Skip to content
Hortgro Powerhouse

Die seisoen wat die kernvrugbedryf nodig gehad het

Anna Mouton het met ‘n paar tegniese bedryfskenners gepraat oor die afgelope kernvrugseisoen. Dit lyk asof produsente se vertroue groei na aanleiding van goeie vrugvolumes en -kwaliteit tesame met sterk markaanvraag.

“Ek dink met ’n gemiddelde appelboer gaan dit nou goed,” sê Hendrik Pohl, tegniese raadgewer by Holistic Horticulture. “Afhangende van met wie jy praat, kry jy ’n gemengde sein oor tonne per hektaar maar vrugkwaliteit vir meeste variëteite was baie goed, en Klas 1-uitpakke was beter as verlede seisoen.”

Beide Jacques Möhr, bestuurder van produsentedienste by Fruitways, en Adriaan Theron, naoes tegniese bestuurder by Ceres Fruit Growers, berig goeie oeste. “Dit was ons tweede-grootste oes tot op hede,” sê Theron. “Vrugkleur was goed en dit lyk nie asof kwaliteit ’n probleem is nie.”

Die Langkloof het ’n 5%–10% kleiner oes as gewoonlik gehad maar met beter kleur en kwaliteit as verlede jaar. Kosie Zondagh, mede-eienaar en pakhuisbestuurder by Matt Zondagh Landgoed, sê hulle eie oesvolume was bogemiddeld met uitstekende uitpakke.

“Ek dink die vrugtebedryf is hierdie jaar in ’n goeie plek,” sê Zondagh. “Pryse is goed en die logistiek loop mooi. Dit was ’n jaar wat almal nodig gehad het. Dis net jammer dat dit nie ’n groter oes was nie.”

Bekommernis oor ligte set

Weerstoestande het tot ’n relatiewe ligte vrugset in meeste areas gelei. Keith Bradley, algemene bestuurder van Fruitways Agri Services, sê winter in die EGVV het warm begin en toe oorgegaan na ’n koue lente.

“Mense was bekommerd oor die vrugset, spesifiek vir Cripps Pink,” onthou hy. “Hulle is altyd bekommerd oor Galas. En ons spot dat Fuji in die nag blom, want jy sien nooit die blomme nie.”

Pohl sê die blomseisoen in die Koue Bokkeveld was kort. Set was gevolglik ligter maar daar was nietemin genoeg vrugte. Hy en Bradley vermoed dat sommige produsente dalk effens te konserwatief uitgedun het.

“Die ouens wat oordeelkundig uitgedun het, het ’n goeie oes gehad,” sê Pohl. “En ’n set wat nie te swaar is nie en betyds uitgedun is kon aanduiding gegee het tot die beter vrugkwaliteit aan die einde van die dag.”

’n Paar koue oggende tydens blom was waarskynlik gedeeltelik verantwoordelik vir die laer volumes in die Langkloof. “Ons het by ons boorde gesien dat daar ’n generasie vrugte weg was,” sê Zondagh. “Ek dink daar was ’n vinnige koue wat deel van die blomtyd gevang het. En ek weet van die ouens het ook slegte weer tydens bestuiwing gehad.”

Somerweer speel saam

Die weer vir meeste van die seisoen was buitengewoon goed met min reën en geen hael nie. “Dis die eerste jaar wat ek kan onthou wat die Kloof deurkom sonder dat iemand haelskade het,” sê Zondagh.

In teenstelling met verlede seisoen was vrugkleur vir meeste appelkultivars goed. Probleemkind Fuji was die uitsondering wat nêrens goed gekleur het nie.

Rypwording van Cripps Pink en Cripps Red het gepaard gegaan met koeler weer wat beter kleurontwikkeling beteken het. “Dit was die eerste keer in ’n bitter lang tyd dat die Pinks met vrystelling reeds goeie kleur gehad het,” sê Theron. “Ander jare begin die vrugte rypword en daar was nog nie koue vir kleurontwikkeling nie.”

