Christine Hanekom hou van uitdagings
Dit is waar dat daar nog te min vroue in die Suid-Afrikaanse landbousektor is. Christine Hanekom, bemarkingsbestuurder by Stems Fruit, het aan Kara van der Berg vertel dat vroue wel ’n belangrike plek in die bedryf het.
Christine Hanekom het in 1992 LL.B. aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Destyds, het sy nooit kon droom dat sy haarself eendag in die steenvrugwêreld sou bevind nie. “Regte was al wat my geïnteresseer het,” sê sy vanuit haar kantoor by Stems in die Paarl, waar sy sedert 2013 werk.
Na haar studies het Hanekom haar klerkskap by ’n regsfirma op Oudtshoorn voltooi en is sy in 1997 tot die prokureursorde toegelaat. Sy het haar man in Oudtshoorn ontmoet en hulle eerste kind is daar gebore. Sy wou baie graag terug Boland toe en het vir universiteitsvriende gevra of hulle van geleenthede by prokureursfirmas in die Paarl weet. “Op daardie stadium het een van my vriende by Boland Bank gewerk en het Colors Fruit as kliënt gehad. Hy het voorgestel dat ek vir Riaan van Wyk kontak. Toe ek op ’n Saterdag in Februarie 2002 by die Colors kantore instap en oor die Du Toitskloofberge kyk, het ek geweet dat dit is waar ek moet wees.”
In 2002 is sy as Van Wyk se persoonlike assistent aangestel en het gou blootstelling aan alle fasette van die bedryf gekry en vinnig, baie geleer. “Ek het niks van vrugte geweet nie behalwe dit wat ek by my pa, Ballie Wahl, ’n bekende in die sitrusbedryf, gesien en gehoor het.”
Hanekom se passie vir die vrugtebedryf het hier ontstaan. Sy het in 2003 na die logistieke departement oorgeskuif en dit is ook waar haar loopbaan as junior bemarker in die Colors steenvrugspan begin het. Volgens Hanekom was hulle op daardie stadium reeds hoofsaaklik ’n vroue-span behalwe die tegniese bestuurder. Sy het onder die bekwame hand van Annelie Haumann gewerk wat haar alles van steenvrugte geleer het.
Haumann het in 2011 Colors verlaat om Stems Fruit op die been te bring. Hanekom het die geleentheid gekry om die steenvrug-afdeling by Colors te bestuur. “Dit het my selfvertroue gegee, asook die geleentheid om ’n span te bestuur en kliënte verhoudinge op ’n ander vlak te verbreed en te versterk. Annelie het baie groot skoene gelaat wat ek moes vul. Dit was ’n ongelooflik spanningsvolle tyd. Lang ure van baie harde werk omdat ek suksesvol wou wees; nie net vir myself nie, maar ook vir my produsente en kliënte.”
In Julie 2013 het sy egter besluit om by Haumann en die Stems-span aan te sluit. Hanekom sê dat alhoewel die vrugtebedryf hoofsaaklik uit mans bestaan, het dit haar nog nooit afgeskrik nie. “Ek het nog nooit gevoel dat ek moet terugstaan vir ’n man nie. Ja, daar is baie mans in ons bedryf, maar daar is verseker ook ’n paar vrouens wat kan operate! Ek het nog nooit gevoel dat ek nie iets kan doen omdat ek ’n vrou is nie.”
Inteendeel, sy is van mening dat vroue se vermoë om na detail te kyk, hulle juis die geleentheid bied om suksesvol te wees in die sagtevrugtebedryf. Om dié rede hoop sy dat meer vroue landbou as ’n loopbaan sal oorweeg. Hanekom glo dat haar passie vir haar werk, sin vir humor en goeie kliënte-verhoudinge haar towerdoepa vir sukses is. “Daardie passie kry ek van my pa. Hy was en is vandag my mooiste en trotse voorbeeld van lojaliteit, regverdigheid, harde werk, omgee vir die bedryf en die boer. Ek en my broer, Pierre Wahl, ’n wynmaker en lid van die Kaapse Wynmakersgilde, het geweet dat die boer altyd eerste kom; they are the guardians of our land.”
Die grootste uitdaging wat Hanekom egter as werkende vrou ervaar is die balans tussen werk en huis. “Dit hang van jouself af. As jy nie groter aspirasies het nie kan jy ‘n 08h00 tot 17h00 dag inpas, huistoe gaan en die kantoor agterlaat. “Ek het ongelukkig iets prysgegee en soms ten koste van myself en my familie. Ek was nie altyd ’n betrokke skool-mamma nie en het nie my kinders daagliks met huiswerk gehelp nie, ook kon ek nie altyd sport- of kultuurgeleenthede bywoon nie.
“Dit plaas baie druk op ’n vrou om suksesvol te wees by die werk en dan na-ure weer van vooraf as mamma en eggenoot te begin werk. En om dit met die regte gemoed en ingesteldheid te doen, want nou is jy by die huis! Dit is twee keer soveel harde werk. Vandag is beide my kinders al amper uit die huis uit. Ek het baie gemis, maar tog ook altyd vir hulle my alles gegee. Ek is bevoorreg want my man het my altyd ondersteun.”
Gevra of sy dit anders sou doen as sy weer die kans sou kry? “Nee, glad nie. Ek sou verseker net meer daglig-ure wou gehad het! Wanneer ek by die kantoor uitstap en vir myself afvra of ek in lig van omstandighede en feite op die tafel elke uitdaging, besluit of situasie na die beste van my vermoë hanteer het, en die antwoord is ‘ja’, dan is ek tevrede.”
Onderskrif: Christine Hanekom van Stems, by Fruit Attraction, Toledo, Spanje.