Skip to content
Picture1

Tweede groep produksiebestuurders kwalifiseer in 2022

Nog ’n groep produksiebestuurders het hulle sertifikate ontvang na hulle leierskapsontwikkelingskursus wat deur Hortgro aangebied en deur Mazars gefasiliteer is. Dit is die tweede groep wat vanjaar die kursus voltooi het.

Altesaam 16 produksiebestuurders van verskeie plase het aan die kursus deelgeneem. Die trotse deelnemers het hulle sertifikate by ’n geleentheid in Piketberg ontvang. Sedert hierdie program begin is, is hierdie vierde groep wat die kursus voltooi  het. Hortgro hoop om volgende jaar weer twee groepe op te lei.

Die leierskapsontwikkeling- en assesseringsprogram vir produksiebestuurders is in 2019 deur Mazars vir Hortgro ontwikkel met fonds ondersteuning deur AgriSETA. Die doel is om produksiebestuurders in  die vrugtebedryf  se vaardighede te ontwikkel en sodoende produktiwiteit en doeltreffendheid op plase en pakhuise te verbeter.

Twee van die deelnemers het tydens die geleentheid gepraat oor hulle eie persoonlike ontwikkeling en die leierskapsvaardighede wat hul tydens die kursus opgedoen het. Hierdie opleiding is ’n voorbeeld van hoe landbou die toekoms binnegaan, het Tumiza Nkanunu, produksiebestuurder by Suiderlandplase gesê. “Ons met tegniese kennis met mekaar deel, kommunikeer en mekaar ondersteun.”

Die deelnemers het gesê hulle het baie by die program geleer, veral hoe om met verskillende mense te werk. “Ek het geleer hoe om mense inisiatief te gee en hulle te wys om geleenthede raak te sien en aan te gryp,” het Ryan Job gesê.

Een van die produksiebestuurders, Jason Baartman, het in 2017 aan Agri’s Got Talent, ’n sangkompetisie en persoonlike ontwikkelingsprogram deelgeneem en tweede gekom. Baartman, ’n kletsrymer in sy vrye tyd, het destyds ’n oorspronklike komposisie opgevoer wat geïnspireer was deur sy werk in landbou. “Hierdie kursus was ongelooflik,” het Baartman gesê. “Ek het geleer om ’n beter bestuurder te wees en die beste uit mense te kry.”

Vir meer inligting oor die kursus, laai inligting hier af: Leadership Mazars info

Picture1

Agter van links na regs: Ryan Job, Franco Isaacs, Arend Nomdo, Danie Goosen, Jovan Claassen. Middel van links na regs: Melikhaya Peter, Thelma Scholtz, Jacob Nel, Devanté Petersen, Tumiza Nkanunu, Anrich Sherwin Titus, Henrico van Litsenborgh, Astrid Arendse (Hortgro). Voor van links na regs: Jason Baartman, Raymond Hose, Francois La Grange. Afwesig: Tiaan Carstens, Marnus Schoeman

Back To Top