
Jong Leiers Program | Marno van der Westhuizen
Hortgro Science se navorsingsimplementeringsbestuurder het sy roeping in landbou gevind. Anna Mouton het hom nader leer ken.
Marno van der Westhuizen het in die Strand grootgeword en aanvanklik beplan om ingenieurswese by Universiteit Stellenbosch te studeer. Hy vertel egter dat hy in sy eerstejaar binne dae sy fout besef en na landbou oorgeskakel het. Daar is hy – en baie van sy klasmaats – se koppe deur dr. Michael Schmeisser se lesings na hortologie geswaai.
Van der Westhuizen het sy BScAgric in 2017 voltooi en ingeskryf vir ’n MSc onder toesig van proff. Karen Theron en Wiehann Steyn. Hy het die gebruik van plantgroeireguleerders vir stingelverlenging en vermindering van krake in appels nagevors. Hy het in 2020 sy MSc behaal en op 1 Mei as navorsingsimplementeringsbestuurder by Hortgro aangesluit.
Hy was een van die eerste groep deelnemers aan die Hortgro bedryfsleierskapprogram. Die program het ’n oorsese studietoer ingesluit en Van der Westhuizen was in die groep wat Australië en Nieu-Seeland besoek het.
Wat behels jou posisie as navorsingsimplementeringsbestuurder?
My hoofrol is die implementering van ons navorsingsuitsette en tegniese strategieë. Gegewe dat my pos ’n kombinasie is van kommunikasie en navorsing, werk ek ook nou saam met ons kommunikasie departement.
Die klimaatveranderingtoepassing wat ons gebou het, is ’n tipiese voorbeeld. Dit kom direk uit prof. Stephanie Midgley se projek. Dis haar uitsette wat ons omskep het in ’n toeppassing waarin al haar kaarte georganiseer is. Gebruikers kan ingaan om byvoorbeeld te sien hoe die gemiddelde jaarlikse temperatuur, reënval en koue-eenhede in ’n spesifieke area oor 50 jaar teenoor nou gaan verskil.
Ons aanlynbiblioteek is nog ’n voorbeeld. Ons sit met ‘n reusagtige databasis van projekte maar dis baie moeilik om vinnig te kan sien watter navorsing ons al oor ’n spesifieke onderwerp gedoen het. Ons het gedink dat ’n biblioteek ’n manier is om die probleem op te los.
Ons het al meer as 400 projekte, wat ons sedert 2000 befonds het, opgelaai. Die projekte is volgens temas georganiseer en daar is ’n soekfunksie. Enigiemand kan toegang kry tot die projeksamevattings en mense kan die volledige verslae by Hortgro Science aanvra.
Ek is ook betrokke by die reël van geleenthede soos die gewasproduksie forums, Langkloof seminaar, Tegniese Simposium en Research Showcase, en is onder andere verantwoordelik vir die Hortgro Konsepboordprogram, wat ons beplan om vanjaar uit te brei.
Hoe het jy die Hortgro bedryfsleierskapprogram ervaar?
Ek was reeds vir vier jaar by Hortgro toe die program begin het, so ek was bekend met al die strukture en die affiliasies, en het meeste van die mense binne ons bedryfsleierskapprogramgroep geken. So vir my was die groot waarde die netwerk wat ek gebou het.
Ek het baie by die groep geleer want almal kom uit verskillende rolle. Ons het steen- en kernvrugprodusente gehad, maar ook byvoorbeeld bemarkers, navorsers en ’n konsultant. Deur gesprekke, het ek hulle perspektiewe en oogpunte leer verstaan.
Ons het tyd saam spandeer so ons het mekaar goed leer ken. Vorentoe gaan dit my baie help want nou het ek klaar hierdie lekker verhouding met my medegroepslede.
Wat was vir jou die grootste lesse uit julle studietoer na Australië en Nieu-Seeland?
Elke land se bedryf het uitdagings. Almal dink Nieu-Seeland is die ideale produksiearea met min uitdagings – dis glad nie die geval nie. Ons het baie soorgelyke uitdagings, maar hulle het ook ander uitdagings, soos ander plantsiektes, wat ons nie het nie.
Ons het ook ’n groot voordeel in terme van arbeidskoste en -beskikbaarheid. Dis hoekom hulle fokus op meganisasie en meer doeltreffend boer. Ons kan baie by hulle leer oor arbeidsbestuur.
Een van hulle ander hooffokusse is boordsisteme. Ons het baie verskillende opleistelsels op die studietoer gesien. Almal het die hoofmikpunt om meer doeltreffend te wees en meer klas 1-vrugte te produseer maar daar is nog ’n ekonomiese vraag rondom van die nuwe sisteme. Meeste van die produsente wat ons besoek het, beproef nuwe boordsisteme om te kyk wat vir hulle werk.
Water en variasie in grondtoestande is vir Suid-Afrikaanse produsente ’n baie groter uitdaging as vir Nieu-Seelandse produsente.
Suid-Afrikaanse produsente is baie innoverend. Almal kyk hoe hulle produksie en kwaliteit kan verbeter. In daardie opsig het ons nie ’n agterstand by ander lande nie
Twee jaar gelede het was die Internasionale Peersimposium in Suid-Afrika met Stefano Musacchi (van Washington State Universiteit), wat in sy noppies was met van ons peerblokke. En aan die einde van 2024 was daar 80–100 lede van IFTA (International Fruit Tree Association) wat ons boorde besoek het. Vanjaar kom daar groepe van Australië en Italië ons bedryf besoek. Daar’s ’n rede hoekom hulle in Suid-Afrika wil kom toer!
As ’n nuwe toetreder, wat het jou omtrent die sagtevrugtebedryf verbaas?
Die hoeveelheid geleenthede in die bedryf het my verbaas. As mens op skool is, dink jy landbou is boer maar as jy in die bedryf begin werk, besef jy daar is baie tipe werke wat jy kan doen.
Dit was lekker om in ’n gevestigde bedryf in te stap. Daar is baie mense kundiges en ervaring by wie jy vinnig kan leer. Dit het my ook opgeval hoe heg die bedryf is – ek het dit met die leierskapgroep ook gesien. En die mense is baie aangenaam. Dit is intimiderend, veral as jy jonk is, om nuut in ’n tegniese of navorsingskapasiteit in begin, maar ons bedryfsmense laat jou vinnig welkom voel.
Dis hoekom ek bly is dat ek opgeëindig het waar ek het.