Skip to content
2023 Pieter Du Toit

O.S.H. Reinecke Bedryfsleier Toekenning: Pieter du Toit

Die gesogte O.S.H. Reinecke Bedryfsleier Toekenning gaan vanjaar aan Pieter du Toit, van die Dutoit Groep.

Pieter word allerweë as ’n visionêre en strategiese denker beskou. Iemand wie in staat is om groot besighede suksesvol en winsgewend te ontwikkel. Een van sy sterkste eienskappe is om finansiële kennis toe te pas in ‘n besigheidsomgewing. Benewens sy besigheidskundigheid is Pieter ’n energieke passievolle mens met ’n groot liefde vir die natuur, fotografie, lugballon-vlieg en sport. Pieter is getroud met Deirdre, hulle het drie dogters en agt klein kinders.

Agtergrond

Pieter is van die vierde generasie van die Du Toit familiebesigheid, wat sedert 1893 in Witzenberg boer. Hy matrikuleer in 1973 aan Hoër Jongenskool Paarl en verwerf sy B. Rekeningkunde Graad in 1977 en sy Honneurs in 1978 aan die Universiteit van Stellenbosch.

Hy lê sy klerkskap af by Brink, Roos en Dutoit en slaag gedurende die periode sy Raadseksamens en kwalifiseer as geoktrooieerde rekenmeester. In 1982 sluit hy by die Dutoit Vrugte aan as administratiewe bestuurder en word die volgende jaar bevorder tot Besturende Direkteur vir Dutoit Vrugte. In Augustus 1989 word hy ook aangestel as Besturende Direkteur van Dutoit Groente en vorder mettertyd tot Hoof Uitvoerende Beampte van die Dutoit Groep.

Gedurende sy 42 jaar by Dutoit Groep het hy ’n groot bydrae gemaak in die groei van dié besigheid en sy filiale, Dutoit Agri, Dutoit Invest, Dutoit International en Libland.

Pieter het veral leiding geneem in die besigheid met die vestiging van finansiële stelsels en dissiplines. Hy was ook betrokke by die vestiging van die korporatiewe struktuur en beginsels.

Leierskap

Pieter speel ’n gewigtige rol as direkteur op verskeie landbou entiteite, asook in die sagtevrugtebedryfsorganisasies – waar hy vir ongeveer 10 jaar ‘n SAAPPA-raadslid (SA Appel- en Peer Produsente Vereniging – nou Hortgro Pome) is en van 1994 tot 1996 eers as onder-voorsitter en toe as voorsitter dien.

Hy speel ‘n deurslaggewende rol in die oorgang van die gereguleerde een-kanaal stelsel na die deregulering van die bedryf. Veral die implementering van ‘n stabiele finansiële basis vir die bedryfstrukture, staan uit.

Pieter het ook die jare intens betrokke gebly by bedryfsfunksies en -dienste en senior bedryfspersoneel kon altyd op sy nommer druk om te help om sensitiewe kwessies te help oplos.

Mylpale wat onder Pieter se leierskap plaasgevind het:

  • Die ontwikkeling en vestiging van die Dutoit handelsmerk.
  • Die groei van Dutoit Groep tot ’n toonaangewende agri besigheid in die primêre Landbou, wat binne SA ’n groot rol speel en in die buiteland handel dryf met 42 lande.
  • Die daarstel van verskeie verkoelingsaanlegte by Dutoit en ander maatskappye waar hy as direkteur gedien het.
  • Die modernisering van verpakkingsaanlegte.
  • Die omskakeling van ’n een-kanaal bemarkingstelsel na ’n gederguleerde bedryf.
  • Die vestiging van die korporatiewe struktuur en beginsels.
  • Buiten Dutoit het Pieter ook baie tyd spandeer aan bedryfsake as SAAPA Raadslid en Voorsitter.
  • Pieter het ook op verskeie direksies gedien, onder andere Unifruco, Capespan en op ‘n groot handelsbank se advieskomitee.

Pieter du Toit is ’n waardige ontvanger van die O.S.H. Reinecke Bedryfsleier Toekenning vir 2024.

 

Back To Top