Die storie van pere
Deur Anna Mouton
Pere het vêr gekom in die 25–65 miljoen jaar sedert hulle ontstaan in die berge van westelike China. Pere is houtagtige bome en struike in die genus Pyrus. Niemand is heeltemal seker hoeveel Pyrus-spesies daar is nie – dit kan enigiets tussen 20 en 80 wees. Die verwarring spruit gedeeltelik uit die natuurlike neiging van peerspesies om te verbaster. Genetiese studies wys dat pere in twee hoofgroepe val – Asiaties en Westers – wat geografies geskei is.
Asiatiese pere word volgens vruggrootte geklassifiseer. Die ertjiepere is bietjie soos houtappels – hulle word vir hulle mooi bloeisels geplant eerder as vir hulle klein vruggies. Asiatiese pere met groot vrugte word egter al vir meer as 2 500 jaar gekweek en hulle verbouing is reeds 1 500 jaar gelede in China op skrif gestel.
Kommersieel verboude Asiatiese pere is meestal Pyrus pyrifolia basters. Hulle vrugte is rond met bros vleis wat ’n sanderig tekstuur het. Meeste Asiatiese pere word steeds in Asië verbou, maar daar is deesdae ook boorde in ander dele van die wêreld. Alhoewel Asiatiese pere vir meeste Westerlinge nes appels lyk, verteenwoordig hulle byna twee-derdes van globale peer produksie. Suid-Afrikaners is beter vertroud met sogenaamde Europese pere – Pyrus communis subspesies communis. Hierdie is Westerse pere wat hoofsaaklik van die wilde Pyrus communis subspesies pyraster afstam. Europese pere is peervormig en het sagter vleis as Asiatiese pere.
’n Gawe van die gode
Skriftelike rekords wys dat pere al ten minste 3 000 jaar lank in Europa verbou word. Die Griekse digter Homeros is bekend vir sy epiese verhale, die Ilias en die Odussee. Dit is in laasgenoemde wat hy pere onder die gode se gawes lys. Die Antieke Grieke het tussen verskillende peerkultivars onderskei en goed geweet dat mens dit met steggies moes vermeerder. Verder was hulle bedrewe in tegnieke soos enting en ringelering.
Ten minste 40 peerkultivars was bekend aan die Romeine teen die eerste eeu. Die Ouere Plinius beskryf die voorkoms en geur van hierdie kultivars in sy Natuurgeskiedenis. Hy sê daarby dat vars pere onverteerbaar is en stel voor dat sy lesers hulle in heuning kook. Teen die Renaissance was daar honderde peerkultivars. In 1597 skryf John Gerard in sy kruieboek dat daar te veel soorte pere is om te tel. Hy noem dat een van sy kennisse ’n versameling van 60 voortreflike tipes het.
Deesdae is daar omtrent 3 000 Europese peerkultivars maar slegs 20–35 word kommersieel verbou. Conference het meer as die helfte van Europese en Williams Bon Chrétien meer as die helfte van Amerikaanse produksie in 2021–2022 gelewer. Argentinië is die grootste peerprodusent in die Suidelike Halfrond, en 70%–80% van hulle oes is Williams Bon Chrétien en Packham’s Triumph.
Pere kom Kaap toe
Met die vestiging van tuine om die skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te bevoorraad, was Jan van Riebeeck die eerste persoon om pere aan die Kaap te plant. Pere verskyn al reeds teen 1656 op ’n lys van die vrugtebome wat in die Kompanjiestuin groei.
Toestande aan die Kaap het die pere gepas. Die Nederlandse predikant Francois Valentijn het die Kompanjiestuin verskeie kere tussen 1685 en 1714 besoek. Volgens hom het die enorme peerbome wat in ’n sirkel in die middel van die hooflaning gegroei het, soos eikebome gelyk. Valentijn was ook vol komplimente vir die wonderlike saffraan- en winterpere, en die yslike – ofskoon waterige – bergamotte. Een van hierdie bome leef nog steeds en blom elke lente. Dit is die oudste aangeplante vrugteboom in Suid-Afrika, en waarskynlik ’n saffraan.
