
Goeie buurmanskap in ’n klein wêreld
Die evolusie van die regulatoriese omgewing word gedryf deur nouer bande tussen mense. Deur Anna Mouton.
Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf word al gereguleer sedert daar ’n Suid-Afrika is: ons parlement het reeds in 1910, dieselfde jaar as wat die Unie van die Suid-Afrikaanse Kolonies gevestig is, wetgewing aangeneem om vruguitvoere te reguleer.
Hierdie was die eerste wet in die wêreld wat daarop gemik was om die kwaliteit van uitvoervrugte te verseker. Daai tyd was die Verenigde Koninkryk ons grootste mark, maar Suid-Afrika het ook vrugte na verskeie Europese lande gestuur. Die Wet op Vruguitvoere het vanaf 1914 die inspeksie van uitvoervrugte verpligtend gemaak.
Soos wat ons bedryf gegroei het, het die regulasies rondom vrugkwaliteit toegeneem. PPECB is in 1925 en die Sagtevrugteraad in 1939 gestig, en vanaf 1966 is alle steen- en kernvrugte onder die Cape-handelsnaam uitgevoer. Die hoofrede vir hierdie vroeë regulasies was om te verseker dat slegs topgehalte produkte uitgevoer word en sodoende die reputasie van Suid-Afrikaanse vrugte te beskerm.
Vandag betwyfel niemand die waarde van minimum produkstandaarde nie. Dis voor die hand liggend dat verbruikers slegs sal aanhou verbruik indien hulle ’n positiewe eetervaring het. Maar supermarkte stel ook hulle eie standaarde, met hoë vereistes vir byvoorbeeld die intensiteit en omvang van rooi kleur in tweekleurige appels.
Alhoewel dit moeilik is om deurlopend hoë Klas 1-uitpakke te behaal, is dit absoluut noodsaaklik vir ons produsente om in besigheid te bly. Noodsaaklik – maar nie voldoende nie. “As jy slegs aan die basiese kwaliteitvereistes voldoen, is jou bemarkinggeleenthede baie beperk,” sê Mariette Kotzé, Algemene Bestuurder van Bedryfsondersteuningsdienste by Hortgro. “Jy sal nie Suid-Afrikaanse of oorsese supermarkte kan voorsien nie.”
Direkte risiko’s
Vanaf die aanvanklike fokus op kwaliteit was die volgende regulatoriese stap die afdek van twee risiko’s wat direk met die vrugte verband hou: chemiese residu’s en fitosanitêre plae. Die wêreldwye verspreiding van sekere siektes en plae het lande meer bewus gemaak van die biosekuriteitsrisiko’s gekoppel aan internasionale handel.
“Byna al ons markte is nou spesiale markte,” sê Kotzé. “Dit beteken dat die stelsel om vir daardie markte te kwalifiseer het addisionele vereistes. Die produsent moet op PhytClean registreer, boordinspeksies ondergaan, praktyke soos lokvalle en paringsontwrigting implementeer, en rekords hou.”
Die stelsel-gebaseerde benadering tot fitosanitêre risiko’s plaas ’n administratiewe en finansiële las op produsente, maar die alternatief is naoesbehandeling. Tradisionele naoesberokingsmiddels soos metielbromied is nie meer aanvaarbaar vir baie markte nie, wat ons met die opsie van kouesterilisasie laat.
Soos Kotzé egter uitwys, kan nie alle vrugte kouesterilisasie hanteer nie, en ons het ook nie voldoende koelkamers vir die kouesterilisasie van al die vrugte wat tans onder die stelsel-gebaseerde benadering uitgevoer word nie. “Ons risiko-gebaseerde benadering is effektief, maar nie volmaak nie,” sê sy. “Ons moet uiters waaksaam wees.”
Ongelukkig wil invoerlande geen peste en plae hê nie, maar supermarkte wil geen plaagdoders hê nie. Alhoewel regerings die veilige maksimum residuvlakke op vrugte bepaal, sal supermarkte dikwels hulle eie standaarde stel om hulself van hulle kompetisie te differensieer. Hierdie privaatstandaarde mag sekere aktiewe bestanddele verbied, op residuvlakke onder die wetlike vereistes aandring, en die aantal residu’s op vrugte beperk.
