko, ’n akroniem vir Stelsels vir Inligting deur Strydom en Koegelenberg.”
Oom Jaco se gaping moes gevul word en dis net daar waar die Cheetah instap. “Dis nou ’n moeilike tyd om in te kom in so ’n ding,” reken Neil-Pierre, “want in dié stadium van die siklus faktureer die Langkloof-vrugteprodusentevereniging die boere. Daar’s vele registrasies wat gedoen moet word. Ook by Langkloof se landbougenootskap. Om nie eens van SARS te praat nie. Die een bank op Joubertina maak toe en alles skuif oor na die ander bank. Om alles nou in plek te kry is 200% admin, maar ons kom daar.”
Die raakpunte tussen wat hy vir die plaaslike boere doen en waarvoor Hortgro daar is, is duidelik. Hy het boord-inligting, oes- en gehalte-rekords op sy sisteem. Hulle praat dieselfde taal.
Die groot ding van Cheetah is hy hou van mense en hy moet altyd iets nuuts doen. So het hy en sy broer nou met ’n koffie-roosterbedryf begin. Sy ma en skoonsus het die koffiewinkel op die dorp. Nou hier kom familie-koffie in die prentjie in.
Hoe ook al, Cheetah is ’n besige mens. Maar ’n mens wat altyd iewers tussen alles in tyd en plek het vir almal om hom. Dis soortvan seker sy voorgee, hy wat die gholfkaptein is. Maar wat ons nog steeds nie weet nie, is hoekom ’n man met so ’n mooi dubbelloop-naam soos Neil-Pierre die wêreld aandurf as Cheetah. Vra sy oupa.
Dit gaan alles oor die dag wat Neil-Pierre en sy ma uit die kraaminrigting ontslaan is. Oupa het angstig gewag vir die aankoms van die kleinkind. En daar kom sy ma met die bondeltjie in haar arms ingeloop. So toegewikkel in ’n baba-pakkie. So ’n gawe gele met swart kolle op. Ma bied die bondeltjie aan vir sy oupa. Oupa vat die bondeltjie. Dié bondeltjie lag grootbek vir sy oupa.
“Hallo Cheetah,” sê Oupa.