Skip to content
Charl Herbst

CHARL HERBST | NUWE STEENVRUGLEIER DEEL LANDBOULEWENSLESSE

This content is Copyright protected. Please see Hortgro’s Information Disclaimer.

Charl Herbst is die nuwe voorsitter van Hortgro Stone nadat André Smit ag jaar die rol beklee het. Elise-Marie Steenkamp het gaan uitvind wie die man in die steenvrug warmstoel is.

Charl is gebore op Ceres en het grootgeword in die Koue Bokkeveld op hul  familieplaas, waar boerdery van kleins af deel van sy lewe was. Sy liefde vir landbou het op ’n jong ouderdom begin―van vakansiewerk op die plaas, pluksak dra en trekker ry.

Na hoër skool aan Charlie Hofmeyr in Ceres, het hy sy studies aan Elsenburg Landboukollege voltooi. Elsenburg het destyds die opsie gebied om ’n derde jaar van praktiese opleiding te doen, wat hy met groot waardering by Rossouw Cilliers op Laastedrif in Ceres afgelê het.

Vroeg in sy loopbaan het hy ondermeer as chemiese agent gewerk, hoofsaaklik omdat rugby ook toe ’n belangrike deel van sy lewe was en die buigsaamheid van die chemiese bedryf hom in staat gestel het om hierdie passie uit te leef.

“Al het ek aanvanklik buite die plaas begin werk, het die roepstem van landbou my gou weer plaas toe geneem. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat ek eintlik nog altyd diep betrokke was by die vrugtebedryf―van kindsbeen af.”

Charl vertel dat hulle familieplaas tydens sy studiejare op Elsenburg verlore gegaan het. “Dit was ’n tyd van groot hartseer, maar ook van groei,” onthou hy. “Om ‘n familieplaas te verloor is ’n ingrypende ervaring wat my diep gevorm het. Die lewenslesse wat ek in daardie tyd geleer het – oor volharding, perspektief en dankbaarheid – het ’n bepalende rol gespeel in hoe ek vandag na boerdery, verantwoordelikheid en die lewe kyk.”

Landbou het hom ook oor die jare waardevolle lewenslesse geleer: veerkragtigheid, nederigheid, uithouvermoë en respek―nie net vir die natuur nie, maar ook vir mense, prosesse en tyd.

Charl woon die afgelope 18 jaar in die Winterhoek buite Tulbagh, waar hy en sy gesin diep wortels geskiet het. Hy is getroud met Deidre, en hulle is die trotse ouers van twee kinders, Kristen en Charl jnr. “My familie is ’n groot bron van inspirasie en ondersteuning in alles wat ek aanpak,” sê Charl.

“Ons besigheid is hoofsaaklik in die Tulbagh-omgewing, waar ons boer met steen- en kernvrugte. Ons pakstoor, Sonlia, is in Wellington geleë, waar ons fokus op gehalte en volhoubaarheid in die waardeketting. Sonlia Bemarking , ’n afdeling wat vrugte plaaslik bemark en uitvoere hanteer, is die nuutste toevoeging tot ons onderneming.”

Hortgro Stone Board Members June2025
Die nuwe direksie van Hortgro Stone: Charl Herbst, Grant Smuts (ondervoorsitter), Charl Stander, Georgie Hewitt en Andre Smit

Charl is ook tans die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger vir pruimedante by die Internasionale Pruimedant Vereniging (IPA). “IPA is ’n belangrike platform waar internasionale rolspelers saamwerk rondom navorsing, bemarking en strategiese rigting vir die wêreldwye pruimedantbedryf. Hierdie betrokkenheid gee my waardevolle insigte in internasionale tendense en stel my in staat om strategiese perspektiewe en oplossings terug te bring na die plaaslike konteks.”

Volgens Charl staar die vrugtebedryf, en spesifiek die steenvrugsektor, tans talle uitdagings in die gesig: skerp stygings in insetkoste, veranderende verbruikersvoorkeure, komplekse markvereistes en druk op produksiepraktyke.

“Een van die kritieke kwessies wat tans aandag geniet, is toegang tot skoon plantmateriaal. Dit is ’n kernfaktor vir volhoubare produksie in die toekoms. Ons leef in ’n tyd waar produsente al hoe meer op hul eie inisiatief moet staatmaak, eerder as op ondersteuning van die staat. In só ’n konteks is dit noodsaaklik dat ons as bedryf gefokus, strategies saamstaan.”

Charl glo dat met sterk leierskap, samewerking en aanpasbaarheid die steenvrugbedryf nie net kan oorleef nie, maar ook kan floreer.

“Ek sien daarna uit om as voorsitter van Hortgro Stone te dien en saam met die span, produsente en rolspelers te werk aan ’n volhoubare en innoverende toekoms vir ons bedryf.”

Anton Rabe, Hortgro se uitvoerende direkteur, sê hy sien uit daarna om met Charl saam te werk in sy nuwe rol binne die steenvrugbedryf. “Charl se landbou en bedryfs agtergrond het hom beslis goed voorberei om Hortgro Stone in ’n dinamiese, uitdagende en veranderende omgewing te help lei.”

Back To Top
error: Content is protected !!