In die korttermyn belemmer privaatstandaarde die beheer van siektes en peste, die bestuur van weerstand en die behoud van naoeskwaliteit. In die langtermyn beïnvloed privaatstandaarde regerings, wat tot al hoe strenger regulasies lei.
Van produk tot produksie
Benewens die risiko’s wat direk met die vrugte verband hou, is daar indirekte risiko’s geassosieer met vrugteproduksie. Suid-Afrikaanse steen- en kernvrugboorde beslaan meer as 50 000 hektaar, en die bedryf skep die ekwivalent van bykans 65 000 direkte werksgeleenthede (Hortgro 2024 Key Deciduous Fruit Statistics).
Gegewe die vrugtebedryf se grootte en sterk bande aan die omgewing, is dit ter verwagte dat verskeie maatskaplike en omgewingsregulasies op produsente van toepassing is. “Ten minste 12 wette word in ons omgewingstandaard omvat,” sê Retha Louw, hoofuitvoerendebeampte van SIZA. Hulle sosiale standaard vervat ’n addisionele agt wette asook verwysings na die Suid-Afrikaanse grondwet.
SIZA is gebore nadat Suid-Afrikaanse arbeidspraktyke op plase en in pakhuise onder die internasionale loep gekom het. Die organisasie is aanvanklik deur Fruit SA bestuur, maar SIZA is nou onafhanklik en hul derdeparty oudits word deur meer as 400 oorsese kopers erken.
“SIZA se derdeparty oudits is op nasionale wetgewing gegrond,” sê Werner van Dyk, hoofbedryfsbeampte by SIZA. “Maar as gevolg van ons reputasie en statistieke oor die verbeterings wat gedurende die laaste dekade deur verskaffers in Suid-Afrika gemaak is, aanvaar baie invoerders en supermarkte die SIZA program, want dit demonstreer dat produsente die plaaslike wetgewing implementeer.”
Lone, voordele en diensvoorwaardes vorm een van die agt beginsels van SIZA se sosiale standaard. Volgens ’n onlangse SIZA moniterings- en evaluasieverslag het lone in die Suid-Afrikaanse landbousektor oor die afgelope 16 jaar aansienlik gestyg, en baie besighede betaal meer as die minimumloon.
Hierdie toenames dra by tot groter ekonomiese stabiliteit en sosiale ontwikkeling in Suid-Afrika. Sodoende trek die hele land voordeel uit goeie sosiale en omgewingspraktyke op plaasvlak.
Louw glo dat markvereistes vir onafhanklike standaarde addisionele motivering vir besighede is om regulasies na te kom, wat dan hulle langtermyn volhoubaarheid en marktoegang beskerm. “Die probleem is dat dit geld kos,” sê sy.
Die wêreldwye gemeenskap
Die toename in standaarde soos SIZA, LEAF en GlobalG.A.P. dui op verbruikers se groter bewustheid van die potensiële sosiale en omgewingsimpakte gekoppel aan hulle inkopies. In reaksie tot aanhoudende media berigte van arbeid wat uitgebuit word, reënwoude wat afgekap word, besoedeling, en soortgelyke probleme het supermarkte op onafhanklike sertifisering begin steun om hulle handelsmerke te beskerm en te differensieer.
Intussen, in 2015, het die lede van die Verenigde Nasies die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte aangeneem, wat deur dié organisasie as ’n gesamentlike plan vir die huidige en toekomstige vrede en welvarendheid van mense en die planeet beskryf word.
Die 17 Ontwikkelingsdoelwitte spreek tot aspekte soos armoede, voedselsekuriteit, gesondheid, opvoeding, werksgeleenthede, ongelykhede, water en sanitasie, energie, ekonomiese aktiwiteit, volhoubaarheid, biodiversiteit en klimaatverandering.
Deelnemende lande het onderneem om die doelwitte teen 2030 te bereik. Alhoewel dit gedeeltelik van regerings sal afhang, is beleid en wetgewing alleen nie genoeg nie – inkoop van besighede is noodsaaklik.
