Skip to content
Codling Moth Caterpillar On Peach

Oorkom fitosanitêre struikelblokke

Suid-Afrikaanse vrugte moet fitosanitêre vereistes nakom vir toegang tot sekere sleutelmarkte. Hoe word hierdie vereistes bepaal? En wat is nodig om daaraan te voldoen? Deur Anna Mouton.

Valskodlingmot is – en was nog altyd – inheems in Afrika suid van die Sahara. Dié insek beskadig ’n verskeidenheid gewasse, insluitende perskes, nektariens, sitrus, soetrissies, en granate. Suid-Afrika het reeds in 1892 vir die eerste maal perskes na die Verenigde Koningryk uitgevoer. Maar die Europese Unie het slegs in 2018 fitosanitêre regulasies vir valskodlingmot in plek gestel. Wat het verkeerd geloop?

“Valskodlingmot is in 2009 op rissies in ’n glashuis in Nederland gevind. Daardie rissies is na Amerika uitgevoer, en die valskodlingmot is in Amerika opgetel,” vertel Hugh Campbell, algemene bestuurder van Hortgro Tegnies. “Die oorsprong was Uganda.”

Die Nederlanders het ’n insekplaagrisikobepaling uitgevoer, wat tot ’n verdere insekplaagrisikobepaling deur die Europese Unie gelei het. Soos wat Suid-Afrika die opskudding dopgehou het, het dit duidelik geword dat nuwe fitosanitêre regulasies onvermydelik was, en dat ons ’n plan moes maak om te voldoen.

“Naoes disinfestering was nie ’n haalbare opsie nie,” sê Campbell. Dit was ook nie moontlik om Suid-Afrika geheel of gedeeltelik as vry van valskodlingmot te verklaar nie. Die enigste oorblywende strategie was om ’n stelselbenadering toe te pas en sodoende valskodlingmot in spesifieke besendings vrugte uit te skakel.

“Die stelselbenadering behels ’n kombinasie van risikoverminderingsmaatreëls om ’n insekplaagvrye produk te lewer,” verduidelik Campbell. Hierdie risikoverminderingsmaatreëls sluit voor-oes geïntegreerde plaagbestuur, voor-oes skadebepalings, pakhuisinspeksies, en eindpuntinspeksies in.

Hierdie storie het darem vir eers ’n gelukkige einde, aangesien die stelselbenadering Suid-Afrika toelaat om steeds perskes en nektariens na die Europese Unie uit te voer. Maar die les is dat fitosanitêre vereistes enige tyd kan verander. Paraatheid is noodsaaklik om toegang tot internasionale markte te behou.

Hou kop bo ’n see van afkortings

Om te verstaan hoe fitosanitêre probleme ontstaan, en hoe om hulle op te los, is dit nodig om vertroud te raak met die partye – van die IPPC tot die NPPOs – wat die reëls vir internasionale handel in plante en plantprodukte maak.

Wanneer dit kom by fitosanitêre risiko’s word die wêreldwye standaard deur die Internasionale Plantbeskermingskonvensie – International Plant Protection Convention of IPPC – gestel. Dit val onder die Voedsel- en Landbou-organisasie – Food and Agriculture Organization – van die Verenigde Nasies.

“Die IPPC is ’n stel reëls om plante teen insekplae te beskerm,” sê Campbell. “Die doel is om internasionale handel te bevorder, maar nie teen die koste van ongewenste insekplae versprei nie.”

Suid-Afrika is een van 184 lande wat die IPPC onderteken het. “As jy nie ’n lid van die IPPC is nie, belemmer dit jou geleenthede vir internasionale handel,” sê Campbell.

Die IPPC word deur die Wêreldhandelsorganisasie se Sanitêre en Fitosanitêre Ooreenkoms erken – so ook die Codex Alimentarius Kommissie, wat voedselveiligheid dek. Produsente sal vertroud wees met die uitdagings om gelyktydig aan toenemend strenger voedselveiligheid- en fitosanitêre vereistes te voldoen.

“Wanneer iets ’n fitosanitêre insekplaag verklaar word, dan beteken dit basies zero toleransie,” sê Campbell, “maar die hele konsep van geïntegreerde plaagbestuur is dat jy bevolkings probeer bestuur – nie uitwis nie. Die Europese Unie dring daarop aan dat jou produk heeltemal insekplaagvry is, wat totaal teenstrydig is met hulle Green Deal.”

Die IPPC skep die raamwerk waarin lande se Nasionale Plantbeskermingsorganisasies – National Plant Protection Organisations of NPPOs – oor fitosanitêre vereistes onderhandel. “Die proses is altyd regering tot regering,” sê Campbell. “Ons eie NPPO onderhandel direk met die NPPO van die invoerende land.”

