Kernvrugbedryf beleef stormagtige seisoen
Wydverspreide hael het beduidende verliese veroorsaak maar goeie reëns en koue bring gunstige vooruitsigte vir die komende seisoen. Deur Anna Mouton.
Op 3 November 2022 is die Witzenbergvallei deur strawwe hael getref wat ernstige skade aan appel- en peerboorde berokken het. “Ceres Fruit Growers het ±30% van ons pakvolume verloor,” sê Frederick Odendaal, bestuurder van produsente-dienste.
Hael het later in November en tot en met Januarie ook ander Koue Bokkeveld-areas geteister. Volgens Odendaal het die plase wat laat haelskade gehad het, groter finansiële verliese gelei. “As die skade laat gebeur, kry die vrugte nie kans om te herstel vir sap lewerings nie en daar is reeds groot kostes aangegaan om die vrugte voor te berei vir die varsmark.”
Selfs Elgin het in Desember 2022 onder hael deurgeloop, vertel Keith Bradley, algemene bestuurder van AgriDienste by Fruitways. “Dit was hoofsaaklik aan die noordwestelike kant van die Elginvallei. Maar die produsente in ons groepering het ten spyte daarvan nog steeds ’n soortgelyke volume vrugte as die vorige twee jaar gelewer.”
Johan Kotze, hoofbestuurder van Dutoit Agri: Oos-Kaap, beskryf die hael die afgelope seisoen in die Langkloof as ’n nagmerrie. “Ek dink daar was in totaal vyf hael insidente vanaf November tot Maart wat verskillende areas gevang het. Die skade aan boom het gewissel van 50%–100%.”
Alhoewel die Langkloof elke jaar hael kry, was die impak in die 2022–2023 seisoen besonders groot omdat verskeie areas op verskillende tye geraak is.
Die risiko van haelskade – saam met sonbrand – motiveer ál meer produsente om hulle boorde met nette te bedek. Volgens Kotze gee drapeernette ongeveer 80%–90% beskerming teen hael omdat van die vrugte wat teen die net sit steeds beskadig word. Daarenteen gee vaste nette 100% beskerming.
“Ek dink as die meeste produsente in die Langkloof op die oomblik nuwe boorde vestig, word dit met nette gevestig, meestal permanente nette,” rapporteer Kotze. Hy skat dat ongeveer 30% van vrugteboorde in die Langkloof reeds onder nette is.
Alhoewel nette minder algemeen in die Ceres-area is, reken Odendaal dit gaan verander. “Die risiko van sonbrand en haelskade verminder met nette en daarom is die tendens om in die toekoms nuwe boorde met nette te vestig.”
Sapfabrieke loop oor
Selfs sonder die haelstorms sou sapfabrieke in alle areas ’n besige seisoen beleef het. Volgens Bradley het hoër sappryse Fruitways produsente aangespoor het om reeds in die boord meer vrugte in sapkratte te gooi.
“Van die produsente in ons area het die afgelope paar jare hulle sapvrugte Ceres toe gestuur omdat hulle beter pryse gekry het,” sê Bradley. “Maar as gevolg van die massiewe klomp hael in Ceres moes ons vrugte in die Elginvallei bly.”
Sapvrugvolumes het verder in Elgin toegeneem as gevolg van bogemiddelde verruwing op sommige Golden Delicious-appels en windskade aan sommige Packham’s Triumph-pere. En natuurlik het Elgin sy eie haelskade gehad. “Voor mense hulle oë kon uitvee het die sapfabrieke heeltemal oorgeloop,” sê Bradley.
In die Langkloof het goeie sappryse en swakker munisipale-markpryse ook sapvrugvolumes opgedryf, sê Kotze. “Baie produsente het die som gemaak en as dit nie sinvol was om die vrugte op die plaaslike mark te verkoop nie het hulle dit sapfabriek toe gestuur.”
Odendaal is dankbaar dat hulle ’n sapfabriek in hulle area het. “Dit is positief dat ons die sapaanleg het en goeie waarde tot beskadigde vrugte kan toevoeg. Gelukkig is daar ’n goeie vraag na appelsapkonsentraat, met goeie prysverwagtinge vir die jaar.”
