
Geleenthede, maar ook groot uitdagings vir droëvrugtebedryf
Deur Elise-Marie Steenkamp
Die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse droëvrugtebedryf word geteister deur talle uitdagings, maar elke probleem is oorkombaar deur noukeurig huiswerk te doen en besigheidsrats te bly.
Altesaam 60 bedryfsverteenwoordigers en produsente het vroeg in September buite Rawsonville byeengekom vir die jaarlikse droëvrugte bedryfsinligtingsdag. Suid-Afrika tel onder die wêreld se tien voorste droëvrugte-produserende lande en is die grootste in die Suidelike Halfrond. Die markwaarde beloop sowat R3 miljard wanneer droogdruiwe ingesluit word.
Produsente moet seker maak dat hulle weet hoeveel dit hul kos om vrugte te droog, het Ben Kotzé voorsitter van Hortgro Dried Tree Fruit (HDTF) gesê. Dit, nadat Hortgro se Landbou-ekonoom, Nina Viljoen, syfers van opnames gewys het wat op ’n dramatiese afname in produksie tonne van gedroogde vrugte oor die afgelope twee jaar dui.
“Produsente moet kostes ken en verstaan. Die afname in produksie volumes is kommerwekkend. Boere moet met mekaar gesels en idees uitruil, die volhoubaarheid van die bedryf is op die spel,” het Kotzé gemaan. Volgens Viljoen moet produsente noukeurig boekhou van produkte se uitpakke, kwaliteit, gradering en standaarde. “Die bedryf het strawwe kompetisie vir verbruikersaandag plaaslik en internasionaal.”
Vanuit ’n markoogpunt bly die verlies aan chemiese middels en ook die gebruik van swaweldioksied as preserveermiddel ’n tameletjie vir die bedryf. Nico Koch van Pepsico het gesê die druk om organiese droëvrugte te produseer neem toe, maar dat supermarkte en verbruikers nie noodwendig ’n premie daarvoor wil betaal nie. “Alle verbruikers, wêreldwyd wil minder chemie op hulle produkte sien. Dit beteken ons moet minder spuit en alternatiewe soek.”
Volgens Handri Conradie van Koelfontein Estate kom die probleem met swawel al lank aan. “Dit is met uitsondering wat produsente vrugte sonder swawel suksesvol kan droog. Ons het nog nie ’n alternatief nie, maar die handel, owerhede en verbruikers stel die dwarslat al hoër.”
Daar sal hard gesoek moet word na iets om swawel te vervang, meen Daniël Conradie van Dried Fruit Direct. “Swawel word gesien as die verbruiker se vyand. Indien ons nie iets doen nie, gaan ons markaandeel verloor en gaan chemie-vrye produkte ons plek op die winkelrakke vat.”
Karien Bezuidenhout, bestuurder van HDTF, sê die bedryf het heelwat navorsing oor alternatiewe vir die gebruik van swawel gedoen. “Die probleem is dat swawel verskeie funksies vervul. En die alternatiewe spreek elk net een of twee van die funksies aan. Dit maak dat die alternatiewe droogproses so duur is dat Jan Alleman nooit die produk sal koop nie.”
Koch het verder daarop gewys dat die verbruik van tradisionele droëvrugte wêreldwyd afneem. “Ek bly egter positief, want droëvrugte bly ’n gesonde snoephappie en ons kan die gesondheidsbrander ry. Healthy snacking neem wêreldwyd toe. Ons het ’n geleentheid en kan met innoverende produkte geld maak.”
Volgens Koch duur dit twee tot drie jaar om ’n nuwe produk op die mark te kry en daar is kompetisie van ander gesondheidsprodukte. “Maar ons kan suksesvol in hierdie marksegment speel. Buiten die gesondheidsaspek, het droëvrugte unieke eienskappe soos ’n lang rakleeftyd en is dit ’n veelsydige produk in die kombuis – alles kwaliteite wat tot verbruikers spreek.”
Koch het voorts gesê Suid-Afrikaanse droëvrugte produkte kan ’n premie vra maar dan is kwaliteit ononderhandelbaar. “Gehalte moet konsekwent dieselfde bly en ons moet sorg dat die produkte deurlopend beskikbaar is. Die Suid-Afrikaanse droëvrugtebedryf se produkte het unieke eienskappe wat ons aan verbruikers bied, maar dan moet ons basiese beginsels en goeie praktyk regkry. Ons het baie geleenthede, maar ook baie werk.”
Die Suid-Afrikaanse droëvrugtebedryf is tans in ‘n konsolidasiefase, hoewel die mark stabiel is, meen JP Viljoen van Cape Dried Fruit. “Tot onlangs was daar 28 geregistreerde verpakkers, tans is daar 12. Dit is net produsente wat groei wat in die game bly, die ander ouens val uit.”
Willie Visagie van Eikenhof Boerdery het gesê hy het hoop vir die bedryf. “Die wêreld se bevolking groei en mense moet eet. Daar is ’n plek vir droëvrugte op winkelrakke. Kwaliteit begin op die plaas en het ’n groot impak op die ketting vorentoe. Ons moet eenvoudig kwaliteit en opbrengs verbeter, dan sal dit goedgaan met die bedryf. En beide is moontlik.”
Foto onderskrif: Die Hortgro Dried Tree Fruit produsenteraad vir 2023.