Skip to content
2plum

Laer volumes lei tot beter pryse

Was laer steenvruguitvoervolumes die afgelope seisoen ’n bedekte seën? Hortgro gesels met drie bedryfskenners oor hulle perspektief. Deur Anna Mouton 

Ongeveer 2.9 miljoen kartonne – gelykstaande aan 13 000 ton – minder steenvrugte is in die 2022–23 as die 2021–22 seisoen uitgevoer. Meeste van die daling was as gevolg van pruimuitvoere wat 13.5% van 15.7 miljoen na 13.6 miljoen 5.25-kg-ekwivalente kartonne geval het.

Perske-uitvoere het met 13.4% van 2.5 miljoen na 2.2 miljoen 2.5-kg-ekwivalente kartonne afgeneem. Alhoewel nektarienuitvoere 5.5% laer was in vergelyking met 2021–22, was die aantal 2.5-kg-ekwivalente kartonne nog steeds 18.9% hoër in 2022–23 as in 2020–2021. Appelkoosuitvoere was naastenby dieselfde as verlede seisoen.

Die goeie nuus is dat produsente danksy die laer volumes oor die algemeen ’n meer winsgewende seisoen as in 2021–22 beleef het.

Petru du Plessis, tegniese raadgewer en steenvrugprodusent

Pruimboorde se vrugset in die Bergriviervallei was ligter as verlede seisoen, berig Petru du Plessis. Die Klein-Karoo se pruimset was weer swaarder wat gelei het tot heelwat meer uitdunkostes.

“As steenvrugbome aanvanklik in September swaar set, dan is die vrugte geneig om by oestyd klein te wees, veral as jy nie vinnig genoeg uitdun nie,” verduidelik Du Plessis. “So daar was ’n pertinente verskil in vruggrootte tussen die Klein Karoo en die Bergrivier.”

Hy wys egter daarop dat swaarder vrugset nie die enigste rede vir kleiner vrugte in die Klein Karoo was nie. “In my opinie is dit omdat Eskom die produsente se krag hier in November en Desember vir agt ure per dag afgesit het. Produsente in veral die Klein Karoo, wat ’n droër streek is, kon nie deur hulle besproeiing kom nie.”

Gelukkig het ’n paar tydige reënbuie in Desember baie skade wat droë boorde kon gelei het, afgeweer, voeg Du Plessis by.

Nieteenstaande beurtkrag, reken Du Plessis Eskom nie as produsente se ergste beproewing nie. “Ons frustrasies in terme van die logistiek is enorm. Toe ons hier by week 8–9 African Delight en Angeleno gepluk het, was die hawe reeds 14 dae agter – dit wil sê dat skepe 14 dae moes wag om in die hawe in te kom.”

Vragskepe kan dikwels nie bekostig om te wag nie, so vertragings beteken dat baie skepe eerder verbyhou en Suid-Afrikaanse vrugte dus minder gereeld gelaai kan word.

Die toename in pruimuitvoere na die VSA, van 333 000 kartonne in 2021–22 na 715 000 kartonne in 2022–23, het darem gehelp om druk in tradisionele markte te verlaag en beter pryse te ondersteun.

Daarby is die meer gunstige wisselkoers en dalende kunsmis- en brandstofpryse nog redes vir produsente om positief te wees, solank hulle bly fokus op kwaliteit, reken Du Plessis. “Alles dui daarop dat produsente eerder effe laer volumes per hektaar moet produseer maar groter vrugte moet verpak.”

Maar Kaapstad-hawe se swak prestasie in die afgelope seisoen bekommer Du Plessis. Hy skat tafeldruiwe en pruime saam het in 2022–23 omtrent 3 000 minder skeepshouers as verwag deur die hawe gestuur. Die goeie herfsreëns dui op groot oeste volgende seisoen, maar sal die hawe dit kan hanteer?

“As niks verbeter nie, gaan volgende seisoen ’n potensiële fiasko wees,” waarsku hy. “’’n Mooi oes, waaroor produsente gewoonlik baie opgewonde is, is nou ewe skielik ons grootste gevaar.”

