Stories van ‘n troebaboer
Victor Fredericks is ’n man wat boer met ’n lied in sy hart. Want hy het ’n storie om te vertel. Inderwaarheid vele stories, kontreistories … Soveel so, hy het onlangs sy eerste bundel kortverhale die lig laat sien. Gerrit Rautenbach het hom raakgekuier op Speanvlei naby Wolseley.
Willem Fredericks sit rustig in die wintersonnetjie op sy grasperk by sy huis op Speanvlei. Daar is so permanente glimlag om sy mondhoeke. Tot in sy oë. Dit lyk of niks hom kan versteur nie. Nie eers Covid-19 nie. By hom is alles warm, veilig en in plek. Al werk hy nie meer nie, weet hy presies wat aangaan op Speanvlei. Sy oor op die grond is sy seun Victor, voorman van die plaas.
“Pa het van altyd af ’n grootse rol in my lewe gespeel,” begin Victor. “Nie net oor boerdery nie, maar oor die lewe, oor alles. Ek onthou hoe hy kleintyd in die aande gesit het met die ou Groot Verseboek op sy knieë. Soos “Muskiete jag” van AD Keet: Jou vabond, wag / ek sal jou kry/ van jou sal net ’n bloedkol bly / hier teen my kamermure … Pa het gesorg dat woorde, sinne en stories deel uitmaak van my bestaan. En bestaansreg.”
Op ’n reëndag in Victor se 15de winter het hy sy pa en sy span gesien druipnat bome snoei en sy eerste digwoorde het vanself daaruit gerol: Terwyl die Boland se reën neerdaal op jou / Jou geelpak, reënpak, watersambreel / Jou rooi en silwer snoeiskêr sit vasgevries is jou hand / En jou voete vasgenael op jou trap …
Vandaar af was die woorde losgelaat. Maar hy het homself nie geïsoleer nie. Eers het hy vir Patrick Peterson, destydse voorsitter van SA Skrywersvereniging leer ken, maar Patrick is kort daarna onverwags oorlede. Op die begrafnis ontmoet hy vir Diana Ferrus en ’n jaar later by Patrick se herdenkingsdiens ook vir Elias P. Nel, Willem Fransman Jr., Heindrich Wyngaard en Willa Boezak. Almal lede van die SA Skrywersvereniging wat Victor oortuig om ook lid te word. In 2001 gee hy sy eerste digbundel, Ons stryd is ook in Afrikaans uit.
“Dit het my R900 gekos om 50 eksemplare te laat druk, daai tyd. Almal verkoop, sonder wins. Het nie eers een vir myself nie,” vertel hy. En daar begin besef ’n mens wat sekerlik die grootste deel van die dryfveer is wat Victor laat skryf. Dit gaan oor die onthou. Daar is soveel wonderlike stories daarbuite, maar as iemand dit nie neerskryf nie, is dit vir ewig weg. “Die storie moet vertel word,” sê hy indringend.
“Kort daarna het ek ’n skryfskool van Wium en Dorothea van Zyl by die UWK bygewoon. Daar het ek vir die eerste keer begin workshop aan die kortverhaal as genre. En ek sien dié ding byt … en hy byt lekker.”
Waar sy digkuns ’n struggle-stem gehad het, is sy kortverhale onthou-stories uit sy kontrei. Die bundel se naam verduidelik dit: Voetpad oor die Witzenberg. En so ook die lekkerte van stories se name, soos “Boeta At se hophuis”, “Die stryd van Johaans”, “Draadloos Pastoor” en “Vra vir Kallie Twak” om net enkeles te noem. “Oom Ammie Kammies het sy gewildheid op die dorp gekry deur sy houtverkoop-besigheid en saam met die hout kon jy ook sommer ’n storie saamneem huis toe,” skryf Victor in ’n storie genaamd “Die ding”.
“Victor is ’n gebore kunstenaar. Ek glo dat sy grootwordjare op die plaas ’n groot invloed gehad het op sy vorming as ’n kunstenaar. Ook die kerk se invloed kan nie onderskat word nie,” sê Diana Ferrus. “Ek en Victor het saam aan die storie van Ansela van de Caab geskryf. Hy het my heel verbaas wanneer hy my bel terwyl hy op die stasie gesit het en net daar ’n lied vir die storie geskryf het. Die musiek vir hierdie storie is van die beste wat ek nog gehoor het. Victor het ’n fyn aanvoeling vir die nuanse in stories en kan ’n egte lied skryf met gepaste emosie. Victor is een van die mees onderskatte kunstenaars tans.” En daarby voeg Elias P. Nel: “Hy hanteer verhaalelemente in die kontreikuns baie goed. Victor is ’n baie bruikbare storieverteller.”
