Skip to content

Kindersorgsentrum ’n groot aanwins vir Tulbagh-plaasgemeenskap

In Tulbagh hoef landbouwerkers nie tydens werksure oor hul kroos se veiligheid te wonder nie.

Dáárvoor sorg die D’Agen Kindersorgsentrum reeds 26 jaar.

Die kindersorgsentrum is in 1991 deur die Tulbagh Plaaswerknemers-trust gestig, en word steeds dié trust bedryf.

Produsente in die omgewing het in die 1980’s besef dat hul werknemers hul jong kinders saambring plaas toe tydens werksure en vandaar ’n plan beraam om dié probleem op te los.

Volgens ’n 2012 verslag uitgereik deur die kindersorgsentrum het produsente aanskou hoe “jong kinders op warm somersdae in die wingerde se skadu slaap terwyl hul ouers werk”. Daar moes ’n menslike oplossing vorendag kom waar vroeë kinder-ontwikkeling aangespreek word, sowel as die ouers se behoefte om sorgeloos te werk.

DSC_0606

D’Agen het sedert hul kinderskoene ’n onmeetbare rol in die Tulbagh gemeenskap vertolk.

Drisa du Toit, wat in 1992 as die sentrum se bestuurder aangesluit het, vertel hoe D’Agen oor die jare gegroei het.

“Aanvanklik moes ons slegs ses plase se kinders bedien, maar deesdae het ons 178 leerders van 26 plase. Ons kry gereeld versoeke van ouers om hul kinders by ons te plaas, maar ongelukkig is ons by volle kapasiteit.”

D’Agen se leerders strek van ouderdomme ses maande tot ses jaar en kry al die vaardighede wat hulle sal nodig hê vir laerskool.

“Ons voorskoolse sentrum poog om die leerders nie net die deur die dag besig te hou nie, maar ook opvoedkundig te stimuleer. Die kinders kry ook elke dag ontbyt, middagete en versnapperinge wat uit gesonde kosse bestaan. Ons weet hierdie maaltye is sommige van die kinders se enigste bord kos deur die dag, dus wil ons seker maak dat hulle die nodige voedingstowwe kry.”

DSC_0638

Du Toit sê die kinders se emosionele welstand is ook ’n groot prioriteit.

“Een keer elke maand, sorg ons dat die leerders se welstand deur sosiale dienste evalueer word. Plaaslewe is nie altyd maklik nie, en gaan gepaard met kwessies soos alkohol- en dwelmmisbruik onder andere. Ons wil seker dat maak dat hierdie kinders ook die kans kry om normaal en sorgeloos groot te word.”

Volgens Du Toit is daar ook bevind dat landbouwerkers wie kinders deur die dag by die kindersorgsentrum is, meer produktief is.

“Oor die jare was die terugvoer baie positief. Produsente glo hul werknemers is meer produktief omdat hulle nie deur die dag oor hul kinders se welstand hoef te bekommer nie. Hulle weet hul kinders leer, en is veilig en gevoed.”

Om meer te leer of betrokke te raak by D’Agen Kindersorgsentrum, kontak Drisa du Toit by 023 230 0802.

Back To Top