skip to Main Content
Prohort Wernertruterboord

Hoe kies mens ‘n kampioen?

Pro-Hort persele stel nuwe kultivars op proef

Deur Anna Mouton

Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf stagneer omdat daar nie genoeg nuwe kultivars geplant word nie. Dit is die mening van Neville van Buuren, bestuurder van appel- en peerproduksie by Oak Valley Estate, buite Grabouw. Hy is opgewonde oor die vestiging van ‘n Pro-Hort evaluasie-perseel by Oak Valley. Die Pro-Hort program is spesifiek van stapel gestuur om produsente soos hy te bemagtig met die beste moontlike inligting oor nuwe kultivars.

“Daar’s ‘n lang lys van kultivars wat goed doen in ander lande,” sê Van Buuren, “maar ons toestande is heeltemal anders. Nuwe kultivars moet professioneel en onafhanklik geëvalueer word.”

Die regte kultivar vir die regte plek

Die Pro-Hort program word deur onafhanklike evaluasie-maatskappy Provar bestuur en deur Hortgro befonds. Die eerste bome is in 2018 in Ashton en Montagu geplant. Daar is tot op hede meer as 2 000 bome op Pro-Hort persele gevestig met nog ongeveer 700 wat die komende seisoen aangeplant word.

Daar is tans nege Pro-Hort persele in die Wes-Kaap. Steenvrugte word in Robertson, Breëriviervallei, Montagu, Paarl en die Warm Bokkeveld geëvalueer. Kernvrugte in Grabouw, die Koue Bokkeveld, Vyeboom, Robertson en Wolseley. Daarby het Pro-Hort ‘n perseel vir steen- en kernvrugte in Limpopo en vir kernvrugte in die Langkloof. Die moontlikheid van nog ‘n perseel in Tulbagh, word ook ondersoek.

Hortoloog Werner Truter van Provar is projekleier vir die Pro-Hort persele. Hy verduidelik dat elke kultivar op ten minste drie persele geplant word. Die persele word gekies na gelang van bestaande inligting oor die kultivar se eienskappe. Truter glo dat die evaluasie-resultate van ‘n kultivar in verskillende areas produsente sal help om die beste opsie te vind.

“‘n Robertson-produsent wat ‘n keuse wil maak kan na Robertson se evaluasiedata kyk, en ook dalk na Montagu en die Breërivier. Dan kan hy ‘n middeweg vind tussen sy klimaat en die klimaat op ons persele en ‘n meer ingeligde besluit maak, as wat hy dalk net evaluasiedata van een perseel gekry het. Veral as daardie perseel nie eers verteenwoordigend van sy area was nie.”

Wanneer die eerste bome in drag kom sal elke Pro-Hort perseel met toestelle voorsien word wat rekord hou van temperature sodat hitte- en koue-eenhede korrek bepaal kan word. Daarby word grondvog gemeet deur middel van grondpeilers. Sodoende weet evalueerders presies wat die omgewingstoestande in die verskillende persele is.

20200624 Pro Hort Article 02 02
‘n Jong evaluasie-boord.

Kontroles van bo- na onderstam

Daar word tien bome van elke kultivar op elkeen van ten minste drie persele geplant. “Vir elke kultivar op elke perseel word die bome op twee onderstamme gemaak,” sê Truter. “Die een onderstam is standaard vir daardie vrugtipe en die ander een is perseel-spesifiek. Dit is sodat ons evalueerders die effek van onderstamme op die kultivar kan vergelyk.”

Die onderstamme word ook op elke perseel geplant sonder dat ‘n bo-stam op hulle geënt is sodat die evalueerders die gedrag van die onderstamme in verskillende areas kan beoordeel. Hulle stel veral daarin belang in wanneer onderstamme uit “rus” kom, aangesien dit die sinkronisasie tussen bo- en onderstam kan beïnvloed.

Truter is verantwoordelik vir die logistieke proses om te verseker dat die kultivars op die regte onderstamme betyds bestel word. “Dis is ‘n redelike intensiewe proses van kommunikasie tussen ons en die kwekerye en die kultivar-eienaars wat reedsd begin ‘n jaar of twee voordat die bome geplant word.”

Benewens kultivars onder evaluasie en onderstamme is daar kontrole-kultivars op alle steenvrugpersele. “Die kontrole-kultivars is dié waarvan eienskappe redelik bekend is onder produsente en wat baie hektare beslaan,” sê Truter. “Dit is sodat ons ‘n verwysing het om ‘n nuwe kultivar mee te vergelyk.” Die kontroles dek die spektrum van oestye vir die verskillende vrugtipes.

Kultivar-evaluasie is die primêre fokus van die Pro-Hort persele, maar hulle huisves ook proewe wat deur Universiteit Stellenbosch in samewerking met Provar uitgevoer word. Drie nagraadse studente is betrokke by die Provar-navorsing as interns.

Haastig plant is duur plant

Dit neem baie jare om ‘n nuwe kultivar deeglik te leer ken. Bome word vir die eerste twee jaar toegelaat om te vestig en kan gewoonlik vanaf die derde blad fenologies geëvalueer word. Belangrike datums sluit in die tyd wanneer die boom sy rus breek en die verskillende stadiums van blom. Oestyd word bepaal sodra bome begin dra. Vrugte word indien moontlik vanaf die derde blad vir steenvrugte en die vierde blad vir kernvrugte geëvalueer.

Truter verduidelik dat die bome volgens ‘n basiese metode gesnoei word sodat evalueerders die natuurlike groeiwyse van nuwe kultivars kan beoordeel. Bome word ook nie onder skadunette gesit nie omdat evalueerders wil sien hoe vatbaar kultivars vir sonbrand en windskade is. Die bome sal wel teen hael beskerm word in areas waar hael ‘n risiko is.

Tydens die seisoen besoek Truter of ‘n ander Provar verteenwoordiger ten minste een maal per week die persele. Die dag-tot-dag onderhoud van die evaluasie-persele word deur die produsente behartig op wie se grond die persele geleë is. “Ons probeer so ver as moontlik die bome kommersieel bestuur, soos wat produsente ‘n boord sal bestuur,” beklemtoon hy.

Vir Truter is dit baie positief dat produsente “inkoop” in die projek. “Ek dink die meerderheid produsente besef dat hulle kan nie meer bekostig om kultivars te plant wat nie ordentlik en onafhanklik geëvalueer is nie. Dis bemoedigend om te sien dat die produsente hierdie program en persele tussen ons en Hortgro as krities ag.”

“Ons moet die groter prentjie op die lange duur sien,” beklemtoon Van Buuren. “In die verlede is daar net gesê, my uitvoerder was oorsee en daar’s ‘n nuwe kultivar wat fantasties is en ons moet dit probeer. Maar ons het nie behoorlike inligting nie. Ons moet iewers begin om hierdie inligting op te bou. Ons moet geduldig wees en die nodige belegging maak.”

Onderskrif hooffoto: Werner Truter staan in ‘n evaluasie-perseel. (Foto’s verskaf deur Provar.)

Lees meer  oor Provar hier: www.provar.co.za

 

 

Back To Top