Skip to content
3vroue7

DIE VROUE VAN ACHTERVLEI

Drie vroue van Achtervlei, Piket-Bo-Berg, trap diep landbouspore. Vroue wat Nietzsche lees, bekommerd is oor gemeenskapstrauma, die omgewing, wat somme in hul drome maak en nuwe produkte ontwikkel wat supermarkte laat toustaan. Elise-Marie Steenkamp het gaan inloer.

Deidré Eigelaar: Die vrugtebedryf gaan oor mense

In 1987 wou die jong Deidré Rousseau diplomatieke diens toe, maar voor sy die internasionale wêreld betree, sluit sy by die destydse Landelike Stigting aan en besluit om ’n jaar vir hulle te werk.

Sy beland op Achtervlei waar ’n bekkige visserman-boer, vir haar na ’n skamele drie weke sê: “Jy moet jou nonsens laat staan. Jy bly net hier want ek gaan met jou trou.”

Dit was 34 jaar gelede en almal wat vir Kobus en Deidré Eigelaar ken, sal saamstem dat hulle ’n gedugte span is. Kobus, self sê sy boerdery sou nie gewees het waar dit vandag is, sonder Deidré nie. Deidré erken sy was instrumenteel in die ontwikkeling van Achtervlei as besigheid. Kobus is die ekstrovert en  tegnies baie goed. Sy weer, verstaan strategie en geld. Sy beskryf haarself as ’n introvert wie se kop sistemies werk.

“Dis maar net iets wat ek nog altyd gehad het, die vermoë om tendense raak te sien en daarvolgens te antisipeer en te posisioneer. Ek het lank reeds gesien as boere nie self betrokke raak by verpakking en verkoeling nie, gaan jy nie maklik oorleef nie. Destyds was daar groot omwenteling in die vrugtebedryf toe daar oorgegaan is van ’n eenkanaal-bemarkingstelsel na ’n veelkanaal-bemarkingstelsel. Baie ouens was nie voorbereid vir hierdie verandering nie. Dit was chaos en baie moes die bedryf verlaat.”

Sy sê dinge was soms maar moeilik. “Ons was lank in oorlewings-modus. Dis eers hier vanaf 2010, toe dinge begin draai en ons vir die eerste keer kon begin asemhaal het.” Deidré het tans dieselfde gevoel oor die bedryf as in die laat negentigs. “Die vrugtebedryf is tans weer in ’n uitskutfase. As jy nie jou voetwerk doen en kwessies vooruit oorweeg nie, kan jy verloor.”

Een aspek van Landbou wat Deidré baie goed verstaan, is dat dit in wese ’n mens-gerigte bedryf is. “Ons verkoop nie net vrugte nie, ons werk met mense binne ’n omgewing met ernstige sosio-maatskaplike kwessies. En glo my, aanvanklik was dit ’n verdrietige verhaal hier, maar vandag het ons as plaasgemeenskap dit herskryf na ’n hoopvolle verhaal.”

Sy is ontsettend trots op alles wat op Achtervlei vermag is. “Ons leef as ’n gemeenskap saam. Ons huise is bymekaar. Dit is ’n lekker atmosfeer. Dit het egter nie oornag gebeur nie. Dit is belangrik om ’n omgewing te skep waar mense kan word wat hul kan wees. Die sisteem moet so wees dat mense hulself kan en wil help. In Suid-Afrika is die abnormale lankal genormaliseer. Trauma raak kultuur en kultuur kan gesondmaak of doodmaak. Ons het ’n plig om ons kultuur te herskep, om gesond te maak. En dit verg toewyding om prosesse in plek te stel om te wys hoe lyk ’n normale samelewing. Die herontwerp van burgerlike samelewing.”

Vir Deidré gaan dit oor klein goedjies soos hoe maak jy jou kind groot, wat gebeur aan jou etenstafel. Sy meen daar word verkeerdelik gedink dat geld alles kan regmaak. “Daar is soveel opleiding en opvoeding wat nodig is voordat geld volhoubaar ’n verskil maak. Op die plaas was daar byvoorbeeld vroeër ’n hulpeloosheid en ons moes met alles help. Vandag weet ek nie eens as iemand se kind oor die naweek siek word nie, want ons mense is selfstandig. In die vrugtebedryf dink mens produksie draai net om vrugte, maar die mensgedeelte van die bedryf, dit is elke dag se besigheid.”

