![A Theron 3](https://www.hortgro.co.za/wp-content/uploads/2021/01/A-Theron-3.jpg)
Adriaan Theron lei ‘Store-It Group’
Adriaan Theron was een van Hortgro Science se beurshouers, wat nou ‘n leidende rol in die na-oes kant van die bedryf speel. Hortgro het vir Adriaan gevra om meer oor homself, asook die werk van die Store-It Group, te vertel.
Wat is die Store-It Group?
Die groep is, soos die naam aandui, gemik/gefokus op die opberging van iets. In ons geval kernvrugte. Dit is geskep om almal te betrek wat op een of ander manier aan die na-oes kant van die appel- en peerwaardeketting inskakel, hoofsaaklik bedryfsrolspelers en navorsers.
Wanneer is dit begin?
Die Store-It Group het ontstaan in ‘n Postharvest Technical Advisory Council-vergadering aan die einde van 2017. Dit het ontstaan a.g.v. twee redes:
- Daar was ‘n behoefte om navorsers en mense in die bedryf nader aan mekaar te bring, sodat navorsers die uitdagings aan die na-oes kant beter kan verstaan en daar ‘n nouer band tussen die bedryf en navorsers kan vorm. So kan besluite op grond van die nuutste beskikbare navorsing geneem word om sodoende die Suid-Afrikaanse appel- en peerbedryf te bevoordeel.
- Henk Griessel, van Tru-Cape, en Jaco Moelich, van Fruitways, het met een vergadering genoem dat “die grys hare om die tafel te veel raak en dat daar ‘n manier gevind moes word om meer mense betrokke te kry aan die na-oes kant van sake”. Die beperkte aantal TAC lede het dit moeilik gemaak, so daar is besluit om ‘n groter groepering buite die TAC te skep. Die Store-It Group is gebore met die hoop dat dit kan dit lei tot die oordrag van kennis deur ervare bedryfskenners na nuwe, jonger mense. Dit alles behoort dan met tyd die getalle van ons na-oes “spesie” op te stoot.
Wie is lede/belanghebbendes?
Die groep bestaan hoofsaaklik uit mense wat by die tegniese na-oes kant van die Suid-Afrikaanse kernvrugbedryf betrokke is. Asook navorsers wie se primêre fokus op die na-oes kant van kernvrugproduksie gerig is.
Wat is doel van Store-It Group?
Ek sal sê dat die hoofdoel van die groep kennisoordrag is. Daar is tans ‘n hele paar mense met ongelooflik baie kennis en ondervinding wat nader aan die einde van hul loopbaan begin staan. Daarom is ‘n belangrike doel van die groep om kennis en jare se ondervinding oor te dra.
Verder is daar ‘n behoefte om navorsers nader aan ons alledaagse uitdagings te kry. Deur nader aan die bedryf te leef kan hulle ons praktiese uitdagings waarneem en dit in ag neem by die oplossings wat hulle vir ons bied om die uitdagings te oorbrug.
Laastens is die groep ook ‘n klankbord waar jy jou vrae kan vra, idees kan voorstel en ander se insette kry, om op die ou einde die Suid-Afrikaanse kernvrug bedryf te versterk.
Waar pas Storie-It in die waardeketting in?
Van net voor-oes tot die vrugte in die verbruiker se hand is – wat tevrede is met die kwaliteit van sy/haar aankoop.
Bedien julle net ‘n spesifieke streek/provinsie?
Die groep is oop vir enige streek/provinsie, maar logisties is dit vir die mense van ver maar ‘n uitdaging om ons vergaderings by te woon. Met die koms van Covid is ons, soos die hele wêreld, gedruk om virtueel te werk, so dit maak dit moonlik vir almal wat belangstel om in te skakel. Ons lede is meestal van die Ceres en Grabouw kernvrugverbouingareas, asook ander omliggende gebiede.
Wat is die uitdagings van verpakking en vir koelkamers as deel van waardeketting in SA?
