Skip to content
20220712 094746

Nuwe aanplantings red nie Klein-Karoo vrugteprodusente nie

Deur Kara van der Berg

Die droogte wat die Klein-Karoo in 2016 getref het, is vir baie sagtevrugteprodusente van die streek langs die R62 nog nie verby nie. Montagu, Barrydale, Ladismith, Calitzdorp, Oudtshoorn en De Rust tel onder dorpe wat nog gebuk gaan onder hierdie ses jaar droogte.

Veral boere wat met permanente gewasse boer het enigiets tussen 30% en 60% van hulle hektare verloor as gevolg van hierdie situasie. Hortgro het met twee produsente, Dawie van Deventer en Niël Joubert, wat albei buite Montagu langs die R62 boer, gepraat.

Beide, Joubert en Van Deventer, het verlede jaar hoop gekry vir hulle situasie nadat hulle voordeel getrek het uit ‘n droogtehulppakket van Hortgro en die Wes-Kaapse department van landbou.  Altesaam R1.1 miljoen is bewillig om vrugteboere te help om heraanplantings te doen en as ekonomiese inspuiting vir die droogtegeteisterde Klein-Karoo te dien.

Van Deventer het verlede jaar gesê die sleutel tot die toekoms van landbou in die streek is water. “Geld kan hierdie storie nie regmaak nie, net water kan. Ons moet eenvoudig oplossings vind om water vir die streek te verseker en verantwoordelik te bestuur.”

Met Hortgro se besoek vanjaar het Van Deventer aangedui dat alhoewel dele van die Klein-Karoo al verligting ervaar het,  daar nog gedeeltes is wat sukkel. Riviere raak nie vol nie, maar bring wel bietjie afloopwater wat damvlakke help aanvul. Gevolglik moes hulle beide boorde afsaag sodat beskikbare water vir hoër-wins boorde aangewend kon word.

Niel Joubert

Niël Joubert, steenvrugprodusent, sukkel met die nagevolge van droogte.

Hoewel dit in 2021 meer gereën het, is dit bietjies-bietjies op ’n slag wat nie genoeg is om waterbronne in so ʼn mate aan te vul dat boere die seisoen kan deur sien nie, selfs met verminderde hektare. Teen einde Julie 2022 was die damvlakke laer as verlede jaar dieselfde tyd.

Die droogte in die Klein-Karoo is kompleks en verskil van mikroklimaat tot mikroklimaat. “Ons kan dalk sê dat dit klimaatsverandering is maar ons moet meer spesifiek kyk en data bymekaar maak om hierdie tendens te verstaan om dienooreenkomstig aanpassings te maak,” sê Joubert.

Boere wat afhanklik is van water uit die Poortjieskloofdam, het laas in 2018 besproeiingswater uit die dam gekry. Alhoewel Poortjieskloofdam in 2021 ʼn bietjie water gekry het, is dit nie genoeg om behoorlik te kan besproei nie en was ʼn kwota van 25% aan boere toegeken. Baie boere moes hulle boorgate vergroot, maar, soos Van Deventer verduidelik, is die waterkwaliteit nie goed genoeg nie. Brakwater bly ‘n probleem in die streek.

Albei produsente sê dat 2021 ’n goeie winter met genoeg koue eenhede was, maar damme het nie genoeg water gekry deur die loop van die seisoen nie. Ongelukkig het hierdie tendens gepaard gegaan met wêreldwye logistieke probleme, ontwrigting by die Kaapstadse hawe en die oorlog in Oekraïne wat alles ’n negatiewe impak op die vrugtebedryf gehad het. Die kombinasie van die droogte, insetkoste wat gestyg het, die inmaakbedryf wat nie vaar soos dit moet nie, en ‘n ooraanbod van pruime, het daartoe gevoer dat boere in die Klein-Karoo groot verliese aan inkomste gehad het.

Img 1319

Dawie van Deventer sê water moet verantwoordelik bestuur word.

Goeie konstante reënval jaar na jaar nodig is vir volhoubare produksies en herstel van boerdery aktiwiteite sowel as die stabilisering van die Klein-Karoo se ekonomie. Daar is egter min wat hierdie boere en Hortgro kan doen en finansiële ondersteuning van een of ander aard behoort ondersoek te word.

Die koue eenhede vir die huidige winter is laer as verlede jaar en water is minder met baie damme nog leeg of nie eens halfvol nie. Die laat winter verhoog die kanse vir laat ryp. Beide produsente beklemtoon dat hierdie is ʼn komplekse situasie, waarvoor daar tans nie antwoorde is nie. “Daar is niks normaal aan hierdie situasie nie,” sê Joubert.

Permanente gewasse is nie vergewensgesind wanneer dit kom by afgeskeepte besproeiing nie. “Dit is eenvoudig so dat dit moet reën,” sê Van Deventer. “Daar is nie ʼn backup plan as dit nie reën nie.” Joubert som dit só op: “Wanneer die natuur nie saam speel nie, kan jy niks doen nie.”

Back To Top