
Tantième-versoek vir pruime wat swak geset het
Deur dr. Leon von Mollendorff, algemene bestuurder van Culdevco
Culdevco het in samewerking met die Landbounavorsingsraad (LNR) ‘n aantal belowende pruim kultivars vrygestel wat ‘n groot impak op die Suid-Afrikaase pruimbedryf gehad het.
Die volgende Culdevco gelisensieerde pruim kultivars is reeds in groot hoeveelhede met sukses in Suid-Afrika aangeplant; Ruby Sun, Ruby Crisp, African Delight® en Ruby Star. Elkeen van die kultivars het unieke eienskappe. Ruby Sun is ‘n steeds groeiende kultivar wat voor Kersfees geoes word met ‘n uitstekende eetgehalte, goeie vruggootte en goeie houvermoё. African Delight® is die pruim kultivar wat tans in die grootste hoeveelhede uitgevoer word met uitstaande eienskappe soos ‘n uitstekende produksievermoё, eetkwaliteit, vruggrootte en opbergingsvermoё. Beide Ruby Sun en African Delight® lewer jaar op jaar uitstekende resultate vir die Suid-Afrikaanse pruim produsente. Ruby Star is ‘n laat-seisoen kultivar wat meestal na African Delight® ge-oes word met ‘n uitstekende vruggrootte en opbergingsvermoё. Ruby Crisp daarenteen is ‘n mid-seisoen kultivar en is die enigste Culdevco gelisensieerde pruim met ‘n volrooi vrugweefsel wat by enkel- of dubbel temperatuur opgeberg kan word.
Ten spyte van die goeie eienskappe van Ruby Star en Ruby Crisp was daar na afloop van die 2019/20 seisoen ‘n versoek van sekere Klein-Karoo pruimprodusente vir die kwytskelding en/of verligting van produksie tantième van die twee Culdevco gelisensieerde pruimkultivars. Dit na aanleiding van die swakker set van Ruby Star en Ruby Crisp in sekere streke van die Klein-Karoo gedurende die 2019/20 seisoen. Die versoek van produsente is op die Culdevco-direksievergaderings van 18 Februarie 2020 en 26 Mei 2020 bespreek.
Dit is duidelik dat die veranderende klimaatspatroon gedurende die blomtydperk van pruime die afgelope twee seisoene ‘n groot invloed op die set van spesifieke pruim kultivars gehad het. Veral kultivars soos Angeleno®, Ruby Star and Ruby Crisp is van die kultivars wat deur die abnormale warm temperature gedurende die blomtyd negatief beïnvloed is. Die verskynsel is ook op 9 Desember 2019 deur akademici bespreek om antwoorde hiervoor te kry.
Die swak set van Ruby Star en Ruby Crisp het nie in alle areas die afgelope seisoen voorgekom nie. Historiese data van 2016 en 2017 wys ook daarop dat Ruby Star en Ruby Crisp wel redelik tot goed gevaar het in die streke waar daar vanjaar probleme met set ondervind is. Daarby het die veranderende klimaatspatroon die afgelope seisoen ook ‘n impak op die blompatroon van kruisbestuiwers en die sinkronisasie daarvan met die hoofkultivars gehad – byvoorbeeld Ruby Crisp met veral Fortune as kruisbestuiwer.
Die gevolgtrekking wat deur tegniese adviseurs en akademici gemaak is, is dat beide Ruby Star en Ruby Crisp die afgelope seisoen swak geset het as gevolg van klimaatsveranderinge en die impak daarvan op die biologiese sisteme van die boom. Hieroor het Culdevco geen beheer gehad nie.
Produsente moet ook net weer daarop let dat die tantième van Culdevco gelisensieerde pruimkultivars ‘n self-regulerende sisteem is omdat tantième net betaal word op vrugte wat gelewer en uitgevoer is.
Daarby het Culdevco ook nie eensydige seggenskap oor die afskaffing van produksie tantième nie, aangesien die LNR die eienaar van die kultivars is. Derhalwe was die besluit van die Culdevco-direksie dat Culdevco nie ‘n verslapping in die produksie tantième van die twee pruimkultivars kan toestaan nie.
Culdevco is deeglik bewus van die finansiёle verliese wat ‘n produsent moet dra as kultivars nie ‘n goeie opbrengs van die regte gehalte lewer nie. Culdevco het dan ook reeds sedert 2014 ‘n senior evalueerder in diens om kultivars te identifiseer wat beter aangepas is by Suid-Afrikaase klimaatstoestande en sodoende die risiko’s vir die produsent te beperk.
Culdevco ondersteun ook die aksies van Hortgro Stone om kultivars in die Pro-Hort persele in die verskillende klimaatstreke te evalueer. Voorts het Culdevco ook vanaf die ontstaan van Provar van hulle evaluasie dienste gebruik gemaak. Hierdie aksies is uitsluitlik daarop gerig om risikos van Culdevco gelisensieerde kultivars vir die produsent tot die minimum te beperk. Met die Pro-Hort evaluasie proses gaan Culdevco beter inligting kry wat produsente instaat sal stel om beter ingeligte aanplantings besluite te neem. Daar sal egter altyd ‘n mate van risiko bly gegewe die onvoorspelbaarheid van die klimaat. Derhalwe kan Culdevco nie waarborge weens die veranderende klimaatspatrone gee nie.
Verder wil dit voorkom of Ruby Crisp wel nie dieselfde drag as Ruby Star lewer nie. Ruby Crisp het ongelukkig ook ‘n geneigdheid om “dooie hout” in ouer raamtakke te ontwikkel. Die betrokke produsente moet derhalwe hulle tegniese adviseurs kontak vir hulp en oplossings in die verband.
Een moontlike oorsaak van krake by Ruby Crisp kan ook moontlik toegeskryf word aan die gebruik van ‘n Flordaguard onderstam. Ruby Crisp is nie op Flordaguard geёvalueer nie. Culdevco is ook bewus dat daar wel enkele krake by sekere produsente in nie-voldraende jong boorde voorgekom het. Ons ondervinding is dat van die persele waar krake wel voorgekom het, wel betekenisvol verminder of verdwyn met ouerwordende en volwasse boorde.
Culdevco is ook in die proses om kundige pruim tegniese adviseurs bymekaar te kry om ‘n dinkskrum te hou. Die doel van die dinkskrum is om afwykende reaksies wat produsente tans met die vernaamste Culdevco gelisensieerde pruime ondervind, te bespreek en oplossings te soek. Die inligtingstukke wat vroeёr oor die vernaamste Culdevco gelisensieerde kultivars versprei is en op die Culdevco webwerf verskyn, sal derhalwe aangepas en weer versprei word indien beduidende nuwe inligting na vore kom
Culdevco is ‘n produsente organisasie en staan uiters simpatiek teenoor alle Suid-Afrikaanse sagtevrugte produsente. Ons sal derhalwe voortgaan om alles in ons vermoë te doen om die belange van produsente te beskerm en aanpassings maak waar nodig om toekomstige foute en probleme te beperk.