skip to Main Content
Ripe Sweet Peach Fruits Growing On A Peach Tree Branch

Robertson Vrugteprodusente Inligtingsdag 2019

Deur Grethe Bestbier

’n Familie wat vroue respekteer

Die boeregemeenskap is ’n spesiale familie, het IPV Hoof Uitvoerende Beampte Wiehahn Victor gesê by ’n tegniese inlingtingsdag vir vrugteprodusente wat onlangs deur die Inmaakvrugte Produsente Vereniging en Hortgro Stone aangebied is. Die inligtingsdag by die Graham & Rhona Beck Vaardigheidsentrum op Robertson, is deur ’n stewige groep produsente, tegniese kenners, landbounavorsers en joernaliste bygewoon. “Die doel van die program is om ons anders te laat dink, om met ander oë te kyk en ons harte te ondersoek,” het Victor gesê. Anthony Dicey, IPV Voorsitter het in sy verwelkoming ook die grootliks manlike gehoor aangemaan om vrouens te respekteer in ’n politieke klimaat van geslagsgebaseerde geweld.

Anderkant die reënboog

“Die dryfveer van besighede in Suid-Afrika behoort nie te wees om geld te maak nie, maar eerder om doelgerig en nuttig te wees. As jy nie nuttig is nie, verloor jy jou relevansie.” Dit was die mening van Chris Burgess, Landbouweekblad se redakteur. Burgess het ’n oorsig gegee van wat in Suid-Afrika aangaan en die gehoor aangemoedig om nuwe perspektiewe te ontwikkel. “Dit is belangrik om as landbouers ons entoesiasme te herontdek en onsself af te vra waarom ons in die eerste plek boer.  In ’n land met baie onsekerheid, uitdagende omstandighede en ’n groeiende bevolking, is ekonomiese groei belangriker as ooit. As ons nie daarin gaan slaag om die ekonomie te groei nie, is ons daarmee heen,” sê Burgess. “Daarom moet ons landbou inspan om werk te skep, mense op te hef en armoede uit te wis, wat net kan gebeur as ons ondersteuning van bruin en swart Suid-Afrikaners kry.”

Grondbeginsels van transformasie

Twee dinge is belangrik vir suksesvolle transformasie en beginselgesentreerde mentorskap: roeping en verbintenis. Ettiene van Heerden, verteenwoordiger van Agri-Dwala ’n suksesvolle BEE boerderyprojek, het boere aangemoedig om die goeie dinge wat hulle ontvang het, met ander te deel. “Jy is iemand anders se antwoord tot gebed en deur transformasie kan jy iemand se wonderwerk ‘n werklikheid maak. Jy is geroep om ’n verskil te maak as ’n katalisator van verandering.” Van Heerden het ook gesê dat die beste manier om vertroue te wen en transformasie te bewerkstellig, deur die skep van ’n verbintenis is. Wanneer jy ’n belofte maak word jou aksies en besluite nie deur omstandighede beïnvloed nie. “Verbind jouself om mense hoop te gee. Dit sal jou verplig om jou beloftes na te kom,” meen Van Heerden.

Kwekery tendense op die pad vorentoe

Frederik Voigt van SAPO Trust het ’n oorsig gegee oor die uitdagings, geleenthede en tendense wat die kwekerybedryf tans ondervind. Die kern van die storie, sê Voigt, is dat die Suid-Afrikaanse bedryf ’n goeie reeks van getoetste onderstamme beskikbaar het. Die bedryf belê ook in die beskikbaarheid en beskostigbaarheid van weefselkultuur plantmateriaal. Alhoewel dit uitdagings bied vir kwekers, sien ons steeds op internasionale vlak dat plante in potte en in vitro onderstamme die regte pad is om te stap. “Om in potte te kweek is die toekoms. Daar is sekere voordele, maar op die oomblik kom dit teen ’n premie,” sê Voigt. “Dit gaan duurder wees en ons gaan moet beplan, maar dit sal uiteindelik die moeite werd wees.”

Persepsies oor gewasbeskerming

In ’n wêreld wat toenemend gesondheidsbewus raak, en waar emosies dikwels meer tel as feite, raak dit al hoe moeiliker om die koring van die kaf te skei. Landbouers het dus ’n reuse verantwoordelikheid om die bedryf se beeld uit te dra, te verbeter en om etiese boerderybeginsels aan die dag te lê. Só het Margaret Reinecke, Wes-Kaap en Oos-Kaap verkoopsbestuurder van Bayer gesê. Die boerderybedryf word tans geteiken oor die gebruik van chemiese middels,  en spesifiek die onkruiddoder glifosaat ( beter bekend as Roundup) se beweerde karsinogeniese eienskappe. Die gebruik van chemiese middels in landbou veroorsaak veral in Europa kontroversie en hierdie netelige situasie moet landbouers daaraan herinner dat geen boer “op sy eie eiland sit nie” en dat alle landbouers verantwoordelik moet omgaan met etiese produksiepraktyke. Landbou is gegrond op wetenskap en navorsing, daarsonder stel jy jouself bloot aan ekonomiese sabotasie.

Vrugtevlieg – nuutste inligting

Alhoewel die bedryf steeds deurloop onder vrugtevlieg hét ons strategieë om dit te bestry, het Elsje Schreuder van FruitFly Africa gesê. Behalwe dat vrugtevlieë groot direkte skade aan boorde kan aanrig, is dit ook ’n internasionale kwarentynplaag wat kan lei tot handelsbeperkings wat ernstige gevolge vir produsente inhou en hele streke kan beïnvloed. Volgens haar is die steunpilaar van beheer, monitering. “Hoe kan ons iets beheer as ons nie weet wat in die boord aangaan nie. Waar is die vlieë? Hoeveel is daar? FruitFly Africa fokus ook op lugspatte, SIT tegnieke (populasiebeheer deur die vrylating steriele insekte), lok-en-dood middels, die bestuur van alternatiewe gashere soos huistuine en dorpe, en boordsanitasie. “Hoe vroeër ons ingryp, hoe beter is die beheer,” sê Schreuder. Sy het ook die gehoor se aandag gevestig op die Steenvrug Vrugtevlieg Beheerstelsel (Stone fruit FFMS) wat vanaf 1 September ingestel is deur die Europese Unie. Dit behels nuwe regulasies op steenvrugte en ’n nuwe stelselbenadering. Dit is belangrik vir landbouers om hulself vertroud te maak met hierdie regulasies en maatreëls om seker te maak dat fitosanitêre risiko’s bestuur word.

 Is dit lonend om vrugte te droog?

Gedroogde en geprosesseerde sagtevrugte is ’n belangrike subsektor van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf wat sowat 35% van die totale produksie verteenwoordig. Op die vraag of  dit  lonend is om vrugte te droog?” het Mariette Kotzé, Hortgro se Operasionele Bestuurder die volgende geantwoord: “Dat  waarde ongetwyfeld toegevoeg word wanneer vrugte verwerk word. Om vrugte te prosesseer verseker die optimalisering van vrugte op die boom. Tog is daar heelwat faktore wat dit kan beïnvloed. Alles wat gebeur, het ’n direkte invloed op winsgewendheid en ons is nie daarteen beskerm nie. Alles in die waardeketting is met mekaar verbind, en dit is belangrik om jou mark te verstaan en te weet wat jy doen. Die belangrikheid van basiese ekonomiese beginsels, soos produksiekostes, uitpaksyfers, produkpryse, kostebeheer, hulpbrongebruik, markte en kompetisie, sowel as verbruikerstendense, kan nie onderskat word nie.”

Back To Top