Daar is ’n gesegde waaraan Deidré glo: “Jy kan ’n goeie plaas sleg boer met slegte mense en jy kan ’n slegte plaas goed boer met goeie mense.”

Deidré is tans by ’n gemeenskapsinisiatief betrokke wat deur die Piket-Bo-Berg Inwonersvereniging gedryf word. “Die doel is om die gevoel van oorweldiging wat gemeenskappe beet het, te verander deur ’n raamwerk waar gemeenskappe die toekoms as `n werkwoord benader. Die toekoms moet beter word, nie slegter nie.” Hoewel die projek nog in sy kinderskoene is, is sy opgewonde.

“Niemand in Suid-Afrika moet voel hier is nie plek vir hulle nie. En ons moet almal saamwerk om ons omgewing, ons gemeenskap op volhoubare maniere te ontwikkel en groei.”

Jam Span Stap

Die FruitLips familie.

Liebre Jacobs: Kwaliteit en reputasie

Liebre Jacobs het pas 22 geword en was van plan om “op die bote te gaan werk om geld te maak” toe haar pa haar bel en vra of sy die konfytfabriek op die plaas wil oorneem.

“Dit was een van daardie oomblikke wat die wêreld stilstaan en jy besef wat jy nou besluit gaan redelik dramatiese gevolge hê,” onthou sy. Uiteindelik was dit ’n maklike besluit. Want sien, sy is ’n Eigelaar in murg en been. En Achtervlei op Piket-Bo-Berg haar huis.

Die fabriek, feitlik bankkrot, is op ’n stuk grond wat oorspronklik deel was van Achtervlei se titelakte. Dit was duidelik dat hulle hard sou moes werk om dit lewensvatbaar te kry. Boonop het een die vorige direkteure geweier om die ontbinding van die besigheid te teken. Haar naam was Elouise Josephs. “Ek en my ma het Elouise gaan sien en vir haar ’n aanbod gemaak om as vennoot by FruitLips aan te sluit,” onthou Liebre. “Sy het geteken.”

Dit was amper tien jaar gelede. Vandag het FruitLips gegroei tot ’n boetiek besigheid wat buitengewone konfyte en souse vir Woolworths vervaardig. Sowat 70% van hul produkte gaan eksklusief aan Woolies, sowat 25% gaan aan Woolies-verskaffers en die res aan kleiner besighede. Die begin dae by FruitLips was uitdagend. As deel van haar studies moes sy ’n besigheidsplan skryf. Dié het sy inderhaas aangepas vir FruitLips.

“Ek het elke oggend vier uur opgestaan en vir my pa in die pakstoor gehelp. Hier teen middagete het ek oorgeskuif na die fabriek toe.”

Aanvanklik het Liebre en Elouise lekker vasgesit maar vandag is hulle soos susters. “Ons moes saam baklei om kontrakte te behou, terwyl my ma, Deidré, as derde vennoot raad gegee en haar oog op die boeke gehou het.”

Sowat sewe jaar gelede kry hul ’n oproep om Woolworths by hul hoofkantoor te gaan sien. “Ons was baie benoud en het gedink hulle gaan ons kontrak opsê. Elouise se geloof is sterker as myne. Daargekom vra hulle vir 12 nuwe produklyne vir funky konfyte. Ons het ’n jaar en ‘n half gehad om die produkte te ontwikkel en te begin produseer.

“Dit was omtrent ‘n geskarrel,” onthou Liebre. “Gelukkig het Elouise ’n buitengewone talent met produkontwikkeling. Sy sal kruie en speserye saam met vrugte gebruik waaraan niemand anders kan dink nie, en dan werk dit. Sy is baie uitsoekerig en gebruik net die beste produkte. Wat sy doen, is ’n kuns.”

Vandag is Liebre in beheer van die besigheid, terwyl Elouise baas van die fabriek is, met Deidre wat as stille vennoot steeds betrokke is wanneer groot besluite geneem word. Hoewel hulle vennote is, sien hul mekaar bittermin deur die dag. “Dit werk uitstekend. Ons elkeen weet wat ons moet doen en werk hard om produkte van hoë standaard te lewer,” sê Liebre.

