Skip to content
Trekker

Koolstofboekhouding | Alles wat jy moet weet

This content is Copyright protected. Please see Hortgro’s Information Disclaimer.

Hoekom en hoe moet produsente hulle koolstofemissies en -onttrekkings meet? Deur Anna Mouton.

Finansiële rekords is onontbeerlik vir alle besighede. Akkurate en geloofwaardige syfers vir inkomstes en uitgawes is nodig vir belastingopgawes en om ander regulatoriese vereistes na te kom. Maar hierdie syfers is ook die grondslag vir bestuursbesluite. Dis onmoontlik om winsgewende besighede daarsonder te bedryf.

Op dieselfde manier is koolstofboekhouding vinnig besig om noodsaaklik vir besighede se volhoubaarheid te word. Steen- en kernvrugprodusente en -pakhuise moet hulle emissies en ontrekkings meet en dokumenteer sodat hulle aan plaaslike en internasionale regulasies kan voldoen, hul markaandeel kan beskerm en vergroot, en hul toekoms kan verseker.

Die Suid-Afrikaanse situasie

Die 2015 Parys-verdrag is ’n internasionale ooreenkoms wat deur 195 partye by die 21ste Verenigde Nasie Klimaatsveranderingkongres onderteken is. Die hoofdoel van die ooreenkoms was om aardverwarming te beperk deur emissies te verminder. Aangesien Suid-Afrika die ooreenkoms onderteken het, is ons wetlik verplig om doelwitte vir emissievermindering te stel.

Ons regering het egter al reeds in 2011 ’n Nasionale Klimaatsveranderingreaksiebeleid witskrif produseer, wat planne vir emissiebeperkings en koolstofpryse insluit. Selfs voor dit, in 2009, het Suid-Afrika die Koolstofemissievoertuigbelasting in plek gestel waarvolgens nuwe passasiersvoertuie en dubbelkajuitbakkies met interne verbrandingenjins belas word indien hulle ’n sekere emissievlak oorskry.

’n Bewustheid van klimaatsverandering en die idee van koolstofbelastings is dus nie nuut nie, maar, soos dikwels die geval is, neem dit lank om beleid en planne in wetgewing en regulasies om te sit.

Tans het klimaatsverwante wetgewing min direkte implikasies vir die vrugtebedryf. Dit sal egter verander met die volle implementasie van die Koolstofbelastingwet (Wet 15 van 2019) en die Klimaatsveranderingwet (Wet 22 van 2024).

Koolstofbelasting is soortgelyk aan inkomstebelasting – dit word selfs deur SARS bestuur en ingevorder. Besighede betaal belasting op die CO2 ekwivalent van hul kweekhuisgasemissies (CO2 ekwivalente word in die September 2021 uitgawe van Fresh Quarterly verduidelik) bo ’n sekere drumpelwaarde. Verskillende aktiwiteite het verskillende drumpelwaardes.

Ons is tans nog in die eerste fase van implementasie, waarvan landbou vrygestel is. Die tweede fase is veronderstel om in 2026 in te skop. Alhoewel landbou waarskynlik nog steeds vrygestel sal wees, sal die belasting produsente indirek raak deur brandstof- en energiekostes op te stoot. Daarby is daar geen rede om te verwag dat landbou vir ewig vrystelling sal geniet nie.

Die Klimaatsveranderingwet het in Maart 2025 in werking getree, maar daar is nog baie wat moet gebeur voordat dit ten volle geïmplementeer is. Sleutelaspekte van hierdie wet is die stel en regulering van sektore se emissiedoelwitte en emissierapportering. Sektore se emissiedoelwitte word nog ontwikkel, maar synde landbou vir ongeveer 11% van Suid-Afrika se emissies verantwoordelik is, is daar min twyfel dat die sektor emissies sal moet verminder.

Anderkant ons grense

Die Suid-Afrikaanse steen- en kernvrugbedryf se grootste druk om emissies te meet en bestuur kom nog steeds vanaf ons markte. Supermarkte en verbruikers, veral in die Verenigde Koninkryk en Europa, vereis al hoe meer dat hulle vrugte eties en volhoubaar geproduseer word, en hulle begin om vrae te vra oor die koolstofvoetspoor van produkte.

Daarby gaan twee stelle Europese regulasies moontlik binnekort implikasies vir die sagtevrugtebedryf hê. Die eerste hiervan is die Koolstofgrensaanpassingsmeganisme (Carbon Border Adjustment Mechanism of CBAM). Die basiese idee van CBAM is om ’n gelyke speelveld vir plaaslike en ingevoerde produkte te skep, aangesien Europese bedrywe aan emissiebelastings en -boetes onderhewig is wat hulle moontlik kan benadeel.

