Skip to content
Boland Landbouskool

Boland Landbouskool huisves Pro-Hort evaluasieblokke

Die Boland Landbouskool buite die Paarl gaan voortaan proefblokke huisves as deel van die Pro-Hort kultivar-evalueringsprogram.

Dit is die eerste keer dat ‘n skool gaan deel wees van die projek. Pro-Hort, ‘n samewerkingsprogram tussen Hortgro en Provar is verlede jaar geloods, met die doel om produsente te bemagtig deurdat kultivar-evaluasies noukeurig en onafhanklik gedoen word en produsente nie verkeerde kultivars vir ‘n klimaatstreek aanplant nie.

Vroeër het Andre Smit, Hortgro Stone voorsitter, gesê dat ‘n fout tydens kultivar-seleksie ‘n produsent tussen R450 000 en R1.6m per hektaar, uit die sak kan jaag. “As ‘n bedryf kan ons nie toelaat dat ons produsente hierdie tipe foute maak nie. Dit is doodeenvoudig te duur.”

Pruime, perskes, nektariens, appelkose en lae-koue behoefte appels, sal voorts by die proefblokke van die Boland Landbouskool gehuisves word.

Volgens Provar se Iwan Labuschagne is die doel om onafhanklike data te bekom en so die risiko verbonde aan die aanplanting van nuwe kultivars vir produsente te verminder.

Vir die sagtevrugtebedryf om internasionaal kompeterend en dinamies te bly, is nuwe kultivars noodsaaklik. Die kern-en steenvrugbedryf het reeds vier jaar gelede die kwessie van onafhanklike evaluering van kultivars as ‘n strategiese doelwit daar gestel.

Provar in ‘n neutedop:

  • Verminder risiko van verkeerde kultivaraanplantings en bespaar so miljoene rande;
  • Onafhanklike evaluasies;
  • Boomgehalte, boomfenologie, vruggehalte en opbergingsvermoë word geëvalueer;
  • Nuwe tegnologie hulpmiddels: Culteva toepassing en Tastelab
  • Vir meer inligting besoek: www.provar.co.za

Lees ook: Pro-Hort puts the value back in evalution.

 

 

Back To Top