Ofskoon die oorsprong van die konsep van omgewings-, maatskaplike en bestuursverslagdoening (OMB) ’n 2004 korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsinisitief van die Verenigde Nasies is, het OMB ’n raamwerk geword om beleggers en organisasies met die Ontwikkelingsdoelwitte te belyn.
“OMB het die hoofstandaard vir nie-finansiële verslagdoening onder groot internasionale maatskappye geword,” sê Nitasha Baijnath-Pillay, bestuurder van die Hulpbronbestuur- en Volhoubaarheidprogram by Hortgro. “Dit gaan nie net oor etiek nie. OMB demonstreer ook ’n maatskappy se veerkragtigheid en vermoë om langtermynfinansiële groei te verseker.”
Daarby wys OMB vir verbruikers dat ’n maatskappy erns neem met sosiale en omgewingswaardes, terwyl regerings na OMB kyk om te sien of besighede hulle deel doen om die Ontwikkelingsdoelwitte te bereik.
Klimaatsregulasies kom na vore
Praat van 1997, en baie Suid-Afrikaanse vrugteprodusente sal dadelik aan deregulasie dink. In terme van klimaatsverandering was 1997 egter ’n mylpaal op pad na verhoogde regulering. Die Verenigde Nasies se Konvensie op Klimaatsverandering is in 1992 deur 154 lande onderteken. Hierdie ooreenkoms se primêre doel was om klimaatsverandering te verhoed deur die vlakke van atmosferiese kweekhuisgasse te stabiliseer. Dit is in 1997 deur die Kyotoprotokol verleng.
As een van die lande wat hierdie ooreenkomste onderteken het, het Suid-Afrika begin om klimaatsverwante wetgewing en regulasies te ontwikkel. Selfs voor die publikasie van die Nasionale Klimaatsveranderingreaksiebeleid in 2011 het klimaatsverandering in ander dokumente verskyn, byvoorbeeld in die Droogtebestuurplan (2005) en die Nasionale Energiewet (Wet 34 van 2008).
Die mees relevante wetgewing vir die steen- en kernvrugbedrywe is die Koolstofbelastingwet (Wet 15 van 2019) en die Klimaatsveranderingswet (Wet 22 van 2024). Terwyl Suid-Afrika besig was om wette te skryf, was ander lande met hulle eie regulasies doenig, en baie hiervan word nou uitgerol. Die Europese Unie se koolstofgrensaanpassingsmeganisme is een voorbeeld.
Die volle implikasies van nasionale en internasionale klimaatsverwante regulasies vir landbou is nog onbekend, maar dis wel duidelik dat produsente en pakhuise hulle emissies sal moet meet, rapporteer en verminder.
Jou probleem is my probleem
Klimaatsverandering, meer as enige vorige omgewingsbedreiging, het die mensdom bewus gemaak van ons gesamentlike toekoms op ’n klein planeet. Die realiteit is dat ’n besigheidsbesluit in een deel van die wêreld mense duisende kilometers weg kan benadeel.
Neem verpakking. Plastiek het ’n magdom voordele: dis lig, goedkoop, veeldoelig en gerieflik. In die geval van vrugte help plastiekverpakking om vogverlies te voorkom en kwaliteit te behou. Al hierdie positiewe aspekte het plastiekverpakking alomteenwoordig gemaak, met die gevolg dat ons nou daarin verdrink.
Wêreldwye plastiekproduksie het in die laaste 20 jaar verdubbel, en 460 miljoen ton is in 2019 vervaardig. Hiervan eindig ongeveer die helfte op in grondopvulling en 20% word verbrand. Minder as 10% word herwin, en die res word in oop gate verbrand, in watermassas gestort, of besoedel elders die omgewing. Daarby veroorsaak plastiekproduksie naastenby 3% van globale kweekhuisgasemissies.
