Jong bedryfsleier uit Grabouw
Yvonne Erwee gesels oor haar ervarings in boerderybestuur. Deur Anna Mouton
Hortgro het die bedryfsleierskapprogram in 2022 geloods om jong mense as toekomstige bedryfsleiers in die sagtevrugtebedryf te help toerus deur hulle aan bedryfstrukture en -programme bloot te stel. Yvonne Erwee van Monteith Trust is een van die eerste groep wat dié program voltooi het.
Erwee het haar BCom (Bestuurswetenskappe) in 2010 by Universiteit Stellenbosch voltooi waarna sy verder in bemarking en advertensiewese studeer het. Sy het in 2013 teruggekeer na Monteith Trust en aanvanklik kwaliteitskontrole bestuur voordat sy as junior produksiebestuurder by een van Monteith se plase oorgeneem het.
In 2016 het Erwee haar MBA vanaf Universiteit Kaapstad behaal en in 2017 het sy aan ’n drie-maande MBA uitruilprogram by Duke University in die VSA deelgeneem. Daarna was sy vir drie jaar betrokke by chili-produksie binne die Nando’s groep, voordat sy in 2021 permanent by Monteith Trust aangesluit het.
Sy en haar broer, Jurie Erwee, is die vyfde generasie van hulle familie op die plaas.
Q. Vertel ons van jou eerste drie jaar by Monteith Trust.
A. My pa het vir my as ’n 23-jarige wat niks van appels weet nie ’n appelplaas gegee om te bestuur. As een van sy kinders wou werk by Monteith Trust, moes ons eers ’n plaas bestuur.
Ek het dit vir twee seisoene gedoen en baie van boerdery geleer. En ek het nie te sleg gedoen nie, maar ek mag nooit weer ringeleer nie!
Dit was gelukkig ons kleinste plaas – 38 hektaar. Ek sou dit nie sonder my algemene bestuurder, wat leiding gegee het op al die verskillende aspekte, of sonder die bystand van verskeie tegniese adviseurs, kon gedoen het nie. Maar die uitvoer van die verskillende aksies was nog steeds my verantwoordelikheid.
Ek verstaan die algemene konsepte van boerdery maar ek is nie ’n hortoloog nie. Ek is eerder iemand wat ’n landbouproduk kan bestuur.
Na die tweede jaar het ek vir ’n paar maande oorsee gegaan om meer oor ons markte te leer. Dit was baie interessant om te sien hoe ons produk daar aankom. Ek dink baie keer gee ons die produk vir ’n pakhuis en dan verlaat ons die ketting, maar ek kon daar wees wanneer die bokse oopgemaak word, en sien watter probleme hulle aan daardie kant ondervind.
Ek het ook iemand wat versekeringseise ondersoek, sowel as supermarkte, besoek. Ek wou verstaan wat die probleme is, want aan ons kant kry ons net die afkeurings, maar ons weet nie hoe dit bepaal word nie
Q. Jou MBA tesis het oor die motivering van plaaswerkers gehandel. Wat het jy gevind?
A. Ek het op verskillende plase in die EGVV ’n reeks vrae gevra om te evalueer wat plaaswerkers motiveer. Dit het neergekom op die basiese behoefte om te oorleef. As die persoon nie weet waar sy kos vandaan gaan kom of dat sy gesin veilig is nie, dan gaan geen ander vorm van motivering effektief wees nie.
Jy kan die mees aangename werksomgewing skep, maar as die plaas langsaan bietjie beter betaal, dan is dit vir werkers aanloklik.
Q. Wat geniet jy omtrent jou rol by Monteith Trust?
A. Ek dink die voordeel van in jou eie familiebesigheid werk is dat jy jou werk rondom jou sterk punte kan struktureer. So ek kan fokus op dinge waarin ek goed is en waar ek dink ek ’n verskil kan maak.
Die ander groot voordeel van ’n familiebesigheid is dat jy nie elke kwartaal ’n wins of groei hoef na te jaag nie. Jy’s nie besig om korttermyn besluite te neem om korttermyn doelwitte te behaal nie. Jy kry die geleentheid om langtermyn besluite te neem en jy maak dit nie vir jouself nie – jy maak dit vir die volgende generasie.
Ek hou ook daarvan dan ek baie verskillende goed doen. Ek werk met alles waarby mense betrokke is, van menslike hulpbronbestuur tot bouprojekte, al ons behuising, en ons gemeenskapsprojekte. Soms behels dit ’n vergrootglas vir ’n boordmonitor aankoop en soms behels dit ’n badkamer vir ’n spuitspan bou.
Monteith Trust se permanente werksmag is 108 op Grabouw, plus nog 600–800 seisoenale werkers wanneer ons pluk. Ons het 120 huise en meer as 400 mense wat op die plaas woon, met ’n crèche en ’n nasorgfasiliteit. Dit neem ongelooflik baie bestuurstyd.
As jy gaan kyk na al die verskillende aspekte op ’n plaas dan dink almal aan boerdery, maar daar is baie ander dinge wat bestuur moet word. Ek dink mense vergeet soms dat ’n boer moet ook aan besigheidspraktyke voldoen want boerdery is basies net ’n besigheid met ’n landbouproduk.
Die natuur is ’n ander groot deel van boerdery, wat jy nie kan bestuur nie, so boerdery is ’n besigheid met alles wat alle ander besighede het, sowel as hierdie een ekstra ding. Jy weet nooit wat die natuur hierdie jaar gaan gooi waaroor jy moet spring nie. Hael? Baie reën? Dit hou jou op jou tone
Q. Wat was jou ervaring van die Hortgro bedryfleierskapprogram
A. Dit was baie goed. Soos almal weet, raak die appel- en peerprodusente al hoe ouer. Daar’s baie kennis en begrip in die ouer generasie wat op ’n manier aan die jonger generasie oorgegee moet word.
Almal verstaan nie altyd hoe georganiseerde landbou in mekaar pas nie. Mense besef nie altyd wat die doel is van Hortgro en al die funksies wat hulle verrig nie, en dat ons bedryf nie daarsonder kan funksioneer nie. En as ons nie bewus is daarvan nie, dan neem ons nie daaraan deel nie en ons kla oor ons heffings.
In die program het ons vir twee jaar van bedryfstrukture geleer sodat ons die groter prentjie kan sien. Nou moet ons begin betrokke raak in Hortgro komitees of groepe sodat ons die verkillende aspekte kan ervaar. Ons moet ’n bydrae lewer want ons gaan eendag die besluite moet neem oor die rigting waarin Hortgro moet gaan.
Ons kan nie net terugsit nie. Iemand moet hulle hand opsteek en leiding neem.