Skip to content
Training

Produksiesbestuurders voltooi vaardigheidskursus

Deur Kara van der Berg

Produksiebestuurders is leiers op plase en werk met vrugte en mense. Daarom is dit belangrik om nuwe bestuurders toe te rus met die nodige leierskapsvaardighede.

Dit is die mening van Pieter Rabe, Suiderland Plase se groepsbestuurder van menslike hulpbronne. Rabe het gepraat tydens die tweede  produksiebestuurder toekenningsgeleentheid wat deur Hortgro en Mazars gehou is. Verskeie van Suiderland Plase se jong leiers was deel van die program. Rabe, het voorts gesê dat dit belangrik is vir produksiebestuurders om gesag te kan toepas. “Toesighouers wat onder julle val sal na julle luister as julle gesag toepas en goeie leierskap wys. Dis hoekom ons by die projek wou betrokke raak.”

Altesaam 17 produksiebestuurders en toesighouers het onlangs hul  leierskapsontwikkelingskursus voltooi en het hul sertifikate tydens ʼn funksie op Riebeeck-Kasteel ontvang.

Die leierskapontwikkeling en -asseseringsentrum vir produksiebestuurders is in 2019 deur Mazars vir Hortgro ontwikkel met ondersteuning deur die  AgriSETA. Die doel is om produksiebestuurders in  die vrugtebedryf  se vaardighede te ontwikkel en sodoende produktiwiteit en doeltreffendheid op plase en pakhuise te verbeter.

Mazars Advisory het as diensverskaffer opgetree en die werkswinkels gefassiliteer. Hierdie is die tweede groep wat die kursus voltooi. In 2021 het drie vroue ook vir die eerste keer deelgeneem.

Astrid Arendse, Hortgro se menslike hulpbronbestuurder, wat gehelp het om die projek te begin, het beklemtoon hoe belangrik hierdie tipe geleenthede in die landbousektor is. “Leierskap- en bestuursvaardighede is kritiese vaardighede in die landbousektor. Deur hierdie program wil ons  produksiebestuurders  met die nodige vaardighede toerus om in ‘n komplekse landskap te werk,” het sy gesê. “Die kursus is so saamgestel dat die kandidate van mekaar leer en netwerke bou.”

Deel van die  kursus  was ʼn groepstaak waarin deelnemers moes  bepaal hoe om personeelbetrokkenheid  op plase te verbeter. Hulle het van die vaardighede wat hulle geleer het tydens die kursus gebruik om hierdie taak te voltooi. Twee van die deelnemers, Wilmour Sampson en Thobela Guqaza het hulle bevindings tydens die funksie gedeel. Hulle moes praktiese oplossings vir probleme waarmee almal op hulle plase te doen kry, vind.

“ʼn Belangrike les wat ek geleer het is dat ons almal verskillende bestuurstyle het. Daar is nog verouderde  bestuurspraktyke op ons plase. Hierdie kursus het my geleer om nuwe style te gebruik wat beter werk,” het Wilmour gesê.

Johane Burrows, een van die drie vroue wat die  kursus voltooi het, het gesê sy het geleer om te deligeer. “Ek het in die verlede gesukkel om take uit te deel en vertroue in werkers te hê. Ek wil vir almal wat deel was van hierdie projek, dankie sê. Julle het my potensiaal gesien en my gehelp om ʼn beter leier te word.”

Sy het ook gesê dat dit vir haar baie beteken het dat daar ander  vroue in die groep was. “Dit is ʼn mansgedrewe bedryf. So dit het baie beteken dat julle plek gemaak het vir ons. Ek hoop dat daar volgende jaar nog meer vroue gaan deelneem.”

Arendse het afgesluit deur te sê sy hoop alles wat hulle geleer het was van waarde vir hulle. “Ek hoop julle sal wat julle geleer het terug vat na julle plase en pakhuise en ʼn impak maak.”

Vir meer inligting oor die kursus, laai ‘n dokument in Engels hier af: Leadershop project_Mazars info

 

 

 

Back To Top