Verpakking maak om en by ’n derde van wêreldwye plastiekgebruik op. Baie hiervan word deur internasionale handel reg rondom die planeet verskeep, en raak dus die probleem van die invoerland. Ons sagtevrugtebedryf het alreeds gevorder met pogings om plastiek te verminder, byvoorbeeld deur na dunner binnesakke en karton vrughouers oor te skakel. Maar ons sal meer moet doen wanneer die Europese Unie se nuwe regulasies rakende verpakking en plastiekafval vanaf 12 Augustus 2026 algemeen in werking kom.
Die regulasies mik om enkelgebruikplastiek te beperk, verpakking te verminder, spesifieke komponente te minimaliseer en herwinde inhoud te verhoog. Teen 2030 sal alle verpakking in die Europese Unie herwinbaar moet wees.
“Ons is gereed,” sê Baijnath-Pillay. “Behalwe dat ons minder plastiek gebruik, is ons besig met navorsing om alternatiewe te vind en ons kyk na plastiekformulasies wat oorsee herwinbaar is. Dit hang natuurlik daarvan af of die invoerlande ons betyds van hulle spesifikasies gaan inlig.”
Kostes teenoor voordele
Die proliferasie van plaaslike en internasionale standaarde en regulasies het ’n dubbele impak op die sagtevrugtebedryf. Daar is die direkte koste verbonde aan voldoening, en dan is daar die verdere koste van oudits en sertifisering.
“Die regulatoriese omgewing het ongelooflik verander, met meer vereistes en hoër kostes elke jaar,” sê Kotzé wanneer sy terugdink aan die laaste twee dekades. “Ek sien nie dat dit gaan ophou nie, en OMB voeg ’n hele nuwe dimensie by.”
Sy wys op ’n studie oor die koste van voldoening wat Hortgro ’n klompie jare terug gedoen het. Daarvolgens kon ’n klein produsent verwag om ongeveer R300 000 per jaar, en ’n groot produsent met verskeie eenhede, R3 miljoen per jaar te bestee op stelsels, administrasiekostes en ouditfooie.
Soortgelyke werk deur Source Consulting vir Fruit SA het direkte en indirekte kostes, insluitende kapitale uitgawes, verbonde aan voldoening in die sitrusbedryf evalueer. Hulle het jaarlikse kostes van ongeveer R200 000 vir ’n klein plaas (tot 40 hektaar), R570 000 vir ’n medium plaas (40–100 hektaar), en R1.9 miljoen vir ’n groot plaas (meer as 100 hektaar) beraam.
’n Onbedoelde gevolg is dat klein plase besig is om te verdwyn. ’n Onlangse SIZA moniterings- en evaluasieverslag noem ’n tendens vir kleiner plase om deur groter groepe gekoop te word, wat lei tot minder SIZA inskrywers wat dieselfde aantal hektare onder produksie verteenwoordig. “Kleiner produsente is onder geweldige druk,” bevestig Kotzé. “Jy kan net jou effektiwiteit en produktiwiteit soveel verbeter, en groter produsente kan die kostes van voldoening beter absorbeer en hulle produksiekoste per hektaar makliker bestuur.”
Aan die positiewe kant glo sy dat Suid-Afrikaanse produsente ’n voorsprong het op hulle internasionale kompetisie in terme van implementering van stelsels, dokumentasie van resultate en voldoening aan standaarde.
Van Dyk stem saam. “Suid-Afrikaanse produsente hoef nie bang te wees vir oudits nie. By SIZA het ons ’n byna-perfekte resolusie van nie-nakomings oor die afgelope 10 jaar gesien. Elke regstellende aksie demonstreer die volgehoue verbetering op plase, en die beter toestande vir die mense wat daar werk en woon.”
Soos wat ons planeet warmer, ons mense meer saamgedronge, en ons almal nouer verbonde raak, gaan regulasies en standaarde ongetwyfeld toeneem. Maar die afdwing daarvan kan net soveel bereik. Uiteindelik berus die volhoubaarheid van die sagtevrugtebedryf by die toeweiding van individue. “Die oorgrote meerderheid van ons produsente wil die regte ding doen,” sê Van Dyk. “Suid-Afrikaners het ’n ander mentaliteit. Hulle doen meer as wat hulle hoef te doen.”