Covid het ook FruitLips, soos meeste ander klein besighede, vir ’n ses geslaan. En kragonderbrekings help ook nie. Maar tydens Covid is daar aangebou en uitgebrei met groot geloof in mekaar en in hul produkte.  En na twee moeilike jare was FruitLips se winste in 2022 op dieselfde vlak as 2019, wat hul beste jaar tot nou toe was. Dis nog te vroeg om te sê wat 2023 gaan oplewer maar hulle is positief. “Ons het veertien produklyne wat konfyt, braaisouse en ander vrugtesouse insluit en daar is boonop die moontlikheid van twee nuwe kliënte…”

Liebre sê pront dat die besigheid nie sonder Elouise sou gewerk het nie. “Ek raak maklik paniekerig en Elouise se kalmte, wysheid en geloof het my geleer elke ding kom op sy regte tyd.” Nog ’n rede vir hulle sukses is dat hulle die mense wat by FruitLips werk baie noukeurig kies. “Ons het nie die grootste fabriek nie, maar by FruitLips is ons soos ’n familie. Ons deel dieselfde waardes en doelwitte. Jy moet lief wees vir wat jy doen dan gaan jou produk ook sommer lekker smaak.”

Dit is belangrik dat hulle werkers gelukkig is. “Met kragonderbrekings byvoorbeeld is ons baie bewus daarvan dat hier mense is wat by die huis moet kom om kos te kook, wasgoed te was. Ons kan nooit die menslike kant van werk ontken nie, want die fabriek is harde werk. Dit voel meestal soos ’n marathon. Ons begin byvoorbeeld al in Januarie aan Krismislyne werk.”

Liebre is baie bly “dat die fabriek haar gevind het”. “Ek was nog baie jonk en moes harde lesse vroeg leer. Een was om haar mentaliteit reg te kry en met haar skouers breed te staan;  anders loop mense oor jou. “Dink en lyk soos ’n Rottweiler maar eintlik is jy maar net ’n Jack Russel.”

Haar besigheidsfilosofie skoei sy op wat sy by haar twee oupas geleer het: “Vat jy aan str*nt dan stink jou hande.” En “Jy het net een naam, pas jou naam op en wees bedag hoe mense oor jou praat.”

“Jou reputasie is al wat jy het en met kwaliteit kry jy net een kans. Vir my gaan besigheid oor beginselvastheid, kwaliteit en reputasie. So kry ek elke jaar by ’n verskaffer vye sonder dat daar ooit ’n formele kontrak is. Sy weet ek sal betaal. Ons vertrou mekaar.”

Toe sy klein was, het haar pa gesê as sy eendag wil plaas toe kom sal sy ’n boer moet trou. “My antwoord was, ek gaan nie ‘n boer trou nie, maar ek gaan met iemand trou wat kan boer.” Sy lag lekker. Die staaltjie het waar geword toe sy met ’n Hollandse voedseltegnikus, Martijn Jacobs, getrou het. “Hy het niks van boerdery geweet nie, maar het vinnig geleer. Vandag boer hy en my broer Johnnie as vennote saam.”

Dis ’n familiebesigheid in die ware sin van die woord. FruitLips koop derde klas vrugte by die plaas en help daarmee om “lelike vrugte mooi te maak en ’n plek te gee” en só produksiepraktyke volhoubaar te bestuur. Die konfytfabriek se vrugteskille gaan weer aan die wurm-kompos projek wat weer gebruik word in produksieprosesse op die plaas. “So help ons mekaar en die omgewing.”

Eigelaar Familie

       Martijn en Liebre Jacobs, Kobus, Deidré en Johnnie Eigelaar.

Elouise Josephs: Geloof, hoop, liefde en konfyt

Elouise Josephs is ’n gebore en getoë Piketberger. Haar paadjie na produksie-bestuurder by FruitLips, konfytfabriek op Achtervlei, was nie sonder opdraande nie.

“Ek het maar soos baie skoolverlaters nie veel opsies gehad nie, en het as seisoenale werker op plase begin gewerk.”

Elouise het gehoor van ’n gemeenskaps-bemagtigingsprojek wat op Piket-Bo-Berg begin sou word en wou betrokke raak. Die idee was om konfyt te kook van die oormaat uitskotvrugte waarvoor daar nie ’n mark was nie. Die Piket-Bo-Berg Forum saam met insette van Deidré Eigelaar en die Kaapse Vroue-Forum het Intaba gestig – in 2001 word dit ’n volwaardige maatskappy met aandeelhouers.

