STUDIE VAN HORTOLOGIE BOU BEDRYF
Hortologie as studieveld het die afgelope twintig jaar aansienklik aantrekliker geword vir studente, sê prof. Wiehann Steyn, algemene bestuurder by Hortgro Science.
“In 2004, byvoorbeeld, was daar net ses studente wat Hortologie 434 as vak aan die Universiteit van Stellenbosch (US) geneem het, teenoor 22 studente vanjaar.”
Volgens Steyn is daar ook in ander wêrelddele, soos Kalifornië, ‘n toename in hortologie studente waargeneem. “Aanduidings is dat die toenemende integrasie van tegnologie (hommeltuie, geografiese inligtingstelsels/GIS, robotika en inligtingstegnologie) landbou meer sexy begin maak vir jong mense. Tegnologie is beslis ‘n lokpunt. Onder die jeug, is daar ook die gewaarwording dat met die wêreldbevolking wat toeneem, daar meer werk gaan wees vir mense in primêre voedselproduksie.”
Steyn meen ook dat positiewe geluide in die media oor veral bessies, sitrus, avokadopere en neute jong mense in landbou laat belangstel. “Die beskikbaarheid van beurse en die goeie beeld van die groter georganiseerde landboubedrywe en meer loopbaanbemarkingsaksies, speel ook beslis ‘n rol.” [ Kyk gerus: https://www.youtube.com/watch?v=Yb425aVYsRQ&t=15s]
Die sagtevrugtebedryf vaar besonder goed met die opleiding en indiensneming van hortologie studente. Vanaf 2000 tot 2020 het altesaam 115 studente MSc-grade behaal, waarvan 54% van dié studente se navorsing oor die sagtevrugtebedryf was. In dieselfde tydperk het 62 van die MSc-gegradueerdes hulself in tegniese poste in die bedryf gevestig. Die sagtevrugtebedryf het ook 21 PhD-studente opgelewer in die tyd (2000 – 2020).
Sien analise hier: Horticulture Postgrad Trends Analysis_2000-2020_web