Nog is dit die einde niet, want sy kunsstreep trek verby woorde in die musiek in. So het hy, saam met Willem Fransman Jr. se Kreakon Toneelgeselskap Leipoldt soos nooit vantevore nie geskep waarvoor Victor al die toonsettings gedoen het. Hy het verder ook vir Diana Ferrus’n toonsetting van haar gedig oor Sarah Baartman gedoen.
In 2017 het hy ingeval op die plaas as sy pa se tweede in bevel. Want Pa was besig om klaar te maak. Pa het hom baie van vrugteboerdery geleer, maar Pa het ook die wonder van woorde by hom wakker gemaak. So kom Pa toe dus een dag vroeg 2018 by die huis aan met ’n pamflet. ’n Uitnodiging om deel te neem aan Agri’s Got Talent. “Toe skryf ek ’n ding rondom my twee meisiekinders, Lesli-Ann en Victoria… ‘To my girls, that I love so …’ So jazzerige song en ek stuur hom in. En daar laat weet hulle my, ek’s op pad Agri’s got Talent toe! Daarvoor skryf ek toe “Milky ways” en daar aangekom, is die ding verwerk vir ’n hele band, met saxophones en al (https://www.youtube.com/watch?v=y6iuzRyJVb8 ). Ek kon nie glo dis my eie musiek nie. Ek het uiteindelik die Top 10 gehaal… Agri’s was ‘n goeie ervaring. Goed vir ’n mens se siel, ek kan dit aanbeveel. Vir die wat wil deelneem én die wat wil cheer!”
Vir Victor se Agri’s Got Talent-gala-aand reël Nic Dicey, direkteur en mede-eienaar van La Plaisante waar Victor werk, ’n hele bus vol van sy medewerkers om hom te kom ondersteun. Ter motivering sê Nic: “AGT is duidelik goed vir die werknemers, maar dis ook goed vir die plaas. Want na alles kom die positiewe entoesiasme terug na die werkplek toe. Vir die klompie weke van AGT is daar ’n spesiale energie op die plaas. Maar die positiwiteit is lank na die Gala-aand nog daar. Dis goed vir ons almal om te weet Victor, een van onse mense, was ook daar.”
Musiek, dig en kortverhale is drie kante van Victor se kunsvierkant. Drama voltooi die prentjie. Kom laat ons praat is sy eie gemeenskapstuk rondom vigs en tik. “Ek nooi die mense dat ons praat, dan meet ons dit uit, in die vorm van toneelspel. Dis my manier om mense te help, ’n bietjie meer te laat verstaan.”
Tussen alles deur kom daar ook nog Corona, maar Victor is ’n voorman wat help om die broodmandjie van die land vol te hou. So val hy in, elke vroegdag en boer voort, maar vergeet ook nie van sy kuns nie. “Soos die grendeltyd ons vashou, moes ons, maar nes die res van die kunstebedryf, virtueel gaan. Ons het juis op Jeugdag, 16 Junie, so konsert gehou. Jy kan maar gaan kyk op YouTube” –https://youtu.be/Cx8eT_pzKaw?t=326.
Victor Fredericks is ’n man wat graag iets wil nalaat. “’n Mens wil graag van geweet wees,” het skrywer Margaret Bakkes gesê. “Die storie gaan alles oor die onthou,” het haar seun Johan Bakkes later jare gesê. Dalk daarom dat Victor ’n voetpad oor sy Witzenberg aangepak het om sy mense se stories vas te vat. So is hy ’n man wat woorde en musiek pleeg om mense se sielshonger te voed. Net so is hy is ook ’n man wat vroegoggend in die boord regstaan. Want mense se honger het twee kante …
“Ek is bang ek sterwe hier op aarde en het nie gedoen wat ek moes gedoen het nie.”
***
Vir jou eie eksemplaar van Victor se Witzenberg-woorde teen R150, stuur ’n boodskap na 076 964 7968.