Ek dink die bedryf het baie uitgebrei met nuwe kultivarreekse, asook groter volumes vrugte. Dit skep baie uitdagings, veral by van die nuwe kultivars wat na-oes anders hanteer moet word as ons tradisionele manier van doen. Groter volumes en meer komplekse verkoelingsregimes wat gevolg moet word maak dit baie uitdagend om die verskyning/ontwikkeling van ‘n hele reeks fisiologiese defekte te verhoed.
Verder sit ons met die aarde wat warmer word en dit speel beslis ook ‘n groot rol by die defekte wat ons na opberging of verpakking waarneem.
Een van ons grootste uitdagings aan die opbergingskant is om heel jaar ‘n wye verskeidenheid van kultivars te verskaf is. Dit is ‘n groot uitdaging. En die ander bogenoemde uitdagings maak dit nie makliker nie!
Watter impak het beurtkrag op die naoes-kant van die bedryf?
Dit beslis ‘n impak op vrugkwaliteit, veral wanneer die ligte afgaan op kritieke tye, soos nou wanneer vrugte direk na die oes, verkoel moet word. Kragonderbrekings lei tot periodes wat ons nie kan verkoel nie en dit het op die lang duur nie ‘n goeie uitwerking op die hou-vermoë van ons vrugte nie. Dan praat ek nie eers van plase wat moet besproei of water uit boorgate pomp nie. Dit raak ‘n uitdaging om die boorde se waterbehoeftes te bevredig en dit kan vir ons aan die na-oes kant verdere probleme skep.
Wanneer is jy as voorsitter aangestel?
Ek is nog vars in die rol en is November 2020 as die nuwe voorsitter aangewys. Aan die einde van elke jaar, voor almal ‘n blaaskans vat, word die groep die geleentheid gegee om ‘n nuwe voorsitter te kies. Ons plan is om elke jaar iemand anders aan stuur van sake te sit, omdat almal hulle eie idees het en op die manier haak ons hopelik nie net by “een manier van doen” vas nie. Ek dink dit gee ook die voorsitter kans om te groei, omdat jy jouself moet forseer om nader aan die bedryf te leef en by ander te leer.
Wat is jou spesifieke uitdagings?
Vir my persoonlik is dit definitief om uit my dop te kruip en uit my ‘comfort zone’ te kom. Ek is nie iemand wat graag voor in die koor staan nie. Ek is iemand wat meestal in die agtergrond waarneem en insette lewer wanneer dit regtig nodig is.
En waar sal jy graag impak wil maak?
Een van die belangrikste goed vir my van die groep is om inligting te deel. Dit kan nie elke keer net dieselfde persoon/persone wees wat iets na die tafel toe bring terwyl ander met niks gekom het en met iets in die sak huis toe gaan nie. So wat ek graag sal wil regkry is om almal aan die praat te kry sodat almal kan deel. Ek dink nie dit is iets wat mens in een jaar gaan regkry nie, maar ek glo dis ‘n area waar daar vordering in gemaak kan word.
Vertel ook asb bietjie van jouself?
Ek is afkomstig van Tulbagh se Theron’s. Ek het daar op ‘n steenvrug- en wyndruifplaas grootgeword en is toe na Hoër Landbouskool Boland in die Paarl waar ek in 2009 gematrikuleer het. Van daar is ek na Stellenbosch Universiteit waar ek BScAgric (Hortologie en Plantpatologie) studeer het en toe in die doodsnikke van finale jaar besluit het om my MScAgric (Hortologie) te doen. Aan die einde van 2015 het ek my Meesters afgehandel en direk daarna by Dutoit Agri se tegniese-dienste span aangesluit. By Dutoit het ek die geleentheid gekry om by een van ons bedryf se legendes, Petro Conradie, te leer en oor te neem.
Wat is jou kompas in die lewe?
Ek reken dat ek dieselfde lewenskompas by die werk as huis het. Hy staan maar op ‘n paar eenvoudige goed, eerlikheid, betroubaarheid, menswaardigheid en lojaliteit. Ek glo dat hierdie waardes my gebring tot waar ek nou is.
As jy in verbinding wil tree met Adriaan, kontak hom by gerus by 079 872 8261.