
Goosens van Jagerskraal en wenner-nektariens
Die Goosens beskou Tifany as een van die beste plaaslike nektariens weens dié kultivar se uitnemende vruggrootte. Deur Anna Mouton.
Hortgro Science het ‘n Demonstrasieboordprogram vir steenvrugte geloods om produsente aan bestaande innoverende en suksesvolle boorde bekend te stel waaruit almal kan leer. Boorde word deur FruData, ‘n landbou-ekonomie-maatskappy, geïdentifiseer, en het die Tifany-boorde by Goosen Boerdery as een van die toppresteerders uitgewys. Goosen Boerdery het produksie-eenhede in Prins Alfred Hamlet en Wolseley en is ook ’n aandeelhouer in Denou Boerdery, ’n swartbemagtigingsmaatskappy met produksie-eenhede in Prins Alfred Hamlet en Rawsonville.
Die neefs Janus en JC Goosen is die sesde generasie op Jagerskraal, die oorspronklike familieplaas in Prins Alfred Hamlet, wat al sedert 1861 deur Goosens geboer word. Janus en JC is beide vernoem na Johannes Cornelis Goosen, hulle voorvader wat Jagerskraal gekoop en Prins Alfred Hamlet uitgelê het. Die plaas Ou Stasie in Wolseley is 1990 deur hulle oupa, Keppies, en hulle pa’s, Danie en Kleinjan, gekoop.
“Goosen Boerdery besit omtrent 190 hektaar steenvrugte en Denou amper 60 hektaar,” sê Janus. “Ons het ook appels, pere, en groente, so daar word tans so 240 hektaar by Goosen Boerdery besproei en 160 hektaar by Denou.”
Top in sy tydgleuf
“Ons het die eerste Buffat kultivars in 2011 op Ou Stasie geplant, wat ’n vroeë plaas is,” vertel JC. “Toe Tifany in Suid-Afrika beskikbaar geraak het, het ons dit geplant omdat ons ’n goeie verhouding met Buffat het en groot sukses met hulle ander kultivars behaal het.”
Tifany is in 2010 deur PSB Producción Vegetal (die Buffat-familie se kultivaronwikkelingsmaatskappy) gepatenteer. By Goosen Boerdery word dit vanaf week 1 geoes, wat dit een van die vroegste midseisoenkultivars maak.
Volgens die Goosens is vruggrootte die eienskap wat Tifany bo ander kultivars in sy tydgleuf laat uitstaan. Tifany kan heelwat vrugte dra sonder om vruggrootte in te boet, wat uiteindelik tot meer uitvoerkartonne per hektaar lei.
Die gemiddelde opbrengs van die Goosens se vier Tifany-blokke is 40–50 ton per hektaar, met uitvoeruitpakke van 45%–50%.
“Dit klink laag omdat ons niks in die boord uitsoek nie,” verduidelik Janus. “Ons pak self, so ons stuur alles pakstoor toe. As ek sê ons uitpakke is 50%, dan is daai 50% van wat aan die boom is.”
In hulle ervaring het Tifany min defekte. Die grootste probleem is uitskeurstingels wanneer die vrugte té ryp gepluk word maar die Goosens bestuur dit deur teen die korrekte vrugdrukke te oes.
Die totale oppervlakte van Goosen Boerdery se Tifany-boorde op Ou Stasie en Jagerskraal is 9.6 hektaar. Die jongste blok is 0.9 hektaar op Jagerskraal wat in 2016 teen 3.5 x 1.5 meter op SAPO 778 geplant is.
“Dis ’n ou onderstam wat op hierdie plaas werk,” sê JC. “Ons het vlak kleigrond en nat winters, en SAPO 778 kan dit verdra.” Op Ou Stasie, wat sandgronde het, plant die Goosens op Flordaguard, alhoewel JC gevind het dat Flordaguard ook in klei- en berggronde werk.
Gesonde gronde
Jagerskraal kry gemiddeld 800 Infruitec koue-eenhede en oorwegend koue, nat lentes. Die jong Tifany-blok is op baie swaar, diep grond, en die boord het bankies. Volgens JC is aalwurms nie ’n probleem op Jagerskraal nie, maar kan wel in Ou Stasie se sanderige gronde kop uitsteek.
“Ons doen die laaste 8–10 jaar biologiese behandeling op al ons plase,” sê JC. “Ons sit trichoderma met ons besproeiing in die grond, deurlopend van Oktober tot April. Die resultate van ons jaarlikse aalwurmmonsters lyk positief, so ons gebruik nie meer chemie vir aalwurmbeheer nie.”
