Skip to content
Nutsmangroep KBOS Julie25

Gemeenskapswerkswinkels bou vaardighede én selfvertroue

Gemeenskapswerkswinkels Bou Vaardighede Én Selfvertroue
Nutsman Bruce Arries van Bronaar het die werkswinkels aangebied

Deur Elise-Marie Steenkamp

Die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum (KBOS) het weereens ’n waardevolle bydrae tot gemeenskapsontwikkeling in die Witzenberg-streek gelewer deur die aanbieding van praktiese Nutsman/Vrou-werkswinkels.

Hierdie inisiatief, wat reeds in 2024 afgeskop het, het ontstaan uit frustrasies in die gemeenskap oor alledaagse huisprobleme wat duur is om te herstel. Die versoek uit die gemeenskap was eenvoudig: “Hoekom leer ons nie om huisprobleme self reg te maak nie?”

Edna Nigrini, KBOS se bestuurder van maatskaplike- en jeugontwikkeling en een van die dryfkragte agter die projek, het aan die werk gespring. Die werkswinkels, aangebied deur Bruce Arries van Bronaar, het vinnig gewild geword. In 2025 is die formaat uitgebrei na twee sessies – een fokus op die binnekant van die huis, en die ander op buiteherstelwerk.

Teen ‘n bekostigbare R130 per persoon vir beide sessies, het deelnemers praktiese vaardighede opgedoen soos hoe om ‘n lekkende kraan reg te maak, ‘n wasbak te installeer, ’n geyser se temperatuur aan te pas en selfs hoe om ’n gebrande element te identifiseer.

Edna sê die bywoning was uitstekend: 58 en 60 persone het onderskeidelik die eerste en tweede sessie bygewoon – ’n groot meerderheid van hulle vroue. ’n Totaal van 60 deelnemers het die 2025-werkswinkel voltooi, insluitend 48 studente van 2024-groep.

Buiten die feit dat mense geld spaar, is die grootste waarde van die werkswinkels volgens Edna, die gevoel van bemagtiging wat dit bied: “Dit is so bemagtigend om te weet ek kan my eie deur se slotmeganisme herstel en is nie afhanklik van ‘n ander persoon nie.” Sy beklemtoon ook die belangrikheid van selfvertroue en trots wat in huishoudings gebou word deur hierdie vaardighede. Kinders sien hul ma kan iets self doen!

Landi Kahlmeyer, KBOS se gemeenskapsontwikkelingsbeampte,  het bygevoeg dat die behoefte groot is om soortgelyke werkswinkels op plase aan te bied, sodat elke huis iemand het wat klein herstelwerk self kan doen – ’n belangrike stap om koste te bespaar en lewenskwaliteit te verbeter.

IMG 20250701 Wa0019
So maak mens…Bruce Arries

Joy van Biljon, nog ’n ondersteuner van die projek, sien hierdie ontwikkeling as ’n bewys van hoe plaaswerkers se ingesteldheid oor die jare verander het: van ’n gevoel van afhanklikheid en magteloosheid tot aktiewe deelname en probleemoplossing. “Die bywoning van hierdie werkswinkels is ’n spontane bewys dat landbouwerkers nou anders oor hulle omstandighede dink,” sê sy. “Dit is ’n teken van gesonde burgerlike samelewing en ’n positiewe teenvoeter vir die tragiese beelde van vervalle werkershuise.”

Die nuwe nutsmanne- en vroue was vol lof oor die inisiatief ná afloop van die werkswinkels. Een het selfs genoem dat sy haar bestuurder gaan vra om iets soortgelyks op hulle plaas aan te bied, sodat huishoudelike herstelwerk plaaslik en bekostigbaar hanteer kan word, vertel Landi.

Die Nutsman/Vrou-werkswinkels is ’n inspirerende voorbeeld van hoe kennisdeling en vaardigheidsontwikkeling gemeenskappe kan bemagtig – een kraan, een slot, een huishouding op ’n slag.

Hooffoto: Al die nuutbemagtigde deelnemers aan die nutsman/vrou-werkswinkels

Back To Top