Pruim-en-nektarien-uitdagings by Hortgro-indaba bespreek
Deur Kara van der Berg
Die 2021/2022 pruim seisoen was die slegste wat die Suid-Afrikaanse steenvrugmark in jare beleef het. Om hierdie aan te spreek en die pad vorentoe uit te lê, het Hortgro in Augustus vanjaar ’n pruim-en-nektarien-indaba by Robertson gehou. Die geleentheid was goed bygewoon deur meer as 120 bedryfsverteenwoordigers wat die hele waardeketting verteenwoordig het. Die sprekers het Hortgro se eie kenners, asook Pietman Wessels van Frudata, ingesluit.
Vanuit ’n produksie oogpunt het pruime ’n baie goeie seisoen beleef met voortreflike vrugset en groot oesvolumes. Hierdie is ongelukkig belemmer deur logistieke probleme, groot stygings in kostes en ‘n swak handelsomgewing. (https://www.hortgro.co.za/industry-news/steenvrugseisoen-eindig-in-bitter-teleurstelling/)
Die internasionale logistieke nagmerrie, te danke aan Covid-19 en die Russiese inval in die Oekraïne het veroorsaak dat sagtevrugte in die hawens vasgesit het en nie binne hul raklewe by markte uitgekom het nie. Jacques du Preez, Hortgro se bestuurder van handel en markte het gesê hierdie twee “black swan” gebeure het produsente baie swaar getref. Probleme by die Kaastadhawe het nie die situasie gehelp nie. https://www.hortgro.co.za/news/logistics-update-and-the-cape-town-port/ Du Preez het ook gesê dat die bedryf vir Transnet verantwoordelik moet hou en aan nuwe metodes dink om vrugte te verskeep. “Ons as steenvrugprodusente moet werk om skepe beter te gebruik,” het du Preez gesê.
Mariette Kotzé, operasionele bestuurder by Hortgro, het ook beklemtoon dat deel van die onus ook by die produsente lê. “Dit is die produsent se verantwoordelikheid om te weet wat die kostes van uitvoere is. Jy benodig ’n kommersiële plan aan die begin van die seisoen eerder as om aan die einde van die seisoen te besef dat jou insetkostes hoër was as jou inkomste.”
Die noodsaaklikheid om aan fitosanitêre standaarde te voldoen is ook beklemtoon. “As net een mot of insek gevind word kan ons ’n hele mark verloor soos wat met Taiwan ’n paar jaar gelede gebeur het,” het du Preez gewaarsku.
Hortgro se uitvoerende direkteur, Anton Rabe, het gesê hy het nog nooit so ’n mate van paniek in sy tyd in die bedryf beleef nie. “Nie almal van ons gaan hierdeur kom nie, maar ons as ’n bedryf gaan hierdeur kom. Ons moet die aspekte wat binne ons beheer is so goed as moontlik doen en dissipline met betrekking tot gehalte, kultivars en grootte verspreiding na verskillende marksegmente regkry.”
Ten spyte van die logistieke probleme is daar hoop vir pruime en die sagtevrugtebedryf. Na baie gesprekke, het Hortgro en ander maatskappye bepaalde ondernemings by Transnet gekry dat bedrywighede by die Kaapstad hawe gladder sal verloop as wat die afgelope seisoen ondervind is.
“Wat logistiek betref is daar nie waarborge nie. Maar ons het meer waarborge vir die komende seisoen as laas keer,” het hy gesê. “Daar is lig in die tonnel…As Transnet doen wat hulle belowe het hulle gaan doen.”
Laai gerus die voordragte hier af: Stone Fruit Day Presentations
Vind ook die steenvrugbedryfs-aksieplan hier: Aksieplan_pruim_nektarien_Aug2022_FINAAL