Daarmee saam het Goosen Boerdery in die verlede deklae gebruik, en is nou besig om met dekgewasse te eksperimenteer. Hulle vrugteboorde is onder mikrospuitbesproeiing.
Hulle deklaag is hawer wat in rustende groentelande gesaai is, en dan gesny en gebaal is nadat dit saad gemaak het. Die hawer word teen ongeveer een baal per 4–5 bome op die bankies gepak. Wanneer die sade in die hawer opkom, en die plante weereens saad maak, word die hawer afgesekel.
Sodoende lei die hawerdeklaag na ’n hawerdekgewas, wat mettertyd korter word en uiteindelik uit stoom uit hardloop. Die jong Tifany-blok se hawer is byvoorbeeld al vir vier jaar aan die gang sedert die deklaag aangewend is.
Goosen Boerdery het daarby begin om ’n mengsel van medicks en klawer in Maart en April op die bankies te saai. “Ons kry ook baie natuurlike medicks in die Warm Bokkeveld,” sê JC. “Vandat ons ophou onkruiddoder spuit het, het daar in baie boorde vanself medicks gevestig.”
Hy neem waar dat die ekstra organiese materiaal die grond meer poreus maak en help met waterinfiltrasie. “Veral op moeilike, taai kleigronde, help die hawer dat die bankie nie ’n dorre, klipharde stuk grond raak nie,” sê hy.
Wat betref dekgewasse, het die medicks die voordeel dat dit in die somer terugsterf en ’n beskermende laag op die bankie vorm. Die klawers kan wel ’n bietjie oordonderend raak, so Goosen Boerdery is nog besig om hulle saadmengsel verder te verfyn.
Twee oeste per jaar
“Ons glo aan twee oeste per jaar: ’n vrugteoes en ’n lootoes,” sê JC. “In November 2025, waar die bome meestal al klaar uitgedun en aan die groei is, fokus ons reeds op die oes van 2027.” Indien blokke lyk asof hulle nie genoeg lote gaan hê nie, kry hulle addisionele stikstofbemesting.
In JC se ervaring is genoegsame lote van die gewenste kwaliteit geensins met Tifany gewaarborg nie. “Dis ’n uitdagende boom,” sê hy “Hy gee nie vir jou ’n magdom 30-cm-lang lote nie. Hy gee kort of vet of té min lote. Ons moet baie keer drie vrugte op ’n baie kort loot sit, maar omdat die kultivar dit kan grootmaak, is dit nie ’n probleem nie.”
Goosen Boerdery werk terug van hulle teikenvrugopbrengs af om die aantal draposisies en snoeiresepte te bepaal. Die oesskatting vir die volgende seisoen gebeur in Februarie of Maart, en die draposisies word dan in Maart en April bestuur deur onnodige en ongewenste takke uit te saag.
“Lighuishouding is vir ons belangrik, so ons werk in spirale, drie-dimensionele bome wat elkeen sy eie spasie het,” sê JC.
In die winter gebeur detailsnoei om die korrekte aantal lote te kry, en in die somer word loofbestuur gedoen om voldoende ligindringing te verseker.
Die oesskatting bepaal ook die uitdunresepte. Hulle berei ’n klompie bome volgens ’n standaardresep voor, tel die aantal vrugte, en kalibreer die resep daarvolgens, voordat die uitdunners in die boord begin werk.
Vruguitdunning word eenmalig gedoen, rofweg 42 dae na volblom, maar die datum wissel na gelang van die seisoen, en hoeveel generasies vrugte aan die boom is.
“Tifany blom vroeg, so ons doen nie blomuitdunning nie,” sê Janus. “Daar is ’n risiko van ryp, veral op Jagerskraal waar ons in September nog koue kry.”
Alhoewel Tifany hom nie altyd soos ander nektarienkultivars gedra nie, dink JC dis gedeeltelik toe te skryf aan die swakker gronde waarop van Goosen Boerdery se boorde staan. “Party jare moet jy innoverend snoei en ander resepte volg om genoeg draers te kry,” sê hy. “Dit hang maar af van die seisoen.”
Nietemin stem Janus en JC saam dat Tifany ’n wenner is. “In my opinie is dit sekerlik een van die beste nektarienkultivars wat in Suid-Afrika beskikbaar is,” sê JC. “Tiffany is definitief in die top drie wat ek al gesien het.”
Hooffoto: Janus (links) en JC Goosen




