
Die stille krisis: Vergiftiging van bye en die pad vorentoe
Deur Elise-Marie Steenkamp
Die toenemende vergiftiging van bye in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap, het die afgelope paar jaar ’n ernstige krisis geword wat nie net byeboere raak nie, maar ook die hele landboubedryf bedreig. Bye speel ’n kritieke rol in bestuiwing – na raming is ongeveer 60% van landbougewasse van bye afhanklik. Wanneer bye vrek, bedreig dit voedselproduksie en gewasvolhoubaarheid.
Dr. Gerhard Verdoorn, van CropLife South Africa, het tydens ‘n werkswinkel oor byevergiftiging op Stellenbosch gesê dat volgens onlangse waarnemings en voorvalle duisende bye as gevolg van verkeerde en onwettige aanwending van landbouchemikalieë sterf. “In baie gevalle word bye direk gespuit tydens bespuiting, of hulle word blootgestel aan gevaarlike mengsels van landbouprodukte. Selfs produkte wat individueel as ‘nie giftig’ beskou word, kan in kombinasie dodelik wees. Hierdie mengsels dring die bye se asemhalingstelsel binne en lei tot vinnige sterftes.”
’n Verdere uitdaging is dat bye nie beperk bly tot een gewas of plaas nie. Hulle kan tot 2,5 km van hul korf af vlieg en word dikwels vergiftig in ander gewasse waar ongeregistreerde of verkeerd aangewende middels gebruik word. Selfs spuitnewel (drift) vanaf lugbespuiting, soos by canola, kan bye op aangrensende plase affekteer. Die gevolg is dat hele korwe uitgewis word, heuning onbruikbaar raak en byeboere hul inkomste verloor – soms permanent.
Volgens Verdoorn is wetstoepassing ’n groot probleem ten spyte van die erns van die situasie. “Daar is tans onvoldoende inspekteurs in ons land en boetes vir oortredings is minimaal. Dit plaas ’n onregverdige las op byeboere om self bewyse te versamel en regstappe te neem – ’n proses wat duur en dikwels onvolhoubaar is.”
In baie ontwikkelde lande bestaan daar formele skemas vir die ondersoek van byevergiftiging, met vinnige reaksietye en streng strawwe vir oortreders. Suid-Afrika het egter nog nie so ’n gestruktureerde stelsel nie.
Hoe kan produsente byevergiftiging help voorkom?
Die goeie nuus is dat die meeste gevalle van byevergiftiging voorkombaar is. Produsente kan ’n groot verskil maak deur eenvoudige, maar kritieke praktyke toe te pas:
- Volg etikette streng: Gebruik slegs produkte wat vir die spesifieke gewas geregistreer is, en hou by aanbevole dosisse en toepassingsriglyne.
- Moenie spuit wanneer bye aktief is nie: Spuit vroegoggend of laatmiddag/aand wanneer bye nie aktief is nie.
- Vermy gevaarlike mengsels: Wees bewus van die risiko’s van produk-kombinasies.
- Verbeter kommunikasie: Openlike gesprekke tussen gewasboere en byeboere is noodsaaklik. Beplande bespuitings moet vooraf gekommunikeer word.
- Bestuur spuittoerusting en praktyke: Kalibrasie, rekordhouding en verantwoordelike gebruik van chemikalieë is noodsaaklik.
- Pas geïntegreerde plaagbestuur (IPM) toe: Verminder afhanklikheid van chemikalieë deur alternatiewe metodes te gebruik waar moontlik.
’n Nuwe beleidsraamwerk in wording
Verdoorn het gesê dat in reaksie op die krisis word daar nou gewerk aan ’n nuwe beleidsraamwerk en standaardbedryfsprosedure (SOP) om byeboere beter te beskerm. Hierdie raamwerk sal fokus op:
- Formele ondersoekprosesse: Duidelike riglyne vir die versameling van monsters (bye, heuning, plante) met ’n forensiese aanslag (“chain of custody”) om bewyse in regsprosesse te versterk.
- Verbeterde samewerking: Strukture om kommunikasie tussen byeboere, produsente en owerhede te fasiliteer.
- Verhoogde wetstoepassing: Voorstelle om meer inspekteurs aan te stel en strawwer boetes vir oortredings in te stel.
- Kontrakbestuur: Aanbevelings dat byeboere en produsente kontraktuele ooreenkomste aangaan wat verantwoordelikhede en prosedures duidelik uiteensit.
- Opleiding en bewusmaking: Programme om produsente op te lei oor byevriendelike praktyke en die risiko’s van chemiese misbruik.
- Monitering en ouditering: Integrasie met standaarde soos GlobalG.A.P. en SIZA om byebeskerming deel van ouditprosesse te maak.
Daar word ook oorweeg om bye as ’n beskermde hulpbron te klassifiseer, wat groter regsbeskerming en aanspreeklikheid vir oortreders kan meebring.
Samewerking
Verdoorn het voorts gesê dat hy glo die meeste produsente nie doelbewus bye wil benadeel nie. Tog wys die huidige situasie dat onkunde, swak praktyke en gebrekkige toesig groot skade veroorsaak. Sonder bye stort die bestuiwingstelsel ineen – en daarmee saam ’n groot deel van die landbou-ekonomie.
“Die oplossing lê in samewerking, opvoeding en verantwoordelike optrede. Deur beter praktyke te volg en die nuwe beleidsraamwerk te ondersteun, kan produsente en byeboere saamwerk om hierdie krisis te keer en die toekoms van Suid-Afrika se landbou te beskerm.”




