
Jong bedryfsleier — Gerrit van der Merwe
Gerrit van der Merwe is die derde generasie vrugteprodusent op die plaas Fonteintjie in die Koue Bokkeveld. Hy het sy B.Sc.Agric. met hortologie en landbou-ekonomie aan Universiteit Stellenbosch voltooi en aangebly vir ’n M.Sc.Agric. onder leiding van Prof. Wiehann Steyn van Hortgro. Sy navorsing het op die gebruik van plukplatforms gefokus.
Vanaf 2014 is hy terug op Fonteintjie waar hy saam met sy pa boer. Hulle het twee produksie-eenhede in die Koue Bokkeveld met ongeveer 170 hektaar sagtevrugte, hoofsaaklik appels en pere, asook skape en beeste. Daarby het Ceres Fonteintjie Boerdery aandeelhouding in ’n kwekery en ’n pakhuis. Anna Mouton het gaan kuier.
Q. Wat het jou M.Sc. ons oor plukplatforms en meganisasie geleer?
A. Die projek het begin as gevolg van die druk om arbeid meer produktief te gebruik. Die idee was om te evalueer of verskeie meganiese platforms onder Suid-Afrikaanse toestandedie trapleer in die boord kan vervang.
Die proewe het op daardie stadium gewys dat daar plek is vir ’n relatief eenvoudige en bekostigbare platform vir aksies waar min werk verrig word vir elke keer wat die trapleer staan gemaak word. Vir ’n aksie soos oes kon ons egter nie ’n groot verbetering inproduktiwiteit kry nie.
Baie van ons navorsing het gekyk na watter veranderinge aan ons bome en boorde gemaak moet word om platforms beter te akkommodeer. Ons het egter gevind dat die oomblik wat jy dit makliker maak vir die persoon op die platform, maak jy dit ook makliker vir die persoon met ’n trapleer.
Ons het gesien dat meer mensvriendelike boorde met kleiner boomprofiele en beterboordoppervlakke en beter boordoppervlakke konvensionele spanne baie meer effektief maak.
Q. Hoekom is jy opgewonde oor herlewingslandbou?
A. Ek is opgewonde oor die herlewingslandboutegnieke wat in die vrugtebedryf posvat. Ek is bevoorreg om in ’n area en besigheid te wees waar daar ál hoe meer van die praktyke getoets en toegepas word.
Ons eie proewe het begin met ’n soeke na alternatiewe tot chemiese onkruidbeheer omdat ons ál hoe meer weerstand in van die onkruidsoorte gesien het. Ons het verlede seisoen op een van ons plase heeltemal met chemiese onkruidbeheer weggedoen en oorgeslaan na meganiese onkruidbeheer.
Meganiese onkruidbeheer kom met sy eie uitdagings – ons het skoolgeld betaal met skade aan jong bome en besproeiingstelsels. Die terrein in ons boorde noodsaak ons om dit op hierdie stadium met draagbare randsnyers te doen maar ons syfers wys dat ons met die regte operateur die onkruid meganies teen dieselfde koste as chemies beheer.
Van die ander praktyke wat ons toets is ultra-hoëdruk beweiding met hoenders en selfs beeste in die boorde. Dit is ’n manier om onkruid te onderdruk en terselfdertyd grondbiologie en -vrugbaarheid te bevorder.
Op een van die persele kon ons met hoenders binne een seisoen die bankies van ’n tongblaarmonokultuur na ’n diverse plantegroei van grasse en stikstofbinders omskakel. Die uitdaging is egter om hierdie benaderings effektief te skaal en die diere so te bestuur dat dit nie ander vrugteverbouingspraktyke impakteer nie.
Nie almal is opgewonde oor diere in die boord nie, maar dit maak vir my sin om die voordelige biologie in die grond te bevorder deur óf diere fisies in die boord terug te sit ófkompos of ander praktyke te gebruik. Ons uitgangspunt is om dit so geïntegreerd, maklik en goedkoop as moontlik en binne al die reëls en regulasies van die uitvoermark te doen.
Op die oog af lyk dit asof die diversiteit van die natuurlike plantegroei op die bankiestoeneem, grondtekstuur verbeter, erdwurmgetalle vermeerder en fynwortelontwikkeling in baie gevalle verbeter. Dit wil ook voorkom asof die waterverbruik op die bankies met ’n groen deklaag minder as op kaal bankies is.
Ek het egter in my nagraadse navorsing geleer dat dit gevaarlik is om afleidings te maak sonder betroubare, wetenskaplik-nagevorste data – dit is nodig om hierdie waarnemings oor tyd te kwantifiseer. Ons gaan veral moet let op die impak van hierdie praktyke op voedingsbestuur en pes- en plaagbeheer.
Q. Wat het jy uit die Hortgro bedryfleierskapprogram geleer?
A. Ek was bevoorreg om met my studies al reeds baie blootstelling aan Hortgro-strukture te kry. Ek dink die program was baie goed om jong mense in die bedryf die binnewerke van Hortgro beter te laat verstaan.
Ek dink dis belangrik vir ons om te besef dat Hortgro-strukture nie van self bestaan en in stand gehou word nie. Produsente moet inkoop en op die komitees en rade dien en hulle insette daar gee.
Ons wat deel was van die program het goeie blootstelling en ervaring gekry, maar nou het ons’n verantwoordelikheid om ons hand op te steek en bereid te wees om ons tyd te gee. Dit is nie dat een persoon als hoef te doen nie maar dat elkeen vir homself uitklaar wat hy kan bydra om die struktuur tot sy reg te laat kom en goed te laat funksioneer.