Geleenthede en hoop vir jong boere
Deur Carmé Naudé
Moenie luister na die geraas nie, maar na die musiek.
Dít was die oorhoofse boodskap vanjaar by Agri Wes-Kaap se Jongboer-jaarvergadering. Die oggend van die 22ste Mei het afgeskop met ’n paneelbespreking oor die geleenthede van grondhervorming en transformasie vir jong boere. Phillip Oosthuizen, hoof van navorsing en tegnologie van die Sernick groep, het die klem geplaas op ‘millennials’ se alternatiewe denkwyses. “Jong boere wíl uitdagings hê, en daarom moet bevolkingsgroei gesien word as ’n geleentheid. Ons denkwyse is reg,” sê Oosthuizen. “Daar is klomp geleenthede en saam met tegnologiese vooruitgang sal dit moontlik wees,” het Oosthuizen gesê.
Hy was ook van mening dat die privaatsektor moet dink oor hoe hul transformasie gaan gebruik om besigheidsgeleenthede te skep en besighede te groei. ’n Tekort aan vaste riglyne rondom hierdie kwessie, veroorsaak vrees en onsekerheid, wat eerder gesien moet word as ’n geleentheid. “Sekerheid gaan nie van die staat af kom nie – die landbougemeenskap moet self inisiatief neem. Ons benodig mense met hart en passie,” het Theo Boshoff, hoof van regsintelligensie by Agbiz, gesê.
Pieter Graaff, verlede jaar se Nasionale Boer van die Jaar, het beklemtoon hoe belangrik mense en menseverhoudings op plase is. Die sekuriteit van die mense op sy plaas is vir hom ’n prioriteit. “Die boerdery behoort nie net aan die eienaar nie, dit behoort aan almal op die plaas. Dis nie my boerdery nie – dis óns boerdery.”
Bun Booyens, vorige aanbieder van die televisie-reeks Megaboere, het die jong boere herinner aan die deursettingsvermoë van die landboubedryf. “Die landbou is soepel en taai en ons moet nie onderskat wie en wat hy is nie,” het Booyens gesê. Hy het die boere verseker dat landbou nog altyd uitdagings gehad het en dat landbou keer op keer seevier.
Die middag se tweede paneelbespreking het gekyk na geleenthede vir ’n volhoubare toekoms. Die konsensus was dat die antwoord by tegnologie lê. “Verstaan tegnologiese tendense en volg dit. Daar is baie potensiaal vir die gebruik van tegnologie in ons land,” het Arie van Ravenswaay, assistant-direkteur van innovasie, tegnologie en ontwerp by Elsenburg, gesê.
Dit is egter steeds belangrik om ’n balans te handhaaf tussen meganisering en mense, en om in ag te neem watter impak jou besluit op die omgewing en die mense rondom jou het. “Volhoubaarheid is iets wat voordurend verander,” het JP van den Berg, Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar 2018, gesê. Daneel Rossouw, streeksbestuurder van Nedbank Landbou, het verder die boere verseker dat hul ’n beter risiko-profiel kan saamstel deur tegnologie te verwelkom in hul boerdery.
HORTGRO is trots op Fourie Zulch van De Vlei in Ceres en Ian Cunningham van Fine Farms in Elgin, wat twee van die finaliste was.
Die Agri Wes-Kaap Jongboer van die Jaar is Johan van der Schyff, van JJ van der Schyff & Seuns boerdery. Al hierdie uitmuntende jong boere was eensgesind dat positiwiteit van sleutelbelang is. “Positiwiteit is van kernbelang. Ons moet geloof hê,” het Van der Schyff gesê. “Ons moet in ag neem wat daar buite gebeur, maar durf nie toelaat dat dit ons daaglikse besluite beïnvloed nie. Gryp elke geleentheid aan, leer by die ouer generasie en wees oopkop vir die toekoms.”