Droogtehulp: Hervestiging van boorde bring hoop
Deur Elise-Marie Steenkamp
Snags, terwyl ander slaap, lê die vrugteboere van die Klein-Karoo wakker. Hulle tob oor die pad vorentoe. By watter boorde moet hulle die krane toedraai? Watter blokke moet gered word? Watter moet afgekap word? Indien hul heraanplant, watter kultivars? Die vrae bly maal en klinkklare antwoorde bly ontwyk.
Op plase in die streek hoor jy oral dieselfde storie…“My pa is 82 en boer sy hele lewe hier. Nog nooit het hy so ‘n droogte soos wat ons nou het, beleef nie.” Of, “die afgelope jare se droogte is ongekend. Ek boer al sedert 1980 en het al ‘n paar rowwe situasies hanteer. Maar so-iets, nog nooit nie.” Terwyl groot dele van die land in 2020 geseën was met goeie reën en die langdurige droogte plek-plek gebreek is, bly die Klein-Karoo tussen Montagu en Oudtshoorn kurkdroog.
Dawie van Deventer, wat met perskes boer tussen Montagu en Barrydale is voorsitter van die Poortjieskloofdam wat ongeveer sestien produsente met 270 hektaar gewasse van besproeiingswater moet voorsien. In 2018 kon hul slegs 60% water kry vir besproeiing. Die dam het in Mei 2019 laas water gehad en is tans dolleeg. “Nogal vreemd om voorsitter te wees van ‘n leë dam,” sê hy ironies.
Van Deventer se grond lê in twee dele van die drooggeteisterde gebied. Die een plaas val binne die Breërivierbesproeiingskema en hy kry net-net genoeg water om boorde staande te hou. Sy ander grond lê aan die Poortjieskloof kant, sonder water. Van Deventer sê hy het laas in 2016 ‘n ordentlike oes gehad. Intussen maak produsente staat op boorgatwater wat ongelukkig redelik brak is. Brakwater is sleg vir die grond en die bome.
Hy is een van die vrugteprodusente wat weer hoop het. Die hoop het gekom in die vorm van nuwe boordaanplantings wat moontlik gemaak is deur ‘n droogtehulppakket van Hortgro en die Wes-Kaapse department van landbou. Altesaam R1.1 miljoen is bewillig om vrugteboere te help om heraanplantings te doen en as ekonomiese inspuiting vir die droogtegeteisterde Klein-Karoo te dien.
“Ek kan nie in woorde uitdruk wat hierdie heraanplantings vir my beteken nie,” het Van Deventer gesê tydens ‘n onlangse besoek aan sy plaas. “Dit gee ‘n mens weer moed om aan te gaan. Om te herbesin oor hoe om in die streek te boer. Meer gepaste kultivars vir hierdie omstandighede te plant.”
Van Deventer meen die sleutel tot die toekoms van landbou in die streek is water. “Geld kan hierdie storie nie regmaak nie, net water kan. Ons moet eenvoudig oplossings vind om water vir die streek te verseker en verantwoordelik te bestuur.”
Ook Pieter van der Merwe van Spera, buite Ladismith, sê die finansiële hulp om nuwe aanplantings te maak, maak ‘n dramatiese verskil. “Ons het ongeveer 30% van ons boorde weens watergebrek verloor. Ons is maar een plaas in ‘n heelwat groter landstreek. Die humanitêre en finansiële impak is dramaties. Vir grondeienaars, werkers, en verwante besighede.”
Niël Joubert van Warmwater sê dit is die sesde seisoen in vyf jaar wat hy nie genoeg water vir sy vrugtebome het nie. Normaalweg kry hulle ongeveer 400 tot 450 mm reënval per jaar. “Verlede jaar het ons minder as 250 mm gehad. Die effek op bome is vanselfsprekend. Om te oorleef moes ons bome afsaag.” Joubert het 44% van sy boorde verloor.
“Mens kan seker vra, het ek te veel geboer?” sê hy, “maar al die ouer mense in die streek sal jou sê dat hulle nog nooit ‘n droogte gehad het soos dié een van die afgelope ses jaar nie.”
Joubert het in Desember ‘n boord Bulida appelkose geoes. “Ons het na die oes nog een keer water gegee en daarna die kraan toegedraai, sodat ek my Ruby Star en September Yummy’s aan die gang kon hou.” Teen einde Desember was die watersituasie so benard dat hy ook vir die September Yummy’s die kraan moes toedraai.
