
’n Mylpaal vir Landbou-opleiding: Die sukses van die Tulbagh QCTO-loodsprojek
Deur Jacob Coetzee
In September 2022 is ’n baanbrekersprojek vir landbou-opleiding in Tulbagh van stapel gestuur, toe die eerste beroepsgerigte kwalifikasie spesifiek vir die vrugte bedryf geloods is.
Dié projek, die Boord-en-Wingerdvoorman kwalifikasie (Orchard and Vineyard Foreman/SAQA ID 110667) is by die Kwaliteitsraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) geregistreer en deur die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum aangebied met befondsing en ondersteuning van Fruit SA, AgriSETA en Hortgro.
Hierdie inisiatief was gemik om die oorgang van die bestaande “legacy” kwalifikasie na beroepskwalifikasie in die sagtevrugtebedryf. Die fokus was om die doeltreffendheid en haalbaarheid van die nuwe kwalifikasie op die ontwikkeling van werksvaardighede binne die plaasgemeenskap te ondersoek. Dit het ‘n waardevolle opleidingsgeleentheid vir landbouwerkers geskep, wat nie net bydra tot die verbetering van plaasarbeidsvaardighede nie, maar ook die volhoubaarheid en groei van die bedryf ondersteun.
Met deeglike beplanning en samewerking is Tulbagh geïdentifiseer as die area waar die opleiding sal plaasvind. Plaaslike produsente het aktief deelgeneem deur hul werknemers aan te moedig om in te skryf. Uiteindelik het nege toegewyde individue van ses verskillende plase die uitdaging aanvaar en as deel van die loodsprojek geregistreer. Hulle eerste klas het op Woensdag, 28 September 2022 begin en die projek is in April 2024 voltooi.
Innoverende Opleidingsmodel
Die kursus het bestaan uit drie hoofkomponente:
- Teorie – Klasgebaseerde lesings en e-leer.
- Praktiese opleiding – Vaardigheidsontwikkeling op die plaas.
- Werksplek-ervaring – Toepassing van kennis in ‘n geakkrediteerde werksomgewing.
Die program het oor 18-maande gestrek met klasse elke Donderdag. Die aanvanklike kontakklasse is later aangepas na ’n kombinasie van kontak- en e-leer, wat uitdagings ingehou het, maar mettertyd verbeter het soos studente die tegnologie bemeester het. Plaaslike produsente het studente ondersteun deur toegang tot skootrekenaars en data te verskaf sodat hulle aanlyn kon leer. Studente het tydens hulle opleiding verskeie landbou-organisasies soos die Kaapse Mark, SAPO en Agriplas, besoek. Een van die grootste uitdagings was die ontwikkeling van toepaslike leermateriaal aangesien geen bestaande bronne vir hierdie kwalifikasie beskikbaar was nie. Die opleidingspan van KBOS het die studiemateriaal van nuuts af saamgestel, gebaseer op die QCTO-raamwerk, en verseker dat dit studente optimaal voorberei vir beide die teoretiese en praktiese aspekte van hul beroep.
Studente tydens ‘n uitstappie aan die Kaapse Mark
Gemeenskap staan saam
Die sukses van hierdie projek was moontlik danksy die samewerking tussen verskeie rolspelers.
- Fruit SA, AgriSETA en Hortgro het die projek finansieel ondersteun.
- Preekstoel Boerdery het die gebruik van hul gemeenskapsaal vir klasse gratis aangebied .
- Koue Bokkeveld Opleidingsentrum het die projek met ywer en toewyding aangepak en verseker dat die opleiding van hoë gehalte was.
- Landboukenners en konsultante wat diensverskaffers is op die betrokke plase, het gehelp om deur lesings aan te bied en studente te evalueer.
- Ywerige en toegewyde studente het die volle 18 maande hard gewerk om hulle kwalifikasie te voltooi.
Samewerking met Bedryfsliggame en Sertifisering
Sterk verhoudingsbou met plaaslike produsente en samewerking met AgriSETA was belangrik om ‘n suksesvolle kwalifikasie te verseker. AgriSETA het elke deelnemende plaas besoek om te verseker dat hulle geakkrediteerde werksplekke vir die praktiese opleiding van studente is.
Aangesien dit ‘n nasionale kwalifikasie is sal die studente die EISA (External Integrated Summative Assessment) moet aflê om hul kwalifikasie te verwerf. Die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum het akkreditasie as ‘n assesseringsentrum ontvang, wat beteken dat studente hul finale eksamen daar kan aflê. Weens vertragings met die opstel van die EISA op nasionale vlak, kon die studente nog nie hul amptelike EISA-eksamen aflê nie. ‘n Interne assessering is gereël, wat al nege studente geslaag het. Op 11 Desember 2024 het hulle met trots hul sertifikate van Koue Bokkeveld Opleidingsentrum en Hortgro ontvang vir die suksesvolle voltooing van die kursus.
’n Belangrike Stap vir die Toekoms
Hierdie projek was ’n eerste vir die Tulbagh-landbougemeenskap en het duidelik getoon hoe opleiding ‘n positiewe impak op landbouwerkers se loopbane kan hê. Die produsente was entoesiasties oor die resultate en sien uit na verdere investering in die ontwikkeling van hul werknemers. Die nege studente is vasberade om hul amptelike EISA-eksamen te voltooi sodra dit goedgekeur word deur QCTO.
’n Opregte dankie van Koue Bokkeveld Opleidingsentrum en almal wat bygedra het tot hierdie projek se sukses. Julle harde werk en toewyding het nie net ‘n verskil gemaak in die lewens van die studente nie, maar ook ‘n steeds groeiende kultuur van lewenslange leer in die landbousektor gevestig.
Die groep studente by hulle sertifikaat seremonie op 11 Desember
Stanislaus Agri se studente, Stefanus Jordaan (links) en Marius Ceyster (regs), saam met hulle bestuurder, Chris Mouton