Skip to content
Market Access Team #2 Web

Die bestuur van marktoegang

Om te verseker dat Suid-Afrikaanse produsente hulle vrugte oorsee kan bemark is ’n voltydse werk. Deur Anna Mouton.

Lindi Benić is die gesamentlike marktoegangbestuurder vir Hortgro en SATI. Marktoegang behels veel meer as net toegang werf tot nuwe markte. “Mense vergeet dikwels van alles wat gedoen word om bestaande markte te behou,” sê Benić.

Handelsvennote kan vereistes enige tyd verander – en dikwels gebeur juis dit. “Ons kon vir jare sonder ’n insekplaagrisikobepaling na die Europese Unie uitvoer. Toe verander die fitosanitêre vereistes, wat ’n direkte impak op ons vermoë om uit te voer, gehad het,” sê Benić.

“Ons weet wat die sleutelmarkte is, so ons moniteer die Wêreldhandelsorganisasie kennisgewings, die Europese Unie staande komitee agendas, en ander kritieke netwerkpunte,” sê Benić. Dit hou haar nie net op hoogte van regulatoriese veranderinge nie, maar waarsku haar ook van moontlike toekomstige ontwikkelinge sodat die bedryf proaktief kan reageer.

Benić het opgelet dat verandering versnel het, en dat sommige Europese Unie komitees meer dikwels vergader. “Dit sê vir my dat hulle vinniger besluite wil neem.”

Deskundiges in fitosanitêre risiko

Internasionale handel in plante en plantprodukte – soos vrugte – dra die risiko om siektes en insekplae te versprei. Wanneer Suid-Afrika ’n nuwe mark wil betree, moet ons ’n fitosanitêre inligtingspakket – Phytosanitary Information Package of PIP – opstel wat enige bekommernisse van die invoerende land oor siektes en insekplae identifiseer en aanspreek.

“Ons het baie jare gelede belê in ’n fitosanitêre databasis wat die inligting bevat wat ons benodig om insette in insekplaagrisikobepalings te maak,” sê Benić. “Ons kan die insekplaagrisikobepalings per vrugtipe opstel of opdateer, en aan DALRRD – Departement van Landbou, Grondherverdeling en Landelike Ontwikkeling – verskaf. Ons kan ook die GAPs – goeie landboupraktyke – opstel vir sleutel fitosanitêre insekplae.”

Onderhandelinge rondom fitosanitêre risiko’s is baie tegnies, dus maak Benić staat op ’n span deskundiges. Hulle is drs. Shelley Johnson en Marelize de Villiers, beide spesialiste in fitosanitêre entomologie en marktoegang, en dr. Julia Meitz-Hopkins, ’n spesialis in fitosanitêre patologie.

Saam formuleer die span PIPs vir nuwe marktoegang aansoeke en GAPs vir sleutel fitosanitêre siektes en insekplae, en lewer bydraes tot insekplaagrisikobepalings. Sodoende ondersteun die vrugtebedryf vir DALRRD, wat dien as ons Nasionale Plantbeskermingsorganisasie.

“Ons maak insette op uitvoer- en invoerverwante kwessies, spesifiek dié wat ’n fitosanitêre risiko vir ons bedryf inhou,” sê Benić. Internasionale handel werk beide kante toe en ander lande probeer ook toegang kry tot ons plaaslike markte – die beskerming van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf teen uitheemse siektes en insekplae is dus ’n voortdurende proses.

“Ons het ’n baie goeie verhouding met DALRRD,” sê Benić. Sy noem dat DALRRD altyd hulle waardering uitspreek vir die bydraes van die marktoegangspan.

’n Arendsoog op chemie

Benewens fitosanitêre vereistes moet vrugte ook aan voedselveiligheidstandaarde voldoen. Dit behels hoofsaaklik maksimum residu beperkings – maximum residue limits/MRLs – vir middels wat tydens die voor- en naoes produksie en hantering van vrugte gebruik word. Benić wys daarop dat, bo en behalwe amptelike MRLs wat deur lande bepaal word, daar deesdae al hoe meer kleinhandelaars met hul eie standaarde is.

“Ons handhaaf MRL inligting wat ons ten minste twee maal per jaar op ons Hortgro webwerf opdateer,” sê Benić. ’n MRL-werkgroep ontmoet jaarliks om belangrike veranderinge sowel as tendense wat die Suid-Afrikaanse bedryf kan affekteer te bespreek. Vergaderings word deur bedryfslede insluitende produsente, uitvoerders, en oesbeskermingskonsultante bygewoon. Beide DALRRD en PPECB (Perishable Products Export Control Board) word ook genooi.

Na die MRL-werkgroep vergadering en skakeling met die agro-chemiese bedryf word die bygewerkte MRL inligting op die Hortgro webwerf geplaas. Die belangrikste wysigings word in ’n FreshNotes opgesom en versprei, gewoonlik in Julie. Dit word weer in Oktober, en indien nodig ook in Desember, opdateer.

Veranderinge op MRLs is nie die enigste uitdagings vir die bedryf nie. Al hoe meer plantbeskermingsprodukte word verloor wanneer handelsvennote besluit om dit te verbied. Dit is nog ’n rede waarom Benić ’n arendsoog op die aktiwiteite van die relevante Europese Unie staande komitees hou. “Ek kyk wat op hulle agendas is, en hou sleutelprodukte waaroor ons besorg is, soos mancozeb, dop.”

Die inligting wat Benić versamel word ook deur die gewasbeskermingsadviesgroep, wat deur Hortgro gestig is, gebruik. Hierdie groep deskundiges spreek kwessies rakende veranderinge in markvereistes aan, adviseer oor navorsingsbehoeftes wat nodig is om MRLs te bepaal, en help met motivering vir die registrasie van spesifieke produkte onder Wet 36 van 1947.

Die proaktiewe benadering

Marktoegang is nooit staties nie en Benić is deurlopend op die uitkyk vir risiko’s wat ontstaan wanneer verskillende markte hulle vereistes verander. In praktyk beteken dit dat die bestuur van marktoegang ’n komponent van tegnologie-oordrag, opleiding, en navorsing insluit.

Hortgro befonds byvoorbeeld relevante projekte oor kouesterilisasie van steen- en kernvrugte vir Oosterse vrugtevlieg, kouesterilisasie van steenvrugte vir valskodlingmot, en etielformiaat beroking vir graanstinkluis en ander fitosanitêre insekplae. Hortgro ondersoek ook alternatiewe plaagbeheeragente, soos entomopatogeniese aalwurms en swamme, en alternatiewe maniere om marktoegang te verseker, byvoorbeeld beroking, kouesterilisasie, en bestraling van vrugte.

Toegang tot nuwe en behoud van bestaande markte word ongetwyfeld meer uitdagend. Verbruikers dring toenemend op residu-vrye produkte aan, wat regerings en handelaars motiveer om al strenger MRLs in plek te stel. Verder verhoog klimaatsverandering die risiko van die verspreiding van siektes en insekplae. Dit als beteken dat proaktiewe marktoegangbestuur noodsaaklik is vir die toekoms van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf.

“In die geheel gesien is die nodige aksies ’n bewustheid van internasionale vereistes, handelsversperrings, en die protokolle wat volgehoue marktoegang beïnvloed,” som Benić die situasie op. “As jy nie tegnies die paal haal nie gaan marktoegang nie gebeur nie.”

Lees ook: Oorkom fitosanitêre struikelblokke – Hortgro

Back To Top