Andrew Hacking, technical adviser

“I think the reality is that we squeaked through this year because our plum crop was down by 2 million cartons or thereabouts, and table grapes by about 8 million,” says technical adviser Andrew Hacking.

He attributes reduced yields in the Boland to reduced fruit set and size. Insufficient chill accumulation over a mild winter delayed flowering by a week but fruit matured at the same time as the previous season, so the growing season was effectively a week shorter.

“The fruit grows 4–5 mm a week, so you lose one fruit count,” explains Hacking. “In the same orchards, we peaked one count lower this year than last year despite taking 25% less fruit off the tree.”

Like Du Plessis, Hacking believes that load-shedding impacted production in especially the Klein Karoo. “One of my growers lost an entire Fortune crop due to internal browning. I think that was partly because he couldn’t irrigate when he should due to load-shedding.”

Load-shedding also affected the postharvest handling of the fruit. “Increased shrivelling and internal browning go back to the fact that we can’t handle the product as it’s meant to be handled. We’re out of protocol, courtesy of Eskom.”

The combination of load-shedding and logistical headaches seemed set to sabotage 2022–23, but the favourable exchange rate and lower volumes led to better prices. “It’s probably a very good thing we didn’t have a huge crop,” notes Hacking, “because the docks have been frightful.”

Although this season ended well, Hacking cautions against complacency. “We’re heading for an on season. We need to prune hard so that we have to thin less hard.”

André Smit, landboukundige konsultant en Hortgro Stone direkteur

Benewens klimaatsfaktore en beurtkrag is daar ook ander – meer positiewe – redes waarom veral pruimvolumes die afgelope seisoen minder was, volgens André Smit. “Produsente het laasjaar met die slegte pryse en die slegte ervaring besef dat hulle eerder kwaliteit vrugte moet voorberei en nie net volume najaag nie,” sê hy.

Produsente het in 2022–23 harder uitgedun en vir beter vruggroottes gemik. Baie uitvoerders het ook besluit om nie kruisbestuiwers te pak nie, omdat die kwaliteit van meeste kruisbestuiwers swakker as dié van primêre kultivars is.

“Dit alles, tesame met die effek van beurtkrag en klimaat, het bygedra dat ons 2 miljoen kartonne minder gehad het,” sê Smit, “maar oor die algemeen het ons ’n beter kwaliteit produk daar gestel.”

Logistieke struikelblokke by die hawe het ongelukkig kwaliteit benadeel. Dit was veral problematies vir nektariens omdat hulle meer sensitief is vir langer vervoertye. Pruime het minder deurgeloop aangesien die ergste vertragings later in die seisoen was, en later kultivars nie so sensitief as vroeë kultivars is nie.

Alhoewel Smit steenvrugprodusente se frustrasies rondom die hawe beaam, wys hy uit dat 2023 besonders winderig was. Die Kaapstad-hawe het in Januarie en Februarie 2023 saam 431 ure as gevolg van wind verloor, teenoor 274 ure vir dieselfde tydperk verlede jaar. Die 431 ure verklaar grootliks die 14 dae wat die hawe teen week 8–9 agter was.

Nieteenstaande die uitdagings is Smit positief dat die pruimbedryf ’n draaipunt bereik en goeie vooruitsigte het. Maar hy beklemtoon dat vrugkwaliteit en eetervaring die toekoms van die bedryf gaan bepaal.

“Dit is regtig belangrik dat ons kyk na ons smaakprofiel en die waarde wat ons vir die mark aanbied,” sê hy. “Klas 1 kartonne per hektaar is uiters belangrik vir winsgewendheid maar dit moet iets wees wat die verbruiker wil hê.”

Die laer 2022–23 steenvrug- en tafeldruifvolumes het produsente definitief gehelp om hulle vrugte makliker en teen beter pryse te verkoop. Dit het ook die druk op infrastruktuur en logistiek effens verlig. Volgende seisoen gaan heel moontlik weer groter volumes sien – maar kan rekordoeste dalk meer van ’n probleem as ’n seën wees?

Back To Top