Met die hervestigingsfonds beplan Joubert om appelkose te plant. “Juis omdat appelkose goed vaar in die Klein-Karoo, en hulle vroeg in die seisoen geoes word, wat beteken mens kan jou water baie vinniger minder maak.” Hy ondersoek ook die moontlikheid om vroeë pruime te plant wat in die eerste week in Desember ryp word, om dieselfde redes as appelkose. “Mens wil na oes bemesting gee, en sorg dat jy genoeg water bymekaar maak tot April. Sodat bome in ‘n goeie toestand die winter ingaan.
Jaer Jafta van die Yeyethu-bemagtingsprojek in die Klein-Karoo, sê hulle het sedert 2016 nie meer water vir hulle 6.7 hektaar vrugtebome nie. “Die droogte het ons deur die knieë geskiet. Dit is nie lekker om twee kratte perskes van drie hektaar bome te pluk nie.” Jafta en die ander sestien begunstigdes is ontsettend dankbaar vir die hersvestigingsfonds waarmee hulle beplan om Sandvliet perskes te plant. “’n Perskeboom is nie sommer iets wat doodgaan nie, hy kan die druk vat. Sandvliet is ook ‘n perske wat vroeg in die seisoen ryp word. Ons sien nou weer uit na die toekoms en verder hoop ons op reën.”
In 2019 het die boerevereniging van die Ladismith-streek bereken dat daar weens die droogte R30 miljoen se lone in die slag gebly het. Altesaam 1000 gesinne is deur die arbeidskrisis geraak en 300 hektaar vrugtebome was reeds afgekap. Geld wat gewoonlik teruggeploeg is in landelike ekonomieë het opgedroog en verskeie besighede op die dorp het in die slag gebly.
Te midde van die landbou en humanitêre krisis, het Hortgro ingespring en in Desember 2019 saam met ander vennote meer as ‘n 1000 kospakkies aan landbouwerkers en produsente wat deur die droogte geraak is in die Klein-Karoo, uitgedeel. Dit is opgevolg met ‘n loonhulpskema aan landbouwerkers om produsente finansieel by te staan om sodoende deur die produksie-seisoen te kom. Fondse is ook beskikbaar gestel vir die beheer van gewasbeskerming in die streek. Hortgro het ook ‘n ‘veerkragtigheidswerkswinkel’ vir produsente en plaaswerkers in Ladismith gehou om hulle geestelik met hanteringstrategieë te bemagtig.
Sedertdien word die situasie voortdurend gemonitor, sê Mariette Kotze, Hortgro se operasionele-groepsbestuurder. Veral steenvrugprodusente in die Klein-Karoo vanaf Montagu, Barrydale, Ladismith, Calitzdorp tot by Prins Albert kry baie swaar. Sommige het hul plase verloor en honderde plaaswerkers sit ook sonder inkomste en werk.
“Die hervestiging van boorde is reeds aan die gang, en tot op hede is reeds tien hektaar aangeplant. Ons hoop om gedurende 2021 sowat 32 hektaar vrugteboorde aan te plant met behulp van die skema.”
Sy meen dit is belangrik om na die werklike waarde van die produk te kyk. “Daar is ‘n rippeleffek vir elke appelkoos wat gepluk word. Vir elke een persoon wat in landbou werk word vier ander mense onderhou. Wanneer die werk wegval, het dit ‘n reuse sosio-ekonomiese impak op ‘n streek.”
Volgens Kotze dek die staat se ramphulpfonds nie langtermyngewasse nie. “Vir vrugteboere is dit ‘n oorlewingstryd. Die boordhervestigingfonds bied darem ‘n mate van hoop en help produsente om hulle koppe weer op te lig.”
Produsente is uitgenooi om aansoek te doen en te motiveer hoekom hulle vir boordhervestigingshulp kwalifiseer. “Ons het mooi gekyk na langtermynbeplanning, kultivarseleksie en wat die groter ekonomiese impak sal wees. Dit droogte is nog lank nie verby nie en dit gaan nog heelwat insette of baie reën verg, voordat hierdie streek sal herstel,” sê Kotze.
Onderskrif: Goeie nuus: Jaer Jafta en Niël Joubert van Warmwater in die Klein-Karoo is weer vol hoop nadat hulle gehoor het hulle kwalifiseer vir die droogtehulppaket. (foto’s: Carme Naude)
READ Story in English here: Little Karoo_Orchard replantings_Feb2021