Skip to content
Bokkie Kritzinger 2

Langkloof geruk deur fratsongeluk

Die nuwe jaar het sleg begin in die Joubertina-distrik van die Langkloof met die afsterwe van Bokkie Kritzinger (49) van Tulpieskraal.

Kritzinger, een van die leierboere in die streek, was vroeg in Januarie op pad na ‘n watergat op sy plaas, toe hy met ‘n vierwielmotorfiets verongeluk het. Sy dogter, Evette (21), was saam met hom op die motorfiets. Sy het ligte beserings opgedoen.

Kritzinger het met appels, pere, perskes, appelkose en pruime geboer. Hy was bekend as ‘n ‘mense-mens’ wat altyd gehelp het wanneer hy kon. Hy was voorsitter van die Langkloof-Landbougenootskap en bestuurslid van die Langkloof-vrugtevereniging. Kritizinger was bekend vir die enorme bydrae wat hy tot landbou in die streek gelewer het en was ook passievol oor transformasie.

Toe die geleentheid homself in 2006 voordoen om die lewenskwaliteit van die dertig permanente landbouwerkers wat op Tulpieskraal woon te verbeter, het Kritzinger dit aangegryp en die werkers ondersteun om 25 hektaar van die plaas te koop. Die Tulpieskraal Werkers Trust is gestig wat honderd persent deur die werkers besit word. (Lees meer oor hierdie inisiatief hier: https://www.jobsfundinitiatives.co.za/projects/tulpieskraal-workers-trust/)

Kritzinger word oorleef deur sy vrou, Annelie, sy dogter, sy seun Andre (23), sy ouers, en sy twee susters.

Lees ‘n huldeblyk aan Bokkie Kritzinger deur Johan Kotze hier: huldeblyk-vir-bokkie

Tulpieskraal
Bokkie Kritzinger en Booi van Rooyen van Tulpieskraal en Tulpieskraal Werkers Trust onderskeidelik.
Back To Top