Omdat minder vrugte vars verpak word as gevolg van haelskade, het van die vrugteverpakkers op Ceres ekstra koelkamerkapasiteit wat hulle vir sapvrugte kon gebruik. In laat Junie was daar nog steeds koelkamers vol appels wat versap gaan word.
Terwyl die sapfabrieke hierdie seisoen meer vrugte gaan hanteer, gaan die pakhuise in veral Ceres weens laer volumes onder druk wees. Odendaal reken dat ongeveer 300 000 kratte – 115 000 ton – van hoofsaaklik appels uit die groter Ceres-area as gevolg van haelskade nie gepak is nie.
Die gevolg van ’n korter seisoen gaan minder arbeidsgeleenthede teenoor ’n normale oes wees. “Almal, ook op plaasvlak, het teruggesny in terme van kostes,” sê Odendaal. “So die finansiële impak op ons dorp is groot.”
Onweer gevolg deur goeie vooruitsigte
Alhoewel die stormagtige weer haelskade gebring het, was daar ook goeie reëns en die damme in baie areas is vol. “In die Langkloof is ons skemadamme al van Maartmaand af vol,” sê Kotze. Daarenteen was die skemadamme teen Junie 2022 slegs 52% vol.
By Glen Elgin-plaas in Grabouw het Maartmaand die hoogste reënval sedert 1969 gehad. En daar was ook gereeld reën in April en Mei. “Dit was in oestyd, wat dinge nie maklik gemaak het nie,” sê Bradley. “Neem in ag dat ’n groter deel van die oes nou later gebeur omdat daar ál meer Cripps Red-variëteite in produksie kom.”
Ceres-dorp het teen 19 Junie 2023 reeds 828 mm reën gehad en was goed op pad om hulle totale gemiddelde jaarlikse reënval teen einde Junie te behaal.
Rooi vrugkleur was uitstekend, volgens Jacques Möhr, naoes tegniese spesialis by Fruitways. “Ons begin gewoonlik met goeie kleur op Gala en dan kom die hittegolwe wat die kleur op Fuji, Cripps Pink en Cripps Red benadeel. Maar dit het nie hierdie jaar gebeur nie. Met die koue fronte wat heeltyd deurkom het ons meer kneusings gehad maar beter kleurontwikkeling.”
Sovêr blyk vrugfermheid effens laag te wees. “Ons het die seisoen begin met elke kultivar omtrent 1–2 weke voor op fermheid maar nie op alle maatstawwe van rypheid nie. Fermheid was byvoorbeeld vêr voor styselomskakeling,” berig Möhr.
Odendaal reken dat die stormagtige weer in sommige gevalle vrugkwaliteit benadeel het. “Die vroeë pere se houvermoë was korter en met appels, spesifiek in die Warm Bokkeveld, het meer lentisel-bitterpit voorgekom,” sê Odendaal. “Dit is waarskynlik as gevolg van die baie stikstof wat neergelaat is tydens die donderstorms in November en Desember.”
Wat betref uitvoere was daar positiewe verwikkelinge hierdie seisoen. Buitelandse aanvraag na vrugte het versterk en die relatiewe swak rand het pryse ’n hupstootjie gegee. Verder lyk dit asof verskepingstariewe begin stabiliseer.
“Die seisoen het moeilik begin maar soos hy aangaan lyk dit al hoe beter,” sê Odendaal. “Ons is versigtig optimisties oor die jaar in terme van markrealisasie.”
Bradley sien uit na die komende seisoen. “Hierdie is die begin van volgende jaar se oes en ons het baie reën en uitmuntende koue gehad. As ek kyk na Meimaand was 2023 een van die beter jare vir akkumulasie van koue-eenhede.”
Vooruitsigte vir die kernvrugbedryf is positief, vertrou Bradley. “Ek hoop dat 2022 ons laagtepunt was – dit was ’n besondere moeilike jaar. Ek glo dat ons selfs met al die uitdagings in 2023 weer opwaarts begin beweeg het. Dit was nie ons beste jaar ooit nie maar dit was definitief ’n verbetering.”