Steenvrugseisoen eindig in bitter teleurstelling
Weerstoestande was uitstekend vir produksie en daar was blink vooruitsigte. Wat het verkeerd geloop? En wat is die pad vorentoe? Deur Anna Mouton.
Bedryfskenners is dit eens dat logistieke probleme die steenvrugseisoen gekelder het. Die seisoen het afgeskop met voortreflike vrugset gevolg deur baie goeie oesvolumes in veral pruime. Uitpakke is wel deur onder andere windskade verlaag maar daar was nietemin genoegsame uitvoerkwaliteit vrugte om produsente en bemarkers te bemoedig.
“Die produk was goed van die plaas af, deur die pakhuis, en toe is dit hawe toe,” sê Charl Stander, tegniese raadgewer by Freshness First. “Toe kom die logistieke nagmerrie dat produk twee tot drie weke in die hawe bly.”
Steenvrugte is ’n bederfbare produk en meeste kultivars moet binne ses weke vanaf oes verbruik word. Dit beteken dat vrugte in minder as 42 dae verpak, vervoer, verskeep, en versprei moet word. “Baie produk het rondom 50 dae en selfs langer eers by Rotterdam ingekom,” sê Stander. “Dan moet dit nog versprei raak, en partykeer is dit lank op die pad in trokke.”
Benewens die impak van vertragings op vrugkwaliteit, het die logistieke probleme dit ook bykans onmoontlik gemaak vir uitvoerders om vinnig op veranderings in oesskattings te reageer. Om produksiepieke in sekere weke te hanteer het ’n onbegonne taak geraak.
“Die impak op balansering was enorm,” sê Jacques du Preez, algemene bestuurder van handel en markte by Hortgro, “en die onbetroubare verskepingskedules het beplanning en bestuur van die mark verskriklik moeilik gemaak.”
Ander bedrywe met hoogs bederfbare produkte – soos tafeldruiwe – is ook geknou. “Alle vrugte se volumes het basies vermeerder, en die hawe het nie bygehou nie,” verduidelik Du Preez. “Die laaste tien jaar is daar nie belê in toerusting en infrastruktuur nie.”
Volgens Du Preez word daar reeds strategieë in plek gesit om te verseker dat die hawe in die komende seisoen meer doeltreffend sal funksioneer. Dit sluit verbeterde operasionele bestuur, instandhouding van bestaande toerusting, en aanskaffing van addisionele toerusting in.
Waar pas Poetin in die prentjie?
“Die Russiese-Oekraïense konflik het definitief bygedra tot vertragings,” sê Karin van Rensburg, tegniese raadgewer by In2Stone. “In ’n redelike kort tyd het skepe nie meer na die Russiese hawens toe gegaan nie, so vrugte vanuit Suid-Afrika wat op pad was Rusland toe moes na Rotterdam weggewys word, maar so ook vrugte van ander lande.”
Addisionele druk op infrastruktuur in Rotterdam het gelei tot nóg meer vertragings. Skepe het begin ophoop buite Rotterdamhawe, en daar was tekorte aan vragmotor- en koelkamerkapasiteit.
“So daar’s ’n week of twee in Kaapstad bygetel, en week of twee aan die ander kant, en voor jy jou oë uitvee is die vrugte agt weke oud wanneer dit by die kliënte aankom,” sê Van Rensburg. “En met ouderdom kom daar meer kwaliteitsprobleme.”
Terselfdertyd was daar ’n ooraanbod van vrugte in die Europese mark. “Daar is ’n klomp vrugte – veral pruime – wat ons gewoonlik Rusland toe vat wat ander markte moes kry,” sê Du Preez, “maar die wyer probleem was ’n oorvloed van alle vrugte wat Rusland toe sou gaan wat mense in Europa probeer verkoop het. So dit is nie net dat daar te veel pruime was nie – daar was te veel van alles.”
“Ons het voor vanjaar nie geweet dat die Chilene redelike volumes nektariens Rusland toe laai nie,” sê Annelie Haumann, besturende direkteur van Stems Fruit. “So ons het ’n verassing gekry toe daar ewe skielik ’n groot gros Chileense nektariens in Europa afgelaai word. Dit het ’n geweldige impak gehad op ons pryse.”
