WAARNATOE MET NETTE?
Om te net of nie te net nie? Dit is die groot vraag waarmee baie produsente stoei, maar sommige kenners meen in die toekoms gaan produsente nie ‘n keuse hê nie.
Volgens Petru du Plessis, landboutegniese adviseur van die Boland, het nette gekom om te bly, “veral in die Kaap van Storms waar die wind en weer meermale boorde verniel”.
“Natuurlik bly die kwessie van nette ’n interessante leerskool met meer vrae as antwoorde,” sê hy. Heelwat nektariens is onder nette geoes met uitstekende uitpakpersentasies. Pruime wat onder nette geproduseer is toon belowende resultate met Klas 1 uitpakke deurgaans bo 90%.
“Hoewel voorlopige aanduidings is dat die aanvraag na nette gaan groei is daar vrae waarmee produsente stoei. Vrae soos wat is die beste digtheid van nette, hoe werk bestuiwing, en of platdak beter is as oop-en-toe gedrapeerde nette. Om hierdie vrae te antwoord het ons navorsing nodig oor die kwaliteit van nette, UV-persentasie teenoor skadupersentasie, asook die effek wat nette op vrugkleur, vrugdruk (Brix), opeenvolgende blomknopkwaliteit en lootlengtes het,” sê hy. “Dit lyk asof die kleur van nette minder belangrik is as die digtheid van nette. Uitpakke van pruime onder nette is fenominaal goed en 75 standaardkartonne per krat is nie ongewoon nie.”
Volgens Pierre Rossouw van Stems gebruik verskeie van hulle produsente nette – sommige alreeds 20 jaar lank. Hoewel produksie met of sonder nette, feitlik dieselfde is, het hulle wel gesien dat pruime in Robertson se uitpakke ‘n rapsie hoër was. Daar is ook ander voordele, soos beskerming teen ysreën, minder sonbrand en letsels. In geheel gesien is daar verbeterde uitpakke onder net, maar nie noodwendig beter kleur of suikers nie.”