Droogdruiwe slaan nuwe rekord
Suid-Afrikaanse droogdruifproduksie groei teen ‘n bestendige tempo met produksievolumes vir 2018 wat met 6% sal groei teenoor die vorige jaar. Dit beteken dat die 70 000 ton merk vir rosyne die eerste keer oorskry is, terwyl daar wêreldwyd ‘n vraag na rosyne van goeie gehalte bestaan.
Volgens Dappie Smit van Hortgro kan die toename toegeskryf word aan nuwe aanplantings, jong wingerde wat in produksie kom, bestendige weerpatrone, die beskikbaarheid van besproeingswater en die tendens om pitlose druiwe eerder te droog as om wyn daarvan te maak.
“Daarbenewens verkry boere ook beter pryse vir droogdruiwe as vir wyndruiwe,” sê hy. Dit het ook die Oranjerivier Wynkelder se belangstelling in rosyne tot so ’n mate aangewakker dat hulle onlangs belê het in ’n rosyntjie verwerkingsaanleg naby Keimoes in die Noord-Kaap.
Suid-Afrika se rosyne word feitlik eksklusief in die Noord-Kaap, beroemd vir sy ruwwe semi-woestyn landskap, die Groot Gariep, sy lente blommeprag, wilde diere, en nou ook rosyntjies, verbou. Sowat 90% van Suid-Afrikaanse rosyne word langs die Oranjerivier verbou terwyl die ander 10% uit Namakwaland kom. Die Noord-Kaap se klimaat bied die ideale omgewing om hierdie klein suikersoet gedroogde vruggies te verbou, wat veral gewild is in gebak en as gesondheidspeuselkos. Die resep van besproeingswater vanuit die Oranjerivier tesame met die kenmerkende droë klimaat veroorsaak dat die suikergehalte in droogdruiwe hoog is en dat ‘n kwaliteitsproduk gelewer word, meen Smit.
Suid Afrika is bekend vir uitstekende gehalte rosyne. Die warm Noord-Kaapse son is ideaal om droogdruiwe in rosyntjies te verander en die sonskynweer maak die proses boonop koste-effektief en vinnig. Só word die Thompson saadlose donker druiwe by temperature tussen 40 – 42 C (met ‘n 7 tot 8 humiditeitsfaktor) binne twee weke gedroog. Thompson pitlose royne is die mees algemene rosyntjietipe in Suid-Afrika en verantwoordelik vir ongeveer 55% van die totale produksie volume.
Dit word gevolg deur die gewilde Goldens wat 32% produkvolume lewer. Goldens is egter arbeidsintensief omdat dit in die skadu gedroog word en het ook verskeie produksierisiko’s soos swak weersomstandighede wat die produk se kwaliteit kan beïnvloed.
Nuwe kultivars soos Selma Pete, Diamond Muscat en Summer Muscat, wat vroeër ryp word, kry tans baie groot aftrek omdat dit die oesperiode verleng en so die risiko versprei. ‘n Verdere bonus en koste-effektiewe oorweging is dat die vroeër kultivars die geleentheid bied om nog aanplantings te maak sonder om droogfasiliteite ook uit te brei.
Daar is ongeveer 1100 droogdruiwe produsente in Suid-Afrika wat gediens word deur sewe verwerkers en pakhuise.
Volgens Smit bly Europa Suid-Afrika se grootste uitvoermark vir rosyne, met sowat 26% van totale uitvoere wat na Duitsland gaan, gevolg deur Nederland (11%) en dan die VSA (10%).
Droogdruifboere kan nie voorbly met produksie nie, veral omdat dit ook deesdae wêreldwyd as gesondheidskos in aansien toeneem. In Kalifornië, wat ’n baie groot produsent van rosyne is word rosyntjiedruiwe-aanplantings reeds die afgelope tien jaar met amandels vervang. Hoofsaaklik omdat amandels minder arbeidsintensief is en makliker meganies hanteer en geoes kan word. Die leemte wat hierdeur in die mark gelaat word bied ‘n gulde geleentheid vir Suid-Afrikaanse droogdruifboere om hulle produk in die mark te stoot. Die gehalte moet net ten alle koste gehandhaaf of verhoog word, meen Smit.