Skip to content

Sagtevrugtebedryf vier 20 jaar na deregulering: Eckart Kassier Onthou 1997

Die deregulering van die vrugtebedryf op 1 Oktober 1997 sal in die geskiedenisboeke opgeteken staan as die mees ingrypende beleidsbesluit wat hierdie sektor in sy ganse bestaan getref het.  Dit was ’n U-draai wat vrugteboere feitlik oornag die onseker wêreld van die vrye mark ingestuur het – op hul eie en sonder die beskermende sambreel van die Sagtevrugteraad en sy enkel-uitvoerarm, Unifruco, wat vir soveel dekades oor hulle waggehou het. Vandag stem baie rolspelers saam dat die beste ding is wat met landbou kon gebeur het. Hortgro vier vanjaar 20 jaar van vrugte-vryheid.

Jean du Preez gesels met prof. Eckart Kassier, die landbou-ekonoom wat die aanvoerwerk vir hierdie beleidsverandering gelei het.

 

Twaalf maande in 1997

 

Dis vieruur die middag van 24 Desember 1996 – Oukersdag. Feitlik die hele land is met vakansie, oral begin mense gesellig regmaak om Kersgeskenke uit te deel.

Ook in die Stellenbosch-woning van die bekende akademikus en landbou-ekonoom prof. Eckart Kassier begin hy en sy vrou, Petro, voorberei vir Oukersaandete. Hul kinders sal aanstons begin aankom.

Dan lui die telefoon skielik.

Seker een van die kinders, merk hy teenoor Petro op. Hy antwoord, en lig sy wenkbroue toe hy hoor wie praat; Derek Hanekom, die nuwe landbouminsiter in Madiba se kabinet.

Hulle verneem na mekaar se welstand, toe los Derek die bom wat binne ’n maand die ganse landbou tot in sy fondamente sou skud.

Selfs die normaalweg selfversekerde Kassier was vir ’n oomblik uit die veld geslaan by die aanhoor van Hanekom se opdrag.

Boere wat hom oor dekades leer ken het aan sy onverskrokke uitsprake oor die landbou sal weet, vir Kassier vra jy nie vas nie. Jy vang hom nie sommer onkant met selfs die wildste stelling nie. Jy het óf van hom gehou, óf hy het jou geïrriteer. Om braaivleisvure sou boere dikwels opmerk: Het jy gehoor wat daai bliksemse Kassier nou al weer gesê het! Ander weer het aan sy lippe gehang – grootliks oor sy uitspraak wat hy met reëlmaat verkondig het: Julle met jul beheerrade is op die verkeerde pad; julle gaan ’n vryemarkbedeling nie vir ewig systap nie.

Ook in die vrugtebedryf, wat homself dikwels as die kroonprins van landboubedrywe gesien het, het hierdie debat oor die vryemark diep geloop. Baie vrugteboere het immers dekades lank al gesus voortgeleef in die gemak van hul beheerde kokon, terwyl ander weer ’n weersin in die verpligte eenkanaal-uitvoerbemarking  en die meegaande “verpoeling” van inkomste gehad het. Toe breek Kassier se eie oomblik van waarheid op 24 Desember 1996 aan. Die gesprek tussen hom en Hanekom het min of meer so verloop:

Hanekom: “Eckart, ek wil net vir jou sê, daar is ’n nuwe Bemarkingswet, die beheerrade gaan waai. Daar kom ’n nuwe Bemarkingsraad en ek wil hê jý moet die ding lei. Jy moet die voorsitter wees en die hele proses bestuur.”

Kassier: “Derek, dis Oukersaand, ek dink jy het dalk al ietsie geniet, dit kan tog nie waar wees nie! Jy sien dan hoeveel pakslae ek nou van watter kant af ook al gekry het oor my komitee van ondersoek se bevindings en aanbevelings.

Hanekom: “Loop doen nou presies wat jou komitee aanbeveel het. Op die 3de Januarie begin jy in Pretoria.”

Wel, waarna het Hanekom verwys toe hy vir Kassier gesê het hier kom ’n nuwe bemarkingsbestel?

