
Vrugteboere moet help om bye te beskerm
Deur Elise-Marie Steenkamp
Die volhoubaarheid en winsgewendheid van die vrugtebedryf is direk afhanklik van gesonde bye en verantwoordelike bestuiwingspraktyke. Met ’n jaarlikse toename in die aanvraag na bestuiwing, is dit noodsaaklik dat vrugteboere die belangrikheid van bye verstaan en aktief bydra tot hul beskerming.
Dit was die boodskap van dr. Nanike Esterhuizen, Hortgro Science se navorsingtegnikus in entomologie, tydens ’n onlangse bedryfsvoorlegging. “Die Wes-Kaap benodig tans ongeveer 65 000 bestuiwingseenhede per jaar en die byebedryf kan nouliks hieraan voldoen.”
Esterhuizen het gesê navorsing toon dat bye tot 70% kan bydra tot winsverhoging in kernvrugteproduksie. Hierdie bydrae sluit verbeterde vrugset (tot 71% hoër), verhoogde saadproduksie (62%) en ‘n toename in vruggewig (20%) in, wat uiteindelik lei tot ‘n beduidende verbetering in algehele opbrengs. “Sonder bye is daar vir sekere vrugsoorte geen vrugteproduksie op kommersiële skaal nie; eenvoudig gestel: geen bye nie, beteken geen vrugte nie.”
Volgens Esterhuizen staar die Suid-Afrikaanse byebedryf verskeie uitdagings in die gesig. Onwettige en ongereguleerde chemiese bespuitings het die afgelope jare tot grootskaalse byevergiftiging gelei. Verkeerde tydsberekening met bespuitingsprogramme en swak kommunikasie tussen produsente en byeboere vererger die probleem. Daar is ten minste ’n 48-uur-kennisgewingsvenster nodig voordat hoë-risikospuite toegedien kan word, sê sy. “Maar hoe vroeër byeboere weet, hoe beter.”
Daar is ook ernstige verliese aan voedselbronne en habitat vir bye, wat insluit die verwydering van bloekombome, beperkte natuurlike veld en onvoldoende veilige staanplekke vir korwe. “Sekere bloekomspesies is kritiese voedselbronne vir bye gedurende tye wanneer min ander plante blom. Produsente moet toepaslike wetgewing raadpleeg voordat bloekombome verwyder word,” het Esterhuizen gesê.
Klimaatsverandering, droogtes, veldbrande en oorstromings beïnvloed byekolonies direk. Ekstreme weersomstandighede lei tot kolonies wat verswak of verlore gaan. Byeboere moet ook waak teen verskeie siektes en plae, soos American foulbrood (AFB), European foulbrood (EFB), Chalkbrood, Varroa destructor (varroamyt), Aethina tumida (klein korfkewer) en wasmotbesmettings.
Korfdiefstal en vandalisme plaas verdere finansiële druk op byeboere.
Esterhuizen het daarop gewys dat bestuiwingsdoeltreffendheid afhang van ‘n verskeidenheid faktore, onder andere, die algemene gesondheid en sterkte van die korwe. Die Wes-Kaapse Byebedryfsvereniging (WKBV), is ‘n bron van betroubare byeboerevir bestuiwingsvennootskappe, want lede se korwe moet aan streng bestuiwingstandaarde voldoen.
Korfdigtheid per hektaar, tydsberekening van korfplasing, weersomstandighede tydens bestuiwing, die gebruik van nette oor boorde, en spuitprogramme tydens blomtyd beïnvloed ook bestuiwingsukses. “‘n Sameloop van omstandighede gepaard met swak bestuur in enige van hierdie areas kan opbrengs en vrugkwaliteit negatief beïnvloed.”
Praktiese riglyne vir vrugteboere
Esterhuizen meen vrugteboere kan ’n wesenlike rol speel in die beskerming en ondersteuning van bye:
Verantwoordelike chemiese bestuur
- Moenie plaagdoders tydens blomtyd toedien nie.
- Lees etikette vir bye-spesifieke waarskuwings.
- Gebruik slegs noodsaaklike, by-vriendelike produkte tydens blom.
- Spuit slegs wanneer bye onaktief is (saans of snags).
- Gee byeboere minstens 48 uur kennis voor hoë-risiko bespuitings.
Skep en beskerm voedselbronne
- Plant dekgewasse wat ’n diverse dieet vir bye bied – die voorlopige resultate van huidige navorsing wys dat dekgewasse nie bestuiwing negatief beïnvloed nie.
- Verskaf veilige langtermyn staanplek vir byeboere se korwe.
- Beskerm geskikte bloekomspesies waar moontlik.
- Behou areas met natuurlike habitat op en rondom plase om bestuiwers te voed.
Laastens is dit krities dat gewasprodusente en byboere ’n sterk vennootskap vorm, meen Esterhuizen. Kommunikasie met byeboere is krities. “Gereelde kommunikasie, duidelike ooreenkomste en gesamentlike beplanning is noodsaaklik om die volhoubaarheid van beide bedrywe te verseker.”
Kyk gerus na Herman Brink se bestuiwingspraktyke: https://youtu.be/IzRqnSnN22A?si=c0nUzHt2-klrzITG
Additional reading: https://www.hortgro.co.za/news/spike-in-honey-bee-poisonings-highlights-urgent-need-to-tighten-regulations-on-agrochemical-use/




