Nette is ononderhandelbaar
Deur Elise-Marie Steenkamp
Foto’s en video Carmé Naudé
Vroeg in Maart vanjaar het ‘n windstorm Grabouw en omgewing bykans 24 uur laat steier. Met winde wat plek-plek tot 90 km/uur gehaal het, was swaargelaaide vrugteboorde kwesbaar. Dramatiese foto’s in die media van honderde appels en pere op die grond het die publiek aangegryp. Gelukkig dui aanvanklike berekeninge dat net ‘n paar plase en boorde erg deurgeloop het. Oor die hele streek gesien, was die skade minimaal. Tog is die relatief beperkte skade min troos vir die enkele produsente wat wel skade gehad het. Dit is veral hartseer indien vrugte net voor oestyd deur die weer verinneweer word.
Dekker Esterhuyse van Applethwaite (Capespan Farms), net buite Grabouw, het die dag na die windstorm ‘n dramaties-verskillende prentjie gesien by boorde wat onder nette was, teenoor oop boorde. Sy ‘boere-berekening’ het daarop gedui dat hulle gemiddeld tussen een en twee persent vrugte onder nette verloor het, teenoor gemiddel ag persent in oop boorde.
By Esterhuyse is daar geen twyfel nie, as jy in Grabouw-omgewing appels en pere wil verbou, is nette noodsaaklik. Esterhuyse het ses jaar gelede by Capespan aangesluit, en het gou besef dis baie moeiliker om in dié streek appels en pere te verbou as in die Witzenberg. As gevolg van die windfaktor.
“Die weersomstandighede hier is baie meer uitdagend as by Ceres. Hier kry jy alles, hael, wind, ysreën en sonbrand.” Weereens was die strategie om meer klas 1 vrugte in die mark te kry. “Ons belangrikste doelwit is om kwaliteit en nie kwantiteit nie, te produseer.” Daarbenewens wou Esterhuys vasstel hoe mens kwaliteit vrugte vinniger kan produseer, bome vinniger in produksie kry, en beter uitpakke kan verseker.
Hy het begin met drapeer-nette (drape nets) “omdat jou produksie-insetkoste relatief laag is onder die tipe net”. “Dit is bekostigbaar en relatief maklik om op te sit en af te haal, en as jy gelukkig is kan jy so sewe jaar uit hulle kry. Ongelukkig is die lewensduur beperk.”
Tans het hulle altesaam 50 hektaar onder drapeer-nette. In een Granny Smith- boord het Esterhuyse gesien hoe uitpakke opgespring het nadat nette opgesit is, van 48% na 68%. Esterhuyse verkies egter ‘n vaste net konstruksie en glo dit is die pad vorentoe. “Ek twyfel nie. Vir hierdie streek is nette amper noodsaaklik. Ons kry net te veel wind. ‘n Goeie vaste konstruksie kan jou maklik 15 jaar gee. En binne ‘n kort tydjie gaan jy letterlik die vrugte pluk.”
Tans bestuur Esterhuyse 230 hektaar, waarvan 77 hektaar onder nette is. Nette bied dus batebeskerming en risikobestuur.
Esterhuyse vertel van ‘n jong boord wat hy gedink het hy gaan verloor. “Ek het al amper moed opgegee, want die boord staan letterlik in die bek van die wind. Met elke sterk wind het ons die groeipuntjies van die bome verloor. Ons het ‘n vaste struktuur net opgesit en binne ‘n jaar het die bome herstel en die boord het handomkeer verander.”
Boerdery is ‘n senutergende besigheid en vrugteverbouing uitdagend, meen Esterhuyse. “Die insetkoste om met appels en pere te begin boer is hoog. Nou sit jy nog nette op wat ‘n aardige bedraggie kos.”
Esterhuyse meen egter dat om in die toekoms sukses te behaal, nette ononderhandelbaar is. “Kyk, dit hang natuurlik van jou streek en jou plaas af, maar hier by Grabouw sou ek sê Grannies en Goldens, en jou hoë-inkomste kultivars, moet definitief nette kry. So ook boorde wat so geleë is dat hulle klimaatsgewys swaar trek.”
Pad vorentoe
Kyk mens na ‘n appel- en ‘n peerboom, dan het jy gemiddeled ‘n 30 jaar belegging, meen Esterhuys. “Langer as dit, is jy gelukkig. Mens moet vorentoe dink hoe jy vinniger in vol produksie kan kom. ”
Hy glo in innovasie. Hy het sowat agttien maande gelede 0.7 hektaar Granny Smith (onderstam mm109; plantafstand 3.5 meter X 1. 25meter; geplant September 2019) onder hoepelnette aangeplant. “Hoepelnette is ontsettend duur, maar gee uitstekende lugsirkulasie en UV-beskerming. Ons het besluit om eksperimenteel te kyk hoe dit hier sou vaar.”
Die hoepelnette het sy stoutste verwagtinge oortref. “Ek het in die tweede blad reeds meer as vyf ton afgehaal. My projeksiemodelle wys dat, as alles goed gaan, ons teen 2022 reeds 45 ton gaan kry en teen jaar vyf in volle produksie gaan wees, met ‘n geskatte 90 na 100 ton oes. Ons gaan dus ons doelwit behaal om kwaliteit vrugte vinniger te produseer.”
Wat net kleur betref is hulle ook besig om die koring van die kaf te skei. Tans glo Esterhuyse in swart/donker nette vir groen appels en, wit/ligter nette vir blosvariëteite. “Ons het een boord gedeeltelik onder wit en gedeeltelik onder kristalblou nette gesit, dit is nog te vroeg om werklik te sê watter kleur is beter.”
Ten slotte meen Esterhuyse dat elke streek, en elke struk grond sy eie unieke struktuur nette nodig het. “Ek glo jy koop die beste konstruksie wat jy kan bekostig. Wanneer mens nette praat is goedkoop koop, duur koop.”
Die volgende tendense is waargeneem na die windstorm in Applethwaite se boorde:
Kultivar | Net of oop | % vrugte afgewaai | Bins opgetel | Totale ton opgetel | Gemiddeld vrugte per boom |
Forelle | oop | 7.3% | 52 | 22.8 ton | 26 |
GDL | net | 2.3% | 102 | 37.7 ton | 9 |
GRS | net | 2.1% | 16 | 6.24 ton | n/a |
BBN | oop | 7.1% | 56 | 21.8 ton | 26 |
Cripps Red | net | 2.3% | 19 | 7.42 ton | 13 |
Fuji | net | 2.1% | 37 | 14.43 ton | n/a |
Cripps Pink/RSG | oop | 5.26% | 104 | 40.5 ton | 16 |
Rooi appels | oop | 7.8% | 29 | 11.2 ton | 43 |
Kyk na ‘n video van Dekker en die impak van boordnette hier.
Lees meer oor nette in die Fresh Quarterly Issue Eight: https://www.hortgro-science.co.za/fresh-quarterly/