Skip to content
Open Hand Raised, Counterfeit Goods Sign Painted

Tragedie van onwettige handel in landboumiddels in Suid-Afrika

Omgewingsaktiviste is lief daarvoor om Landbou oor die gebruik van gifstowwe aan te vat, ’n sektor waarin besonders hoë veiligheidstandaarde geld. Die probleem lê veel eerder by onwettige ‘straatgifstowwe’. Veral in informele nedersettings is mense oningelig en onbewus van die gevare van hierdie middels wat dikwels opgeberg word saam met kos of waar mense slaap.  

Deur Elise-Marie Steenkamp

Landbouchemie en spesifiek plaagdoders is eeue lank al deel van Landbou.  Plaag-, onkruid- en swamdoders help om beter en groter oeste te verseker en beskerm gewasse teen plae en siektes.

Terselfdertyd stamp omgewingsaktiviste en kommersiële landbouers dekades lank al kop oor die gebruik van chemikalieë in dié sektor. Volgens die aktiviste gebruik boere lukraak gevaarlike chemikalieë wat die omgewing besoedel en tot allergieë en siektes onder mense lei.

Die meeste lande, Suid-Afrika inkluis, het egter streng wetgewing oor die gebruik van gifstowwe in landbou. Gewasse word deurlopend vir minimum residu-vlakke (MRLs) getoets om voedselveiligheid te verseker, terwyl grond- en watermonsters gereeld geneem word om besoedeling te voorkom.

Landbouers moet ook aan ’n magdom omgewings- en etiese-standaarde voldoen alvorens produkte uitgevoer word. Onafhanklike oudits word namens SIZA, GlobalGAP, Rainforest Alliance en vele ander gedoen. Sekere groot handelaars soos Tesco’s en Woolworths het hulle eie volhoubare etiese standaarde en inspeksiestelsels. Kortom, landbouers en hul produkte, word gereguleer en dopgehou.

Internasionale krisis

Landbouchemikalieë is ’n massiewe bedryf met ’n waarde van ongeveer 90 miljard Amerikaanse dollar (2023). Dit verras dus nie dat misdaadsindikate die bedryf teiken en dat ’n magdom vervalste en onwettige produkte in die mark beland nie.  Dié netelige probleem was die tema van ’n onlangse  webinaar deur die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste (IFAJ).

Onwettige landbouchemikalieë sluit in: verbode en ongeregistreerde plaagdoders, ongetoetsde en ongelisensieerde middels, vervalste produkte, middels met vervalste of verkeerde etikette, of middels wat verdun word of met ander middels gemeng word, en dan as die Ware Jakob verkoop word.

Jeff Hardy, direkteur-generaal van Tracit (Transnational Alliance to Combat Illicit Trade) sê onwettige landbouchemikalieë bedreig gewasbeskerming wêreldwyd en dat daar verreikende gevolge kan wees indien daar nie strenger opgetree word nie.

Volgens  verskeie beramings in ’n Tracit-verslag ( wat onwettige handel van landbou chemiese middels se impak op die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte ondersoek het) is die aandeel van onwettige plaagdoders op die wêreldwye plaagdodermark so hoog as 25 persent.

“Regerings moet kennis neem en opgevoed word oor die gevare van smokkelhandel en die verkoop van onwettige landbouprodukte. Die huidige prentjie is nie mooi nie,” sê Hardy.

Volgens die Tracit-verslag kan onwettige produkte oeste uitwis, wat hongersnood, armoede en landelike onrus kan veroorsaak. Voedselsekerheid en sekuriteit is dus op die spel.

“Ons weet eenvoudig nie watter skade onwettige produkte aan menslike gesondheid en die omgewing doen nie. Die middels is nie getoets nie en bevat ongedokumenteerde bestanddele.”

Laurent Giezendanner, hoof van korporatiewe sekuriteit en wettige handel by Syngenta, sê die maatskappy het 1 900 gevalle van onwettige handel in die 2023-2024-seisoen ondersoek. In die proses is beslag gelê op 16 000 ton onwettige chemikalieë en 8 000 ton onwettige saadprodukte. Die geraamde jaarlikse verlies vir dié nywerhede weens vervalste sade en chemikalieë beloop sowat $6 miljard (R109 miljard).

Maatskappye probeer hul bes om stelsels in plek te sit wat vervalsing bemoeilik.  “Ons ontwerp spesiale etikette, hologram seëls, verpakking, houerontwerpe, numeringstelsels, om die egtheid van die produk te beskerm. Die skurke is egter slim, en kry dit reg om hierdie veiligheidsaspekte te omseil. Daarom doen ons ‘n ernstige beroep op boere om net by plaaslike, geregistreerde handelaars met wettige lisensies hul produkte te koop.”

Volgens Giezendanner, koop veral jonger boere aanlyn wat risiko’s verhoog. “Jonger boere is internetgebruikers. As hulle spesifieke produkte soek en dit nie vinnig in die hande kry nie, wend hulle hulself tot e-handel platforms wat dikwels ongereguleerde verkope toelaat.”

Syngenta het kunsmatige intelligensie ontwikkel in hul stryd teen misdaadsindikate. Dit kos die maatskappy jaarliks miljoene dollar. Die Syngenta-taakspan het verlede jaar 10 000 advertensies vir onwettige produkte van aanlynplatforms verwyder, 300 vals webwerwe gesluit en 100 bedrieglike media-advertensies verwyder.

Giezendanner sê hulle werk nou saam met internasionale wetstoepasser maar dat polisiëring en regstelsels in veral derde wêreld lande uitdagend is.

Symbol On The Chemical Tank
Vals produkte word maklik na Suid-Afrika gesmokkel.