Die vrees is dat sommige Europese bedrywe moontlik kan skuif na ander lande wat nie emissiebelastings en -boetes het nie, wat Europese ekonomiese aktiwiteit sou verlaag asook vordering om klimaatverandering teen te werk, belemmer. Europa rol CBAM al vanaf 2023 uit, maar aanvanklik was dit slegs op sement, yster, staal, aluminium, kunsmis en elektrisiteit van toepassing.

Landbouinvoere is tans vrygestel, maar daar is versoeke om dit teen 2030 in te sluit. Nie-Europese lande, insluitend die Verenigde Koninkryk en Kanada, is ook besig om CBAM-regulasies te ontwikkel. Daar is heelwat onsekerheid oor die direkte koste-implikasies van CBAM. Wat wel seker is, is dat CBAM nog ’n rede is waarom produsente en pakhuise hulle koolstofemissies moet meet en aanteken.

Die Europese Unie werk ook aan die inbruikneming van Omgewingvoetspooretikette vir produkte. Hierdie etikette sou soortgelyk wees aan die etikette wat voedingswaardes lys, maar in stede van kilojoules en bestanddele sou die Omgewingvoetspooretikette verskillende omgewingsimpakte insluit.

Voorbeelde van impakte wat vir die etikette oorweeg word, sluit klimaatsverandering, osoonuitdunning, menslike toksisiteit, omgewingsbesoedeling, en watergebruik in. Hierdie inligting moet deur middel van ’n lewensiklusevalusie (life cycle assessment/LCA) bekom word.

Twee maniere van meet

Gegewe die veelvuldige redes om emissies te meet, is die volgende vraag: hoe? Daar is twee primêre benaderings tot koolstofvoetsporing: korporatief en produk.

Korporatiewe koolstofvoetsporing fokus op die emissies van ’n besigheid soos ’n plaas of pakhuis oor ’n gegewe tydperk, gewoonlik ’n jaar. Dit neem tipies die besigheid se direkte emissies (byvoorbeeld brandstofverbruik deur trekkers en vurkhysers), indirekte emissies vanaf elektrisiteit, en indirekte emissies in die waardeketting (byvoorbeeld vanaf die produksie van kunsmis of verpakking) in ag.

Rapportering vir regulatoriese doeleindes soos koolstofbelastings of sektoremissies gebruik gewoonlik korporatiewe koolstofvoetsporing. Korporatiewe koolstofvoetsporing is ook die grondslag vir die stel en meet van wetenskap-gebaseerde teikens, en verskaf inligting vir omgewings-, maatskaplike en bestuursverslagdoening.

Produkkoolstofvoetsporing kyk in detail na al die emissies wat met ’n eenheid van ’n produk, byvoorbeeld ’n kilogram appels of pruime, gepaard gaan. Dit word deur ’n lewensiklusevalusie bepaal.

’n Lewensiklusevalusie vir vrugte sou alle emissies vanaf boordvestiging en -bestuur, naoeshantering en -stoor, logistiek, verskeping, en bemarking insluit. Byvoorbeeld, indien appels in kartonne op houtpallette verpak word, sal die emissies van bosbou en papiermeule deel van die lewensiklusevalusie vorm.

Soos reeds genoem, is lewensiklusevalusies nie tot koolstofemissies beperk nie, maar sluit ook ander omgewingsimpakte, byvoorbeeld watergebruik en biodiversiteitverlies, in. Waar produkkoolstofvoetsporing nodig is om CBAM te navigeer, is die volle lewensiklusevalusie nodig om inligting vir Omgewingvoetspooretikette te verskaf.

Alhoewel dit nodig is om korporatiewe en produkvoetspore te meet om reguleerders en markte tevrede te hou, is hierdie syfers ook onontbeerlik vir enige besigheid wat praktyke wil optimaliseer, vermorsing wil verminder, winsgewendheid wil verbeter, en die wêreld waarin dit funksioneer wil beskerm.

In die verlede kon besighede met slegs finansiële boekhouding klaarkom omdat hulpbronne soos kool en water goedkoop was, en diegene wat koolstofemissies vrygelaat het, het selde die ware prys daarvan betaal. Maar as besighede beplan om in die toekoms nog hier te wees, sal hulle hul koolstofboekhouding in orde moet kry.

Confronting Climate Change

Die Suid-Afrikaanse vrugte- en wynbedrywe het saamgespan om die Confronting Climate Change inisiatief in 2008 te begin. Met finansiële ondersteuning van verskeie rolspelers, insluitende die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het die omgewingskonsultasiemaatskappy BlueNorth ’n koolstofberekeningsplatform ontwikkel en geïmplementeer. Lees meer hieroor in die September 2021 uitgawe van Fresh Quarterly of besoek die Confronting Climate Change webwerf.

Back To Top
error: Content is protected !!