Kassier gaan haal die antwoord op hierdie vraag voor 1992. In die jaar toe die eerste tekens na bo begin borrel het dat die damwal van beheerde bemarking in die landbou inderdaad vorentoe gaan meegee.

“Ek het altyd geglo aan ’n vryemark bestel. Ek het nie geglo aan beheer soos dit toegepas is nie. Beheerrade was ‘onderhewig aan goedkeuring deur die minister’, maak nie saak hoe hulle hulself probeer flous het nie. Dit was ’n klug. Die finale besluit lê by die minister. En die minister is in die eerste plek ’n politikus, so hy kan op twee maniere na iets kyk: Uit die beginsel van die ekonomie – die besigheid van ’n bedryf, of andersins, hoe affekteer dit die stem in die politiek?

“Dis hoe ’n minister moet wees. Hy kan nie anders nie. Beheerrade het gedink dat hulle die wêreld beheer, maar eintlik was hulle net pionne.”

 Begin

“My gevoel is dat die hele deregulering-ding by Kraai begin het. Hy het die komitee van ondersoek aangestel.” Die Kassier-komitee van 1992 het in sy verslag eenparig aanbeveel dat die beheerrade afgeskaf moet word. Kassier het besef hy werk met dinamiet.

Hy vertel:

“Die dag toe ons verslag uitkom, was ek in Pretoria. Die volgende ding wat ek sien, hier wag ’n kar vir my en word ek na die SAUK in Johannesburg gebring om op televisie te verskyn en vir die land die bevindinge te gaan verduidelik. Ek kan nie eens meer onthou presies wie dit gereël het nie, maar toe ek weer sien, daar gaan ons.

“Uiteraard was die boeregemeenskap nie net kwáád nie, hulle was hewig ontsteld. Hul mening was dat dit nou is wat jy kry as jy ’n komitee vol professore aanstel. Ek was toevallig die voorsitter, maar daar was Johan van Zyl (UP), Nick Vink (US),Calvyn du Toit (PE/NM) en Geert de Wet (RAU/UJ). Adv. Les Kuegel met sy agtergrond en regskennis asook ons sekretaris en Bart van der Merwe van die departement van landbou se insette rakende institusionele aspekte, was besonders waardevol.

“Nietemin, die bevindinge het ’n vreeslike lawaai veroorsaak. Ag hemel, die koerante… toe ek daardie volgende dag van Pretoria na die lughawe ry, sien ek koerantplakkate met opskrifte oor die Kassier-bevindinge net waar ek kyk.

“Maar ja, dis Kraai wat gesien het daar moet iets gedoen word aan die landboubedeling. Hy het glad nie aan ons voorgeskryf wat ons moet sê nie. Dalk het hy geraai wat ons miskien gaan sê, maar wie weet, dalk het hy nie destyds voorsien dat ons so ver sou gaan nie.”

“Dis wat gebeur het. Die ding het toe nie goed afgegaan nie. Ek sal graag nietemin wou weet hoeveel van die kritici die sogenaamde Kassier-verslag gelees het!”

Daarna het die Basson-komitee gevolg. Hulle moes die Kassier-komitee se verslag herbekyk. “Amper soos Zuma die Madonsela-verslag wou laat herbekyk,” lag Kassier. “Uiteindelik was hulle aanbeveling nie juis veel anders as ons s’n nie.”

Met die koms van die 1994-verkiesing en die verbrokkeling van die kortstondige regering van nasionale eenheid, is Kraai as landbouminister, met Derek Hanekom vervang.

En een van die eerste goed wat Hanekom doen, is om Kassier te nader in daardie Oukersdag-telefoonoproep.

Kassier vat ons terug na daardie gesprek.

“Ek vra toe vir Derek, saam met wie moet ek nou al hierdie goed op 3 Januarie begin doen?

“Hy sê nee, daar sal teen daardie tyd al ander lede aangestel wees, ek sal hulle daar kry, en van sy personeel sal ook daar wees”.