Suid-Afrika

Suid-Afrika is uiters kwesbaar en swak voorbereid vir die wêreld van onwettige handel, spesifiek die onwettige handel in landbouchemikalieë en plaagdoders.

Die informele verkoop van onwettige hoogsgiftige plaagdoders, wat dikwels in ongemerkte houers uitgegooi en op informele markte verkoop word, is veral ‘n noemenswaardige bekommernis.

Hierdie ongereguleerde produkte is gewild in informele nedersettings wat gebuk gaan onder knaagdier- en insekplae.

Suid-Afrika se poreuse grense maak dit vir sindikate maklik om vervalste en onwettige plaagdoders in te voer en te versprei.

Hierdie misdadigheid is ‘n groeiende werklikheid in Suid-Afrika, sê CropLife Suid-Afrika se kenner op die gebied, dr. Gehard Verdoorn, hoewel die probleem nog nie so groot is as elders in Afrika nie.

Verdoorn sê hy is bewus van vervalste produkte wat ingevoer, geadverteer en verkoop word. Die probleem is egter nie alleen vals produkte nie, maar ook die gebruik van onwettige gifstowwe wat vanuit Zimbabwe, Botswana en Mosambiek  in Suid-Afrika ingesmokkel word.

Verdoorn ondersoek tans drie sulke middels, aldicarb, terbufos en chloorpirifos.

Die smokkel van onwettige gifstowwe is volgens hom ’n groter probleem as die handel van vervalste chemikalieë. Wanneer CropLife wel vervalste produkte opspoor of bewus raak daarvan word die inligting dadelik aan wetstoepassers oorgegee.

“Chemiese maatskappye hou ook self hulle oë hierop en een van CropLife se lede het onlangs in Lesotho sewe ton vervalste chemikalieë opgespoor en vernietig,” vertel Verdoorn.

Vervalste middels kom hoofsaaklik uit Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe.

Verdoorn eggo Hardy en Giezendanner se kommer oor middels wat via die internet op e-handel platforms beskikbaar is. Handelaars van sommige chemiese middels het ‘n lisensie nodig om handel te dryf. Iets wat via e-platforms omseil kan word. Verdoorn het gewaarsku dat produsente wat middels op dié manier aanskaf ‘n groot kans vat.

“Gevaarligte behoort te flikker wanneer middels heelwat goedkoper as normaalweg aangebied word. Goedkoop koop mag ‘n hele oes laat faal en dan is daar geeneen wat die skade gaan betaal nie.”

Verlede jaar het die dood van etlike kinders weens kos wat by spaza-winkels gekoop is Suid-Afrika laat regop sit. Die kinders is vergiftig en die gifstowwe is met die landbousektor verbind.

Plaagdoders word in Suid-Afrika streng  kragtens kragtens die Wet op Kunsmis, Plaasvoere, Landboumiddels en Veemiddels (Wet 36 van 1947) gereguleer. Enige produkte wat in die formele handel verkoop word, gaan deur ‘n lang aansoekproses en voldoen aan streng veiligheids- en etiketteringsvereistes.

Daarbenewens word die bedryf ook verplig om die veiligheid van sy produk deur sy hele lewensiklus te verseker, wat die veilige aanwending, die versameling en herwinning van gebruikte houers en die veilige vernietiging van produkte wat verval het, insluit.

Navorsers, medici en CropLife SA pleit al jare lank dat die onwettige en ongereguleerde handel in plaagdoders en gifstowwe meer aandag kry en dat dit ‘n beduidende bedreiging vir openbare gesondheid, die omgewing en die ekonomie inhou.

Ekonomie

Tydens die EMEA (Europa, Midde-Ooste en Afrika) Veiligheidskonferensie in 2023 in Dubai, is berig dat die omvang van die finansiële verliese weens vervalste produkte en onwettige handel in Suid-Afrika verbysterend was. Hoewel presiese syfers oor die omvang van onwettige plaagdoderhandel in Suid-Afrika skaars is, kos onwettige handel in vervalste goedere die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat R100 miljard, volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).  Wat verlore belastinginkomste betref, skat Business Leadership South Africa (BLSA) dat die land sowat R250 miljoen per dag verloor.

Ten spyte van Suid-Afrika se posisie as Afrika se grootste uitvoerder van plaagdoders en verwante landbouchemikalieë, bly die land ‘n netto invoerder en maak sterk staat op buitelandse verskaffers vir aktiewe bestanddele. Onderbrekings in die voorsieningsketting kan egter tot voorraadtekorte lei, wat moontlik die vraag na onwettige handel verhoog.

Navorsing (IJOEH_April10) wys dat die onwettige plaagdodermark deur faktore soos armoede, werkloosheid en gebrekkige plaagbestuurstrategieë gedryf word. Die jeug se aandeel in die informele handel van plaagdoders skep hoë risiko’s van grootliks ongedokumenteerde akute en chroniese siektes.

Suid-Afrika benodig  dringend ‘n intensiewe en veelsydige benadering om hierdie groterwordende tragedie hok te slaan. Dit sluit in versterkte regulatoriese raamwerke, verbeterde implementering daarvan, verhoogte openbare bewustheid van die gevare verbonde aan onwettige plaagdoders en die verskaffing van veiliger, bekostigbare alternatiewe vir plaagbeheer in informele nedersettings.

Addisionele bronne:
2019.4.16_street_pesticide_policy_brief.pdf

South Africa suffers ‘staggering losses’ of around R100 billion a year due to illicit trade, counterfeiting | African News Agency

IJOEH_April10

South Africa Pesticides and Agrochemicals Manufacturing

Tackling the sale of illicit pesticides on e-commerce platforms – Transnational Alliance to Combat Illicit Trade

CropLife SA : Home – CropLife South Africa

 

Back To Top