Skip to content
4. Windbrekers By Boord Onder Nette

Van appels en krokodille

Deur Elise-Marie Steenkamp

Lae koue-behoefte appelkultivars, andersoortige windbrekers, innoverende meganisasie, hoë nektarienbome, en krokodille in besproeiingsdamme is maar van die interessante ervarings wat die Hortgro Science-span in Junie vanjaar op besoek aan die Limpopo gehad het.

Op boordbesoek reg langs ’n dam met ’n waarskuwingsbord vir krokodille daarnaas, laat mens katvoet loop, skerts Marno van der Westhuizen oor dié besoek aan die Laeveld.

3. Opleistelsel Besproeiingsdam
Besproeiingsdam met (somtyds) krokodille in.

Van der Westhuizen, Hugh Campbell en Wiehann Steyn, het net voor die derde Covid-golf sy greep in Gauteng versterk het, bedryfsrolspelers ontmoet. Die aanvanklike hoofdoel van die besoek was om ’n produsente-werkswinkel by Cullinan by te woon waar Van der Westhuizen ook die volgende fase van die Boord van die Toekoms, bekend as Hortgro Konsep-boorde, aan bedryfsrolspelers sou bekend stel. Weens Covid het die werkswinkel in die slag gebly. Aangesien al die reëlings reeds getref is, het die span besluit om voort te gaan met die besoek. “Ons wou ook die kans gebruik om gesig te wys, gedagtes te ruil en met boere te praat oor hulle navorsingsbehoeftes en uitdagings,” sê Van der Westhuizen.

2. Wiehann Hugh En
Louis de Wet, Wiehann Steyn (met sy rug na kamera), Hugh Campbell.

Daar is ook bande gebou met plaaslike universiteite en navorsingsinstansies. Die besoeke aan dr. Sandile Hadebe van die departement van plantproduksie, grondkunde en landbou-ingenieurswese aan die Universiteit van Limpopo, dr. Nicky Taylor van die departement plant- en grondwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria en prof. Bernard Slippers, direkteur van FABI (https://www.fabinet.up.ac.za/) was nuttig om toekomstige samewerkingsgeleenthede te ondersoek, wat volgens Van der Westhuizen baie belowend lyk.

Die blitsbesoek het by Deon de Beer, die produksiebestuurder van Marlo Farms se plaas in Mookgophong, Henk Cilliers van Somerhoek Boerdery en Leon Eksteen en Johan Brits, eienaar en produksiebestuurder van Bufland begin. Daar is ook by Louis de Wet, direkteur van Marlo Farms, op die hoofplaas in Polokwane ’n draai gemaak. Daar het hulle aanplantings van die L.N.R. se lae koue-behoefte Afrireeks gesien o.a. netjiese hoë digtheidsaanplantings op M9 onder net. Volgens De Wet en De Beer het tegniese konsultant, Tobie van Rooyen, se groenvingers bygedra tot die boorde se sukses. Daar is volgende huisbesoek afgelê by Müller Oosthuizen, Hortgro se streeksverteenwoordiger, en sy seun, Gerhard Oosthuizen van Ginger Gypsey in Modimolle. Die appelboord, perske-onderstam proef en veral die vernuwende twee-leier nektarienboorde onder nette was hier indrukwekkend, sê Van der Westhuizen. Die gasvrye Oosthuizens het natuurlik die kans benut om vir die Kapenaars te wys hoe mens nou regtig in die Laeveld kuier.

5. Plat Boordvloer Vergemaklik Snoei
Plat boordvloer vergemaklik snoei.

Volgens Van der Westhuizen is dit duidelik dat daar in die hele streek baie sterk innovasie plaasvind. “Produsente is gewillig om nuwe plantstelsels, onderstamme, nette en ander tegnologie te beproef. Ons het byvoorbeeld op Bufland nektarienboorde teëgekom wat heelwat hoër as normaal groei om ’n buffer te bied teen die ryp wat dikwels die onderste vrugte uithaal. Die spesifieke boorde word ook maklik gesnoei, uitgedun en ge-oes deur die gebruik van ’n spesiaal-ontwerpte platform wat deur ’n klein trekkertjie aangedryf word. Hulle het natuurlik die voordeel van plat en gelyk boordvloere wat hierdie praktyk moontlik maak,” sê Van der Westhuizen.

Om navorsing in ‘n streek te doen, is dit verkieslik dat daar ‘n plaaslike akademikus en moontlike nagraadse studente betrokke is. Navorsing oor ‘n groot afstand bly moeilik en duur. Daarom dan die besoek aan dr. Hadebe om meer uit te vind oor navorsingskapasiteit aan die Universteit van Limpopo. Dr. Taylor is tans besig om ‘n Hortgro-navorsingsprojek wat by die Oosthuizens uitgevoer is, te finaliseer. FABI is ‘n baie sterk instituut met aansienlike navorsingskapasiteit in gewasbeskerming, d.w.s. plantpatologie, entomologie en virologie, plaaslik en ook oorsee. Dit maak dus sin om notas uit te ruil en om te sien of daar dalk belangrike navorsing is wat FABI vir die sagtevrugtebedryf sou kon verrig.

Buiten boer met krokodille as buurtwag is van die ander uitdagings waarvoor produsente in die streek te staan kom klimaatsfaktore soos droogte. Verder plant talle boere tans lae koue-behoefte appels van die L.N.R. aan, alhoewel daar potensieël ook geleentheid kan wees in sekere areas, soos die boord in Mookgophong, vir standaard kultivars met laer koue-behoeftes.

Ja-nee, vir die Stormers lyk dinge in Bloubulboorde glad nie sleg nie.

Back To Top