En toe die volgende skok. Hy wil dit binne twaalf maande afhandel!

“Toe sê ek, o hel, ek glo jou nog nie! Dis nie wat die komitee aanbeveel het nie.”

Hanekom se raadgewers het die ‘valbyl’-benadering voorgestel. Op 3 Januarie 1997 stap Kassier by die departement van landbou se gebou in Beatrixstraat, Pretoria, in. “Hier sit my raadslede om my, maar die meeste van hulle het ek nog nooit in my lewe gesien nie – behalwe twee ouens, Eugene Brock en Johan Willemse. Ek had geen benul wie die ander is en van waar hulle kom nie, ons het mekaar vir die eerste keer daar ontmoet.”

“Verder sit ons ook met ’n twintigtal personeellede wat van die departement van landbou na die bemarkingsraad gesekondeer is, wie ek ook nie ken nie.”

Hy lag: “Die eerste ding wat ons gedoen het, was om die raadslede hulself aan mekaar te laat voorstel en om die personeel te ontmoet.

“Maar ja, toe moet ons dit in ’n jaar doen. Intussen moes ons ook na nuwe kantore verhuis en het ons by die gewese Mielieraad-kantore ingetrek”.

Skielik kry hy ’n ondeunde laggie op sy gesig, hy bly ’n rukkie stil en sê dan: “Jy weet, dit was nogal ’n bietjie ironies, ek het ’n Mielieraad-beurs gehad toe ek my doktorsgraad oorsee gaan doen het…”

Hy sonder vyf persone uit wat belangrike rolle in daardie tyd gespeel het: Eugene Brock en Johan Willemse, “wat uit die landbou gekom het”, konsultante Les Kuegel (lid van die Kassier-komitee) en Brendon Bayley (Oxford Policy Management/LAPC van die UWK – sy boek : A Revolution in the Market. The deregulation of South African Agriculture gee ’n goeie agtergrond) en bowenal die personeel onder die bekwame leierskap van Ingrid du Toit het onder konstante druk van een spertyd na die ander, uitstekende diens gelewer.

Om voorsitter van die komitee van ondersoek te wees, was nie net harde werk nie, dit was moeilik. “Ek het geweet ek gaan ’n klomp flack kry, maar het dit so aanvaar want the buck stops met die voorsitter.”

Hy onthou ook ’n paar ouens en briewe wat hy van produsente gekry het. Een besonders interessante brief van ’n sagtevrugteprodusent veral, wat die aanbeveling ondersteun het. “Hy het ook dankie gesê dat ek dit help deurvoer het.”

“Ek moes heeltyd aan ander ons rasionaal en uitgangspunt verduidelik. Ek dink, as ek Kraai en Derek se koppe sou wou lees, sou ek miskien sê: Luister, hier’s jul landboubedryf, met sy verskillende sektore, dè.  Doen die regte dinge in belang van jul bedryf en vir die land as geheel.

“Almal van ons wat op daardie komitee en die Bemarkingsraad gedien het, was terdeë bewus van hoe belangrik die implikasies van wat ons gaan doen was. Ons kan nie terugdraai nie. Ons moes die wet uitvoer wat ingebring is, want dis wat ons gesê het: Raak ontslae van te veel staatsbeheer.”

En hulle het dit reggekry. Behalwe vir ’n paar kwessies rondom fondse, het hulle landbou binne ’n jaar gedereguleer.

Implikasies

Die belangrikste implikasie van daardie 1997-omwenteling vir die landbou was volgens Kassier was om die verantwoordelikheid vir die welslae van die landbou grootliks  in die hande van die sektor self te plaas.

“Al ons raadslede en my personeel by die Bemarkingsraad het baie begrip gehad vir die proses wat ons moes volg om die rade te ontbind. Van die beheerraadslede was baie kwaad vir ons, maar ons uitgangspunt was bloot: Luister, ons doen ’n job, ons is gevra om dit te doen, ons sal dit so goed doen as wat ons kan, maar ons het begrip daarvoor dat hier ’n bestel is wat skielik verander, en julle moet daarby aanpas.