Pere het vinnig ’n stapel in Kaapse voedseltuine geword omdat dit maklik was om die vrugte vir die winter te preserveer. Daar het egter nog ’n paar honderd jaar verloop voordat kommersiële vrugteproduksie weggespring het. Die uitvinding van verkoelde verskeping het dit in 1892 vir die eerste keer moontlik gemaak om Suid-Afrikaanse perskes na Engeland uit te voer. Cecil John Rhodes was daai tyd die premier van die Kaapkolonie. Hy het dadelik ’n parlementêre komitee aangestel om vrugteproduksie en -uitvoere te ondersoek. Hulle het pere as een van die beste vrugsoorte vir uitvoer uitgewys.
In 1910 het die Kaapkolonie deel geword van die Unie van Suid-Afrika en vrugte-uitvoere het 200 000 kiste behaal. Pere was die mees uitgevoerde vrug.
Historiese peerboom in die Kompanjiestuin, Kaapstad. (Foto: Zunaid Allie | Stad Kaapstad.)
Die vader van die vrugtebedryf
Alhoewel baie mense tot die sukses van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf bygedra het, verdien een persoon – Harry Pickstone – spesiale erkenning. Pickstone is in 1865 in Engeland gebore. Sy eerste besoek aan Afrika was as ’n 19-jarige Britse skut wat in Betsjoeanaland gedien het. Hy het in 1888 na Kalifornië gereis vir die goudstormloop, maar uiteindelik werk gevind op vrugteplase.
Vier jaar later het Pickstone in die Kaap aangeland met ’n introduksiebrief aan Charles Rudd, die man wat De Beers saam met Rhodes begin het. Rudd het Pickstone aan Rhodes voorgestel en Pickstone het Rhodes oorreed om in die eerste kommersiële vrugteboomkwekery in Suid-Afrika te belê. Met £100 van Rhodes het Pickstone die plaas Nooitgedacht naby Stellenbosch gekoop en 50 000 vrugtebome vanaf Kalifornië ingevoer. Pickstone het egter later hierdie kwekery verlaat om ’n ander een naby Wellington te begin. Rhodes en Pickstone het aanhou saamwerk nadat Rhodes in 1896 as premier uitgedruk is. Rhodes het 29 plase aangekoop – hoofsaaklik vorige wynplase wat deur filloksera vernietig is – en hulle na vrugte omgesit. Dit het die stoomskipmaatskappye laat wakker skrik en hulle het begin om hulle koelkamer kapasiteit te vermeerder.
Pickstone was die eerste besturende direkteur van Rhodes Fruit Farms. Hy was onontbeerlik vir die sukses van dié besigheid, en dit het ander boere aangemoedig om ook na vrugte oor te skakel. Daarby het Pickstone se kwekery steeds top-kwaliteit vrugtebome en wingerdstokke aan die bedryf verskaf, en hy het bygedra tot die oprig van ’n groot verpakkingsdepot en inmaakfabriek vir vrugte.
Teen 1927 was daar 629 505 peerbome aangeteken in die Westelike Provinsie. Dit het na 1.8 in die Westelike Provinsie sowel as 226 668 in die Langkloof toegeneem teen 1970. Williams Bon Chrétien was die hoofkultivar en Ceres die hoofarea gedurende hierdie tydperk. Vandag is Suid-Afrika die tweede-grootste peerprodusent en -uitvoerder in die Suidelike Halfrond en die nommer ses peerprodusent in die wêreld. Jan van Riebeeck en Harry Pickstone het iets om op trots te wees.
Hierdie artikel sal in Engels verskyn in die Desember uitgawe van Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif. Die hele uitgawe is gewei aan pere, om in te pas met die Internasionale Peersimposium wat 22–26 Januarie 2023 in Stellenbosch plaasvind. Vind meer inligting oor die Peersimposium by www.pearsymposium2023.co.za.
Vir gratis tegniese inhoud, besoek gerus die Fresh Quarterly webwerf by www.freshquarterly.co.za.