Skip to content
1 Steffan Julian Remi

Snuitkewernavorser help eie “genetiese biblioteek” vir Suid-Afrikaanse spesies skep

Deur Engela Duvenage

Kleintyd het ‘n boek in Benoni se biblioteek die eerste keer dr. Steffan Hansen se belangstelling in snuitkewers (ook bekend as kalanders) geprikkel. Oor die jare het sy belangstelling in insekte sodanig gegroei dat dié 25-jarige onlangs sy doktorsgraad in Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het – onder meer deur die eerste “genetiese biblioteek” van Suid-Afrikaanse breësnuit-kalanderspesies te help saamstel.

Dié “genetiese biblioteek” (of genetiese databasis) bevat tans die mitokondriale geenvolgordebepalings van 41 Suid-Afrikaanse spesies. Inligting hieroor het reeds in die Biodiversity Data Journal verskyn. Die versameling DNS-kodes is in twee internasionale databasisse, GenBank en BOLD, ingesluit.

Dit is nou makliker vir navorsers en tegniese landboukonsultante om kalanders op ‘n molekulêre vlak die eiers, larwes en papies van verskillende snuitkewerspesies wat hulle in die grond of op gewasse insamel, uit te ken. “Ek’s bevoorreg om navorsing oor snuitkewers te kan doen, want hulle is die grootste dieregroep in die wêreld,” vertel Hansen.

Wêreldwyd is meer as 51 000 spesies reeds geïdentifiseer, en heelwat meer wag nog om beskryf of selfs net nog ontdek te word. Mens sal bes moontlik ‘n kamer vol taksonome vir jare kan besig hou as jy sou probeer om elkeen te klassifiseer,” reken hy.

Suid-Afrikaanse spesies

Hy sê baie Suid-Afrikaanse spesies is sogenaamde “kriptiese spesies” wat selfs onder die mikroskoop dieselfde lyk, maar op molekulêre vlak wesenlike verskille in hul unieke genetiese strepieskode wys. Plaaslik is van die bekendste soorte dalk graankalanders, wat gereeld ongevraagd in koskaste in meel en ander gestoorde voedselsoorte opduik.

Talle snuitkewerspesies word in Suid-Afrika se fynbosryke Kaapse blommeryk gevind. “Oor die jare het tussen 15 en 20 van dié spesies egter weens die uitbreiding van landbougebiede ook begin skuif na die wingerde en vrugtebome wat in fynbosgebiede geplant is,” vertel Hansen.

“Die meeste spesies is eintlik skadeloos, en sal hoogstens klein gaatjies in die blare van vrugtebome kou. Spesies soos die gebande vrugtekalanders (Phlyctinus callosus) kan egter direkte skade aan vrugte aanrig. Die uitheemse Fuller se rooskewer (Naupactus godmanni), wat per abuis vanuit Suid-Amerika ingevoer is, veroorsaak op sy beurt kopsere vir boere as hulle eiers lê in besproeïingstelsels en dié dan blokkeer.”

Omdat hulle soms op vrugtebome se blare voorkom, kan dit gebeur dat sommige snuitkewers ongevraagd én ongewens in verpakte vrugte oorsee verskeep word – iets wat uitvoerders dan grys hare besorg as vrugte afgekeur word. Dit word dus as ‘n fitosanitêre pes beskou en daar is tans navorsing oor hoe om hierdie risiko te verminder.

P1030501 Phlyctinus Callosus Grabouw 18jan2019rsa

So lyk die Suid-Afrikaanse snuitkewerspesie Phlyctinus callosus. Foto: Steffan Hansen

Snuitkewer-ontdekkings

Hansen is dankbaar dat hy praktiese navorsing kan doen wat die landbousektor kan help. “Ek het na skool gekies om plantpatologie en entomologie aan die US se Fakulteit AgriWetenskappe te studeer, omdat ek geweet het die dosente fokus baie prakties op die  positiewe én negatiewe impakte van insekte op die landbousektor,” vertel hy.

Teen sy vierde jaar was dosente in die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie reeds terdeë bewus van sy uitsonderlike voorliefde vir én kennis oor snuitkewers. Daarom is hy op twee versameltogte deur meer ervare insekkundiges genooi. Dié uitstappies het hom van Stellenbosch tot in Knysna geneem. In die proses is vyf nuwe spesies snuitkewers in die groter Phlyctinus callosus-spesiekompleks ontdek. Die meeste van hulle kom op inheemse aster- en madeliefiespesies voor. In 2020 het dr. Hansen se naam reeds vir die eerste keer op ‘n akademiese publikasie gepryk, in ‘n artikel in die European Journal of Taxonomy oor dié nuwe spesies. Hul identifisering is gelei deur ‘n Franse snuitkewerspesialis, dr. Julien Haran.

Hansen wys egter gou daarop dat nuus oor nuwe spesies geensins beteken dat Suid-Afrika skielik oorval word deur ‘n vloed van indringersoorte van oraloor nie. “Danksy nuwe tegnologie kan ons die groot verskeidenheid snuitkewers, wat mens byvoorbeeld in die Kaapse fynbos en verwante fynbosekosisteem kry, op ‘n genetiese vlak identifiseer,” verduidelik hy.

Dis vir hom ‘n voorreg om nog insigte te kan bydra tot die groter snuitkewerprojek wat al jare lank in die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie gedryf word. “Met elke publikasie dra mens nog ‘n ‘baksteen’ tot ons kennis oor hulle by.”

Gebande vrugtekalanders
Vir sy doktorale navorsingswerk het hy spesifiek gefokus op verskillende soorte gebande vrugtekalanders wat onder die nuwe spesies is wat in die 2020-artikel in European Journal of Taxonomy beskryf is.

Hy het gekyk of twee soorte nematodes (of aalwurms) wat natuurlik in Suid-Afrikaanse grond voorkom, Steinernema yirgalemense en Heterorhabditis indica, en die swam Beauveria, dalk gebruik kan word om die vrugtekalanders te beheer. Dié deel van sy studie sluit aan by ‘n groter projek binne die Departement Bewaringsekologie en Entomologie waarin die gebruik van natuurlike vyande soos aalwurms in plaaslike pesbeheer oorweeg word. Hansen het gevind dat die kalanders redelik goed beheer word deur nematodes in die grond vry te stel en dié dan die larwes binnedring.

Tans werk hy as nadoktorale navorser aan die US saam aan pogings om ‘n indringerinsek, die stompkopkewer en sy gepaardgaande fungus, te probeer beheer. In kombinasie veroorsaak hulle reeds heelwat vrektes onder sierbome en vrugtebome in Suid-Afrikaanse huistuine.

Why is this research necessary? “Species identity is essential to implement specific targeted control strategies, for example, some biological control agents may be species/host specific. There is also the aspect of phytosanitary regulations, where the pest’s identity determines which measures have to be employed and the outcome of inspections.” – Dr Minette Karsten, Hortgro Science.

* Dr. Hansen se studieleiers gedurende sy doktorale studies was prof. Pia Addison en prof. Antoinette Malan van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie, en dr. Julien Haran van CIRAD, Montpellier in Frankryk.

Hooffoto onderskrif: Drs. Steffan Hansen,  Julien Haran en Remi Allio, tydens ‘n onlangse kalander-seminaar by die Universiteit van Stellenbosch. (Foto: E Steenkamp)

Back To Top