Die Departement van Landbou, Grondherverdeling en Landelike Ontwikkeling – DALRRD – is die NPPO vir Suid-Afrika. Hulle is verantwoordelik vir die uitreik van fitosanitêre sertifikate, bestuur van plaagbewaking, beheer van plaaguitbrake, inspeksie en disinfestasie van besendings, vestiging en onderhoud van insekplaagvrye areas, en opstel van insekplaagrisikobepalings.

Wanneer die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf ’n potensiële nuwe mark identifiseer moet hulle bewys lewer dat die mark belangrik is voordat DALRRD sal poog om marktoegang te verkry. Die bedryf moet ook ’n fitosanitêre inligtingspakket – Phytosanitary Information Package of PIP – opstel vir die betrokke vrugsoort. Die PIP bevat tegniese inligting wat die invoerende land benodig vir hulle insekplaagrisikobepaling.

Hierna verloop baie tyd waarin daar oor-en-weer onderhandel word om ’n praktiese werkplan op te stel met protokolle wat vir beide partye aanvaarbaar is, volgens Campbell. “Ons het nou onlangs toegang vir pere na China verkry – na iets soos vyftien jaar.”

Marktoegang berus op kundigheid

Volgehoue marktoegang behels iterasies van die bostaande proses elke keer wat die fitosanitêre vereistes van die invoerende land verander. Vir beide nuwe en bestaande marktoegang rus ons sukses op hoe goed ons ons saak kan stel, en dit word deur kundigheid en kennis bepaal.

“Alles wat mens mee te doen het in terme van marktoegang vereis ’n publikasie in ’n wetenskaplike joernaal,” beklemtoon Campbell. “Byvoorbeeld, die werk wat ons doen op kouesterilisasie moet in ’n internasionale wetenskaplike joernaal gepubliseer word voordat dit enige geloofwaardigheid sal hê – voordat ons dit aan ons handelsvennote kan voorlê.”

Lindi Benić, marktoegangbestuurder by Hortgro, steun op ’n span van drie deskundiges wanneer dit kom by fitosanitêre kwessies. Drs. Shelley Johnson en Marelize de Villiers is beide spesialiste in fitosanitêre entomologie en marktoegang, terwyl Dr Julia Meitz-Hopkins spesialiseer in naoes patologie.

Campbell wys daarop dat deskundiges met die regte kwalifikasies en erkenning onmisbaar is. “Daar is heelwat interaksies tussen deskundiges van die invoerende en uitvoerende lande, heelwat onderhandeling. Jy moet jou argumente met wetenskap kan staaf.”

Om die regte wetenskap te verskaf is natuurlik een van Hortgro se sleutelfunksies. Byvoorbeeld, toe Oosterse vrugtevlieg in 2006 vir die eerste maal in Kenia gevind is, het Hortgro proewe gedoen om te wys dat Oosterse vrugtevlieg meer kouesensitief is as Mediterreense vrugtevlieg.

“Ons het die werk in Kenia gedoen omdat ons nie in 2008 Oosterse vrugtevlieg hier gehad het nie,” onthou Campbell. Die doel was om te bewys dat die bestaande koue-sterilisasie protokol vir Mediterreense vrugtevlieg net so effektief sou wees vir Oosterse vrugtevlieg. In die toekoms sal hierdie tipe navorsing voordeel trek uit die nuwe fitosanitêre fasiliteit wat Hortgro tans by Welgevallen, die Universiteit Stellenbosch proefplaas, vestig.

Intussen het Oosterse vrugtevlieg Suid-Afrika bereik, wat ’n nasionale bewakingsprogram om verspreiding te beperk onder die toesig van DALRRD – ons NPPO – genoodsaak het. Bewaking genereer ook bewyse van die afwesigheid van hierdie en ander insekplae in belangrike steen- en kernvrugproduksieareas. Campbell noem die voorbeeld van ’n 2003 opname van wolluise wat die afwesigheid van ’n spesifieke kommerwekkende spesie bevestig het.

Benewens navorsing en bewaking het Hortgro ook ’n aanlyn opleidingskursus oor fitosanitêre monitering en inspeksie van steenvrugte vir veral valskodlingmot en vrugtevlieë in samewerking met Citrus Academy ontwikkel. Die kursus is op boordmonitors en pakhuisinspekteurs gemik en verskaf sekerheid van hulle bevoegdheid aan ons handelsvennote.

Alhoewel produsente geneig is om op toegang tot nuwe markte te fokus, reken Campbell dat behoud van bestaande toegang dikwels ’n groter uitdaging is. “Jy moet wetenskaplike kapasiteit, bedryfskundiges, en regeringskapasiteit en ondersteuning hê. Dit gaan nie makliker raak nie.”

Lees ook: Die bestuur van marktoegang – Hortgro

Back To Top