
Vermeerder Vinnig en Veilig
Vrugtebedryf bring eerste weefselkultuurlaboratorium op die been
Deur Elise-Marie Steenkamp
Andrè Smit en Charmaine Stander het onlangs tydens ‘n produsente-inligtingsdag opwindende nuwe tegnologie, asook die Tissue Culture Facility, bekend gestel.
Hoekom weefselkultuur?
Weefselkultuur is ‘n wêreldwye tegnologiese tendens in die tuinbou. En net soos ander tegnologiese ontwikkelinge, kan Suid-Afrika en die vrugtebedryf nie bekostig om agter te bly nie.
Daarom dat SAPO Trust in 2018 gevra is om ‘n behoeftebepalings-studie te doen. Na vele dinkskrums is die Tissue Culture Facility (TCF) net buite Paarl gebore. Met aandeelhouers wat insluit: Inmaakprodusente-vereniging (IPV), SAPO Trust, Rosyntjies SA, SATI, Hortgro Pome en Hortgro Stone. ‘n Hupstoot van R10 miljoen deur die Wes-Kaapse departement van landbou het gehelp om die inisiatief op die been te bring.
Andrè Smit, TCF projekbestuurder, vertel dat weefselkultuur die vegetatiewe vermeerdering van identiese genetiese materiaal in ‘n steriele laboratorium-opset is.
“Hiermee kan virus- en siektevrye plantmateriaal gekweek word. Diè plante het uniforme eienskappe en is meer lewenskragtig.”
Volgens Smit is weefselkultuurtegnologie ‘n koste-effektiewe produksietegniek deurdat plantmateriaal van gesogte nuwe klonale onderstamme vinnig en veilig vermeerder kan word.
“Ons beoog om hierdie klonale onderstamme aan kommersiële kwekerye te voorsien,” sê Smit. “Nog ‘n voordeel is dat produksie ongeag die seisoen of weersomstandighede, kan voortgaan.”
“Tekorte of oorskotte in onderstamme en kultivars kan baie makliker gehanteer word na gelang van omstandighede,” verduidelik hy.
TCF sal ook aan kwarantynprotokols voldoen wat die invoer en uitvoer van in vitro plantmateriaal betref.
Weefselkultuurproses
Volgens Charmaine Stander, weefselkultuurbestuurder, is daar verskeie faktore wat ‘n rol speel in die weefselkultuurproses, soos byvoorbeeld ‘n steriele omgewing, ‘n gesonde moederplant, en die nodige DNA-analise.
Die plantmateriaal word gekweek in ‘n bekende nutrient samestelling (medium) wat spesifiek is vir elke gewas en kloon. Nadat die plantmateriaal gevestig is, word die materiaal vermeerder; wat herhaalde verdeling van plantmateriaal en oordrag na vars medium behels.
Watter en hoeveel gewasse?
Die TCF se operasionele funksionering is ook effe deur die Covid-19 pandemie in die wiele gery, maar volgens Stander hoop hulle om in jaar een protokol-optimisering in plek te stel. Dit behels vasstelling van die optimale hantering (vermeerdering en uitplanting) vir die verskillende gewasse. Terwyl die mikpunt is om teen jaar 10 ongeveer 3 miljoen plante te lewer.
Die TCF beplan om die volgende gewasse se weefselkultuur te kweek, om in bedryfsbehoeftes te voldoen:
- Klonale appel-onderstamme – Geneva, M9 ens.
- Steenvrugte – Atlas, Viking, Titan, GF677
- Kersies – Maxima, Gisela
- Wingerd – 143B, RS-9, GRN1-3
Vir meer inligting kontak Andrè of Charmaine by: info@tissue-culture.co.za