“Ons het gesê ons gaan nie vir julle sê hoe die nuwe bedeling moet lyk nie, julle moet kom en vir ons sê wat julle wil doen.”

Om te glo dat alles seepglad sou verloop, was wensdenkery. “Daar was haakplekke en partykeer harde woorde van beide kante af, maar meer van hulle as van ons kant af. Maar op die ou end het ons dit reggekry.”

“Die beheerrade moes hul besigheidsplanne kom voorlê. Party met redelik eenvoudige planne, maar ander was moeiliker. Vir sekere bedrywe was dit uiteraard moeiliker, veral waar jy hierdie onding van ’n eenkanaalbemarking gehad het.”

“Daar was mense wat graag hul eie ding wou doen. En kyk waar is hulle vandag. Daar was ook mense wat nie hul eie ding kon doen nie, of mense wat probeer het en nie geslaag het nie.  Sommige het dit op kleinskaal gedoen; ander op grootskaal; ander het in een of ander groepering bymekaar gekom – soort soek soort.”

“Wat my betref, is dit hoe dit moes wees. Beter produsente is aangemoedig om nog beter te word. Ek het geen statistiek nie, maar ek dink die vrugtebedryf, of die meeste bedrywe het deur hul eie ding te doen, baie bereik.”

Tyd

Die opdrag van Hanekom was om als binne ’n jaar af te handel.  “Ek het vir Derek gesê” – en dan gee hy ’n laggie – “dis ’n verskriklike moeilike opdrag.”

Ek glo in sy kop was die enigste manier om dit te doen, die valbylmetode. Doen dit so goed en vinnig as wat jy kan.

Hy sug. “Hmm, ek glo dit was die regte besluit, ek haal my hoed vir Derek af. Hy het die moed gehad om die landboubedryf die vryemarkstelsel te laat omarm.”

Daar was baie verwarring. Daar was boere wat Kassier-hulle se kantore gebel het met die vraag: Julle is dan nou in beheer, wanneer kondig julle die mielieprys aan? Hulle het nie eens geweet die raad is afgeskaf nie.

“Onlangs is hier en daar geluide uit die regering gehoor dat ons moet teruggaan na daardie stelsel toe. Daar was ’n rede hoekom so iets in 1937 ingestel is. Maar dit moes ’n tydelike bestel gewees het om iets reg te ruk, toe bly dit daar en brei verder uit.”

Grondhervorming

Op pad na 85 is Kassier nog vlymskerp wanneer hy die kwessie van transformasie takel. Sy raad aan landbou-instellings soos koöperasies was al jare terug eenvoudig: “Kyk in jul gebied. Kyk waar grond beskikbaar is en dink solank wie ’n goeie ‘swart’ boer sal wees. Help hulle en kyk of julle by die regering geld kan kry om hulle te help om sukses te behaal. Een van die beste veiligheidsmeganismes is om suksesvolle ‘swart’ bure te hê.

“Ek het dit in al 1997 gesê en ek sê dit weer: As julle dit nie gaan doen nie, gaan die regering dit vir julle doen. As jy kyk na die sagtevrugtebedryf, is julle gelukkig met wat julle die afgelope 20 jaar bereik het?

“My persepsie is dat julle heel tevrede kan wees oor die dienste wat aan die bedryf gelewer is, maar oor grondbesit? Is julle bedryf gelukkig met wat julle vermag het?

“Dis maklik vir my om in my sitkamer te sit en dit te sê, ek is nie ’n sagtevrugteprodusent nie, maar ek dink ’n mens kon miskien meer gedoen het. Dis nie kritiek nie. As mens te min doen, gaan iemand anders dit vir jou doen.”

Hy glimlag skielik en sluit klassiek Kassier skerpsinnig af: “Mense op universiteit het dikwels vir my gesê, hulle gaan jou nog afdank oor wat jy alles sê. Ken jy vir naby! As ek ’n klip in die bos gooi en daar is ’n geraas, dan weet ek daar was ’n haas in daardie bos!”

Back To Top