OPLEIDING WERK!
Deur Elise-Marie Steenkamp
Opleiding werk! Met hierdie twee woorde, vat Joy van Biljon haar nalatenskap by die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum (Kbos) saam. Joy wat vir baie sinoniem met Kbos is, het vanjaar as hoof uitgetree.
“Ek glo ons het deur en deur bewys dat opleiding werk,” sê dié Kbos-stigterslid wat twintig jaar gelede die visie gehad het om landbou deur opleiding te verander. “Veral as ek na individue kyk. Hoe hulle as mense gegroei het. Hoe hulle geleer het om verantwoordelikheid te neem en hoe hulle anders na die lewe kyk. Ons het baie bereik.”
Joy het in 1983 by die Landelike Stigting begin werk, daarna as ontwikkelingskonsultant, voordat sy Kbos help stig het. Sy is bekend vir pront praat en alhoewel die Koue Bokkeveld en Ceres-vallei nog altyd progressiewe landboudenkers gehad het, het plase en plaaswerkers in die apartheidsjare heelwat anders daar uitgesien. Daar het die afgelope dekades ‘n groot positiewe verskuiwing plaasgevind. “Destyds met huisbesoeke was plaaswerkers duidelik armlastig. Die behuising was dikwels nie op standaard nie en hulle het skaars die nodige gehad om van te leef. Soms niks nie.”
Kopskuiwe op plaas en bedryfsvlak is verder genoodsaak deur die regulatoriese milieu van GlobalGAP en Siza. Dit is ironies, meen Joy, want al die wetlike verpligtinge wat nagekom moet word, het natuurlik tot heelwat verbeteringe gelei, maar dit kos ook geld en gevolglik is daar minder fondse vir ander opleiding. “Die nakoming van oudits is ten koste van die ontsluiting van die individue se potensiaal.”
Wanneer sy egter vandag huisbesoeke doen, lyk dinge heelwat anders. “Behuising is meestal uitstekend en binne die huise is dikwels elke apparaat waaraan jy kan dink. Die algemene lewensstandaard van die landbouwerkers op plase, het baie verbeter.”
Op bestuursvlak lyk die prentjie ook anders vandag. “Voorheen was bestuurspanne op plase almal wit mans, vandag is dit ‘n mengelmoes van ouderdom en ras. Alhoewel daar nog nie genoeg vrouens is nie!” sê sy en sug. Daar is vrouens, maar net ‘n paar en by verre nie genoeg nie. Ek weet nie hoekom dit so ‘n gesukkel is nie. Die ou argument van fisieke krag geld nie meer nie, sê sy vinnig. “Deesdae gaan landbou oor die bestuur van stelsels en mense. Ek dink dit is ‘n persepsie probleem en dit moet reggestel word.”
Sy lag saggies. Na 20 jaar by Kbos kry sy steeds briewe geadresseer aan mnr. John van Biljon. “Dit is asof mense daarop ingestel is om nie vrouens in landbou te wil raak sien nie. Maar elke plaas is anders. Ek het altyd vir my kollegas gesê, as jy by ‘n plaashek uitry moet jy jou kop afskakel en skoonmaak, voor jy by ‘n ander hek inry.”
Alhoewel daar progressie was, bly plaaswerkers een van die grootste uitdagings vir landbou, meen sy. “In die huidige politiese denkraam bestaan hulle amper nie. Daar is groot fokus op kleinboere en landelike boere, maar nie op die werkers nie.
Wat befondsing betref, meen sy ook, behoort landbouwerkers, veral tydelike werkers, voor in die ry te staan, maar dit gebeur nie. Befondsing vir landbou gaan aan landelike areas en die transformasie van hoë poste soos veeartse en inspekteurs. Die grootste gros mense wat kos in die land produseer, naamlik die nie-permanente landbouwerkers, trek aan die kortste ent.
“Niemand kom op vir nie-permanente of seisoenale werkers nie. Dit beteken daar is geen sosio-finansiële vangnet vir hulle nie. Hulle is weerloos en blootgestel aan alles wat moontlik in landbou kan verkeerd loop, soos klimaatsverandering en nou weer COVID. Dit maak dit baie moeilik vir mense om ‘n loopbaan te bou en vooruit te kom in die lewe.”
Nog ‘n uitdaging meen Joy is dat daar soms ‘n groot gaping is tussen opleidinginstansies en die plaas. “Dikwels weet die plase nie hoe om die opgeleide werker optimaal te benut nie. Ek sien ook dikwels dat die verkeerde studente vir die verkeerde kursusse ingeskryf word.”
Dit is juis waarop sy nou as konsultant wil fokus, want leeglê is nie vir haar nie. Veral om junior bestuurders en nuwelinge op bestuursvlak af te rig (coach) en te mentor. “Die tegniese kennis is daar, maar die selfvertroue en ervaring ontbreek, en sonder die regte ondersteuning faal mense.”
Selfs met die stokkie oorgee na Carmen Roberts, wat self al 19 jaar by Kbos is, meen Joy het hulle vyf jaar gewerk om Carmen gemaklik en vaardig te maak in die pos. “Ek dink altyd mense onderskat die opvolgproses, veral op bestuursvlak. Daar gaan geweldig baie tyd en moeite daarin om iemand 100% gereed te hê vir die uitdaging.”
Joy gaan steeds ‘n paar kursusse by Kbos aanbied en dan wil sy ook navorsing doen oor ‘n paar kwessies wat haar kwel.
Kwessies soos wat die beste praktyke vir behuising van plaaswerkers is en die werwing van arbeid. “Ek dink daar is dinamika’s betrokke by die werwing van mense wat ons nie lekker verstaan nie. Daar is baie werk wat gedoen moet word.”
Een van die hoogtepunte van haar loopbaan was so vyf jaar gelede toe van die streek se plaaskore aan die Suidoosterfees in Kaapstad deelgeneem het. “Ek het die aand saam met my dogter na die massakore gaan kyk. Dit was vir my so ‘n emosionele oomblik. Ons mense het altyd hierdie plaasjapie ingesteldheid gehad, maar daardie aand kon ek ons mense nie herken nie. Hulle was net soos al die ander. Pragtig. Dit was vir my ‘n “Aha” oomblik. Ek het gebars van trots.”
Onderskrif: Carmen Roberts, nuwe hoof van Kbos, by Joyn van Biljon wat vanjaar uitgetree het.
- Kontak vir Joy: joy@kbos.co.za
- Lees ook persverklaring: Koue Bokkeveld Opleidingsentrum kry nuwe hoof. persverklaring-kbos