In 2006 is Intaba met sy eerste groot kontrak beloon. Dit was ’n Kersfeesbestelling van Woolworths. Dinge het begin goed lyk vir Intaba en vier permanente produklyne is ontwikkel. Die lyne het twee soorte appelsouse en twee soorte marmelades ingesluit. Die bestellings het begin inrol, maar soos enige klein besigheid het insetkoste, kontantvloei begin kompeteer met aanvraag. “Die bestellings het net groter geraak en Intaba kon dit net nie deurhaak vir die groter kliënte nie.”

Vir Elouise was dit ’n donker tyd. “Na ’n paar jaar se gesukkel het die aandeelhouers tou opgegooi en besluit om die maatskappy te verkoop. Ek kan dit nog goed onthou. Dit was ’n Saterdagoggend toe die aandeelhouers van Intaba met hulle stembriefies die besluit geneem het. Ek was stukkend. My laaste stukkie hoop om iets beter te doen vir my gemeenskap was aan flarde. Ek kon nie ophou huil nie. Ek wou nie teken nie.”

Maar almal wat Elouise ken, sal getuig van haar onwrikbare geloof. “Ek het bly glo dat God ’n ander deur vir my gaan oopmaak.”

Toe Kobus en Deidré die fabriek koop en hulle vir Elouise die aanbod maak om as vennoot in die nuwe besigheid aan te bly, was haar gebede beantwoord. “Ek het my aandele gebruik om in te koop, omdat ek nie die kapitaal gehad het om te belê nie. Ek wou niks anders doen nie, want ek het ’n liefde ontwikkel vir die kook van konfyt.”

Op daardie staduim was sy die enigste persoon met praktiese ondervinding van hoe om konfyte te maak asook hoe die interne stelsel van Woolworths werk. “Ek het die produksie oorgeneem. Deidré het finansiële bestuurder geword en sou ook vir my en Liebre mentor. Liebre was verantwoordelik vir bemarking en algemene bestuur. En so is FruitLips gebore.”

In 2016 het Woolworths hul genader om 12 produklyne te ontwikkel. Party was moeiliker as ander. En in die vroeë dae het sy en Liebre maar lekker vasgesit.

Jam4

 Fruitlips se wenspan kook! 

“Met launch day van al die lyne, toe weet ek dat ek en Libi mekaar gevind het en dat ons mekaar aanvul. Ons is ’n wenspan. Sy tel my op waar ek swak is en ek vir haar. Party dae gaan dit moelik, maar vir die beste en tot voordeel van die maatskappy is ons ’n mean team.”

Elouise meen haar sterkpunt is haar God-gegewe talent om smake en geure te ontwikkel. “Dit is harde werk en ek doen baie navorsing voor ek besluit om te begin kook. Mens moet seker maak dat die geure met mekaar praat.” Die produkontwikkeling word ook deurentyd verfyn voordat ’n resep die groenlig kry.

Liebre, Martijn, Deidre en Oom Kobus is gewoonlik die proefkonyne voor daar ’n finale besluit geneem word en ’n nuwe produk aan ’n kliënt gestuur word. Dikwels vra kliënte ook vir produkte met ’n sekere tema en dan moet Elouise bontstaan om idees te genereer.

Maar dit is die lekkerste deel van haar werk – die uitdink van innoverende produkte. “Om ’n ou tradisionele resep te vat, hom so ’n kinkel te gee, en siedaar het jy ‘n moderne produk. Dit is juis vir my ’n lekker uitdaging as ’n kliënt iets vreemds soek. Ek is gek oor uitdagings.”

Elouise skryf haar sukses toe aan die feit dat sy lief is vir haar werk. “As jy hou van wat jy doen, dan is dit maklik. Dan val alles sommer in plek. Wat wel soms uitdagend is, is die invoer van roumaterial. Soos die regte soort glaspotjies en deksels. Ons is ’n lekker span en vat enige uitdaging aan. Nie eens Eskom is ’n uitdaging nie; ons werk innoverend tussen die kragonderbrekings.”

Haar besigheidsadvies is om altyd net jou beste te lewer en hard te werk. “Vind die regte vennote en vertrou mekaar. Wees eerlik want dit is ’n eienskap wat maar ontbreek in die besigheidswêreld. En natuurlik, geniet wat jy doen.”

Hooffoto: Elouise Josephs, Liebre Jacobs en Deidré Eigelaar.

Alle foto’s verskaf deur FruitLips.

Back To Top