Bo en behalwe die direkte ontwrigting van Europese markte, het die konflik ook brandstofpryse beïnvloed. Rusland is die tweede grootste olieprodusent ná die Verenigde State. Oliepryse was reeds voor die oorlog hoog, maar met onsekerheid rondom voorrade het pryse die hemele ingeskiet.
“Vervoerkostes het ongelooflik skerp gestyg,” sê Van Rensburg. “Die verkoopspryse van die vrugte was op ’n stadium eintlik redelik goed maar die kosteketting het so duur geword dat meeste van die geld wat jy terugkry word eintlik opgevreet deur die kostes.”
Die vooruitsigte vir Suid-Afrikaanse steenvrugte
Een ligpunt was dat Suid-Afrika vanjaar vir die eerste keer in dekades steenvrugte – ongeveer 300 000 kartonne pruime en 30 000 kartonne nektariens – na die Verenigde State uitgevoer het. “Sekere pruim kultivars was ’n redelike groot sukses,” sê Stander. “Dis ’n nuwe mark waarin die Suid-Afrikaanse produk ’n premie verdien bo die Chileense produk.”
“Alhoewel daar baie uitdagings was en ook ’n klomp skoolgeld betaal is, hoop ons dat dit ’n mark is wat sal aanhou groei,” sê Du Preez. “Ek dink die steenvrugbedryf het baie geleer uit die kouebehandelingvereiste vir Amerika en die praktiese implikasies daarvan op kwaliteit.”
Die Verenigde State is die eerste mark vir Suid-Afrikaanse steenvrugte wat kouebehandeling vereis. Suid-Afrikaanse steenvrugprodusente hoop om in die toekoms na China – wat ook kouebehandeling vereis – te kan uitvoer. “Almal dink ons gaan net miljoene kartonne China toe stuur,” sê Du Preez, “maar die spesifikasies van die vrugte moet reg wees om die kouebehandeling te weerstaan en nog steeds goeie kwaliteit te hê.”
Suid-Afrikaanse steenvrugproduksie het die afgelope twee seisoene sedert die droogte toegeneem. Pruimuitvoere het van net onder 9 miljoen kartonne in 2019–2020 gespring na meer as 15 miljoen kartonne in beide 2020–2021 en 2021–2022. Nektarienuitvoere het van ongeveer 5 miljoen kartonne in 2019–2020 opgegaan na meer as 8 miljoen kartonne in 2021–2022. Produksie van ander vrugsoorte, onder andere sitrus, het ook gestyg.
“Ons gaan die impak van ekstra volumes in sekere marksegmente moet besef,” maan Haumann. “En die volume groei is hoofsaaklik meer mid- tot laatkultivars en dis groter vrugte wat primêr na Europa toe gaan. Ek dink dit gaan baie moeilik wees vir ’n bedryf om ’n prys in ’n marksegment te lig waar jy eintlik basies sit met ’n ooraanbod.”
Haumann beklemtoon dat die steenvrugbedryf op markontwikkeling sal moet fokus. Daarby glo sy dat die dae van marginale kultivars verby is. “Van ons ouer variëteite het nie meer potensiaal in die mark nie – daar is ’n klomp nuwe beter variëteite. En ek dink ons gaan moet kyk na ons variëteite wat ons uitvoer en sê daar is party wat eenvoudig net nie hierdie langer logistieke kettings kan hanteer nie.”
Na die afgelope seisoen is logistiek sonder twyfel in die kollig. “Ek weet nie of die logistieke uitdagings in ’n kort periode opgelos gaan word nie,” sê Van Rensburg. Alhoewel daar baie werk op hoëvlak gedoen word om sake in die Kaapse hawe te verbeter, waarsku sy dat die globale logistieke ketting nog steeds deur die Covid-pandemie ontwrig word.
Nietemin is daar steeds rede vir optimisme, alvorens Stander. “Die vraag na ’n klas 1 produk in die mark was baie goed hierdie jaar en die bruto prys was dieselfde of selfs beter as verlede jaar. Ek vertrou dat oor vyf maande, as die nuwe seisoen begin, alles in plek sal wees en die logistiek beter sal gaan.”
Haumann sê ook dat sy optimisties bly. “Ek dink partymaal met sulke uitdagings skep dit weer geleenthede. Maar uiteindelik is almal afhanklik van die produsent. Ons het ’n verantwoordelikheid, saam met die produsent, om seker te maak dat ons produsente volhoubaar kan inkomstes genereer.”