
Hortgro se navorsing en tegnologie trek internasionale aandag
Deur Elise-Marie Steenkamp
SOMERSET-WES – Meer as 500 afgevaardigdes het onlangs by die Lord Charles Hotel saamgetrek vir twee toonaangewende landbougeleenthede: die Hortgro Research Showcase en die Hortgro Naoes-simposium. Dié byeenkomste, wat elke tweede jaar aangebied word, het vanjaar ook internasionale belangstelling gelok.
Die Research Showcase bied aan produsente en ander bedryfsrolspelers ’n oorsig van die navorsing wat deur Hortgro – die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryfsorganisasie – befonds word. Dit is ook ’n platform vir navorsers en nagraadse studente om hul werk en kundigheid aan die bedryf bekend te stel. Die Research Showcase wys dat Hortgro gefokus is op die oplos van bedryfsuitdagings in gewasproduksie- en gewasbeskerming en skep die geleentheid om met ons produsente en ander belanghebbendes te skakel om huidige netwerke te versterk en nuwe samewerkingsgeleenthede te ondersoek.
Intussen het die Naoes-simposium die kollig op tegnologiese vooruitgang en navorsing geplaas wat die hele waardeketting van vrugte beïnvloed – van boom tot boord.
’n Hoogtepunt van die simposium was die demonstrasie van gevorderde tegnologieë, oorspronklik uit die mediese veld, wat nou aangewend word om die mikroprosesse binne vrugte te verstaan. Dit sluit in hoe gasse binne-in vrugte beweeg – kennis wat in die toekoms gebruik kan word om pasgemaakte naoesoplossings per kultivar te ontwikkel en voedselvermorsing te verminder.
’n Ander belangrike saak wat bespreek is, is die verlies van kritieke na-oes swamdoders. Indien alternatiewe produkte nie betyds ontwikkel word nie, kan dit tot wye verrottingsprobleme lei. Die oplossing lê deels daarin om terug te keer na basiese verrottingsbestuur – insluitend die vermindering van inokulum in die boord en pakhuis.
Bedryfspesialiste het ook hul insigte gedeel oor die doeltreffende skedulering van besproeiingswater – ’n waardevolle en beperkte hulpbron – ten einde optimale vruggroei en naoes kwaliteit te verseker.
Daar is ook vooruitgang gerapporteer in die akkurate bepaling van oesrypheid, en gevolglik opbergingspotensiaal, wat verliese in die naoes ketting aansienlik kan verminder. Internasionale kundiges het verder waardevolle kennis en ervaring gedeel oor hoe naoes defekte deur gepaste boordpratkyke reeds in de vooroesfase bestuur kan word.
Volgens André Smit, uittredende voorsitter van Hortgro Stone, belê die bedryf heelwat geld in navorsing, maar is dit steeds onvoldoende. “Ons sien ’n positiewe groei in al die steenvrugkommoditeite – iets wat net deur volgehoue navorsing moontlik is. Daarmee saam moet ons nuwe markte oopaak, maar ons word ook gekonfronteer met fitosanitêre uitdagings wat slegs deur wetenskaplike insigte opgelos kan word,” het hy gesê.
Onderskrif: Van die sprekers by die Hortgro Naoes-simposium 2025. Van links, prof. Wiehann Steyn (Hortgro Science), dr. Pieter Verboven (Universiteit van Leuven, België), Bart Dequeker (doktorsgraad-kandidaat Universiteit van Leuven, België), dr. Alex Tsige (Universiteit Stellenbosch), prof. Chris Watkins (Cornell Universiteit, VSA) en dr. Elke Crouch (Universiteit Stellenbosch).