Kleurontwikkeling op blospere was egter ’n uitdaging, veral op vroeë kultivars. Roselyn – voorheen bekend as Rosemarie Selection – het nietemin uitstekend gekleur, terwyl Rosemarie in alle areas met kleur gesukkel het. Dit onderstreep net weer die waarde van verbeterde genetika.

Volgens Möhr en Theron was die grootte van sommige blospere ook ietwat teleurstellend, waarskynlik omdat die vrugte nie voldoende uitgedun is nie.

Interne vrugkwaliteit was oorwegend goed. Behalwe vir lentiselprobleme in sekere vatbare kultivars, is daar so ver min naoesdefekte, en markterugvoer is positief. Hopelik gaan hierdie tendens voortduur soos wat vrugte in die komende maande uit opberging kom.

“Daar kan nog baie gebeur,” waarsku Theron. “Gewoonlik as daar verassings uitdop kom dit eers later, wanneer jy die langer termyn BA-kamers oopmaak.”

Nuwe aanplantings presteer

Genetika is tans produsente se beste wapen in die stryd om winsgewendheid, verduidelik Bradley. “Dit is fantasties om plantgroeireguleerders vir groeibeheer en oesmanipulasie te hê maar die groot verskille kom as gevolg van nuwe genetika in beide onderstamme en variëteite.”

Alhoewel meeste produsente nog steeds hoofsaaklik die gevestigde kultivars soos Galas, Cripps Pink en Cripps Red plant, plant hulle nuwe seleksies wat makliker kleur. Bradley kontrasteer byvoorbeeld aangrensende boorde van ouer Cripps Pink seleksies teenoor Lady in Red, ’n nuwer mutasie. Die ouer Cripps Pink-appels ontwikkel feitlik geen rooi kleur aan die binnekant van die boom nie, terwyl Lady in Red in soortgelyke posisies uitvoerkwaliteit is.

Dieselfde geld natuurlik vir pere, soos hierbo genoem vir Roselyn teenoor Rosemarie.

“’n Mens moenie die impak van die laaste tien jaar se beter seleksies op produksies en uitpakke onderskat nie,” sê Pohl. “Daardie boorde begin nou ’n groot komponent van die tonne uitmaak teenoor twee of drie jaar terug.”

Genetika is nie die enigste rede waarom jonger boorde wat hulle volle drag bereik besig is om kernvrugproduksie ’n hupstootjie te gee nie.

“Die laaste paar jaar was daar baie klem op Klas 1-uitpakke. Ek dink daar is baie meer fokus op hoe boorde bestuur word, en op snoei en uitdun, en ons begin nou resultate sien,” sê Pohl. “Maar dis nog steeds skokkend om te hoor dat net 40% van die oes uitgevoer word.”

Vertroue in die toekoms

“Sover is die markte goed en oor die algemeen skuif die vrugte taamlik vinnig,” sê Zondagh. “Ons Royal Gala oes was uitstekend. Die enigste ding waaroor ek hierdie jaar kan kla is dat ons nie meer gehad het nie, want die mark soek nou nog Royal Galas.”

Saam met goeie aanvraag en pryse is daar tot op hede min naoesdefekte. Dit help ook dat logistiek relatief glad verloop het, sê Möhr. “Ons het sover meer gepak en verskeep as verlede seisoen, omdat ons verwag om meer vrugte te ontvang.”

Na die skokke van die Covid-19 pandemie en die inval van Oekraïne lyk dit asof verbruikers uiteindelik weer hul aptyt vir vrugte terugkry.

“In die laaste paar jaar is daar goeie markte wat ontwikkel is en wat gegroei het ten bate van ons almal,” voeg Zondagh by. “Hortgro doen baie werk om dit vir ons moontlik te maak. Ek dink nie mense moet dit ooit vergeet nie.”

Pohl en Bradley sien verdere tekens dat dit goed gaan met die kernvrugbedryf wanneer hulle na die ander kant van die waardeketting kyk.

“’n Goeie maatstaf van ’n vrugtebedryf is hoeveel hulle hervestig,” sê Bradley. “As jy met die kwekerye gesels is van hulle vol bespreek tot 2027 en 2028. Dit beteken produsente herbelê en het weer vertroue in die toekoms.”

Back To Top