
Stoksielalleen, maar met ‘n troefkaart: Hortgro besoek Limpopo se baanbreker-sagtevrugteprodusente
‘n Onlangse besoek aan die Noordelike Produsente Studiegroep dui op ‘n streek ryk aan potensiaal, gekenmerk deur isolasie en gedryf deur ‘n hongerte na kennis.
Saamgestel deur Elise-Marie Steenkamp met bydraes deur Wiehann Steyn, Minette Karsten en Charl Herbst. Foto’s: Alisa Farr
Die Limpopo-steenvrug- en appelverbouingsgebied is anders as enige ander sagtevrugtestreek in Suid-Afrika — die bepalende kenmerk en grootste uitdaging is isolasie van die res van die bedryf.
Soos een vrugteprodusent dit gestel het: “In die Wes-Kaap, as ‘n produsent nie seker is hoe om iets te doen nie, kan hy net oor die heining loer om te sien wat sy buurman maak. In ons area is daar geen buurman (met sagtevrugte) nie.”
Die Limpopo het nie die landboubedryf-ondersteuningsnetwerk vir sagtevrugte wat produsente in die Wes-Kaap, Langkloof of selfs die Vrystaat as vanselfsprekend aanvaar nie. Daar is ook minder sagtevrugte tuinboukundiges, minder nabygeleë proewe, en minder bedryfsgeleenthede. Inligting en kennis — prakties en plaaslik-relevante kennis — is skaars en kosbaar.
Derhalwe het ‘n Hortgrospan onlangs na die noorde gereis vir ‘n seminaar saam met die Noordelike Produsente Studiegroep — en teruggekeer met ‘n diep waardering vir ‘n streek wat op sy eie ritme funksioneer, sy eie uitdagings in die gesig staar, en stilweg ‘n mededingende voordeel in Suid-Afrikaanse sagtevrugteproduksielandskap uitkerf.
Die Hortgro-afvaardiging het bestaan uit Hortgro Science se algemene bestuurder Wiehann Steyn en Hortgro Science-programbestuurders Minette Karsten, Marno van der Westhuizen, en Mariana Jooste, saam met Hortgro Stone-voorsitter Charl Herbst, kommunikasiespanlid Alisa Farr, ARC-nematode-navorser Rinus Knoetze, en tegniese kundiges Gideon van Zyl (ProCrop) en Rudolph Cronjé (DutoitAgri). Die studiegroepvoorsitter wat ook gasheer was, is Gerhard Oosthuizen, wie se pa, Müller Oosthuizen, as die streekverteenwoordiger op die Steenvrugprodusenteraad dien.



Limpopo is in vele opsigte uniek. Gewasbeskerming is ‘n voortdurende stryd. Soos in baie streke, het Limpopo-produsente verlede seisoen gesukkel met dopluis, valskoddlingmot en vrugtevlieg. Hul word ook nie gespaar wanneer dit by uiterste weerstoestande kom nie — soos die onlangse vloede wat onwelkome besoekers, ‘n seekoei in ‘n besproeiingsdam, meegebring het! Om van blouapies, krokodille en slange nie eens te praat nie.
In jare met hoë reënval is verrotting vanweë swamsiektes ’n probleem op appels. In sommige gevalle word produsente gedwing om bestaande boorde met meer bestande kultivars te vervang. Die identifisering van variëteite en onderstamme wat betroubaar presteer onder Limpopo se spesifieke klimaats- en grondtoestande bly een van die streek se dringendste behoeftes.
Vroegheidsvoordeel
Ten spyte van die uitdagings, het Limpopo ‘n unieke troefkaart. Hulle is, met verskeie vrugte, eerste op die mark. Limpopo-produsente oes steenvrugte voor enigiemand in die Wes-Kaap en appels voor die Hoëveldstreke van die Oos-Vrystaat en Mpumalanga. Hierdie vroegheidsfaktor, tesame met groot plaaslike markte in die omgewing en uitstekende grond, gee die streek ‘n mededingende voordeel wat entrepreneurs en produsente toenemend gebruik. Sommige produsente gebruik lugvrag om nektariene na oorsese markte uit te voer en so verdere voordeel te trek uit die aanvraag in die vroeë seisoen.
Die streek sien ook kultivar-innovasie. Van die produsente plant lae-koue-behoefte Louterwater Granny Smith, ‘n variëteit wat beter geskik is vir die area se klimaatsprofiel en meer bestand is teen vooroes verrotting.
Gebaseer op resultate van plaaslike kultivar-evalueringsproewe, oorweeg Gerhard Oosthuizen om ook pere by hul plaas se vrugteaanbod te voeg — ‘n teken van die groei-georiënteerde ingesteldheid wat Limpopo-produsente kenmerk.
Om die streek se behoefte aan plaaslik relevante kultivardata te ondersteun, befonds die bedryf ‘n ProHort-evaluasieterrein op een van die Oosthuizen-plase, wat tussen Modimolle en Vaalwater geleë is. Hier, speel Suzann Oosthuizen ‘n sleutelrol in die insameling van kultivar-evalueringsdata vir Provar — werk wat direk bepaal watter variëteite en onderstamme die meeste belofte vir die streek se produksie toestande inhou.
Wat die Hortgro-span beïndruk het, was nie die logistieke kompleksiteit van boerdery in hierdie streek nie — dit was die houding van die produsente. “Produsente in die Noorde is honger na praktiese, uitvoerbare tegniese inligting wat geskik is vir Noordelike produksietoestande,” het Charl Herbst opgemerk. Daar is duidelike geleenthede om produksiekoste te verlaag deur beter tegniese bestuur en besluitneming, en met die regte kennis kan produksievlakke betekenisvol verbeter word.
Minette Karsten eggo dit: “Wat uitgestaan het, was die produsente se bereidwilligheid om te leer, hul ervarings openlik met die Hortgro Science-span te deel, en die moeilike tegniese vrae te vra wat hulle selde aan eksperte kan stel. Die seminaaraanbiedings — wat gewasbeskerming, kultivarprestasie, nematologie en produksiestelsels gedek het — is met entoesiastiese deelname ontvang.”

Kennis-ekosisteem
Die besoek het die wiele aan die rol gesit vir ‘n meer volgehoue poging om inligting daar bo te kry, het Wiehann Steyn gesê. “Hortgro sal in samewerking met die werkgroep poog om ‘n jaarlikse streekgeleentheid aan te bied — iets soos die Langkloof Seminaar- en Boordstap — om meer gereeld die noordelike produsente se tegniese behoeftes te aan te spreek.
“Die Limpopo-streek bly ‘n uitdagende omgewing,” meen Wiehann. “Dit het goeie grond, ‘n voorsprong op die seisoen, toegang tot groot markte, en boere met die entrepreneursdryfkrag om die beste te maak van wat hulle het. Met sterker bedryfsondersteuning, geteikende navorsing en verbeterde toegang tot tegniese kennis, het die noorde alles wat nodig is om een van Suid-Afrika se interessantste en mees dinamiese sagtevrugtestreke te word.”
- Hortgro wil graag vir Gerhard Oosthuizen bedank, wat ‘n uitsonderlike gasheer was — en verseker het dat niemand, nie eens die vegetariër in die groep, honger of dors was oor drie dae van gesprekke, debatte en plaasbesoeke nie.
- Hooffoto: Abe de Villiers, Gerhard Oosthuizen, Rinus Knoetse, Rudolph Cronjé, Charl Herbst, Marno van der Westhuizen en Wiehann Steyn. Voor: Minette Karsten, Gideon van Zyl en Mariana Jooste.




