Appelbome praat met hom
Deur Elise-Marie Steenkamp
Elvis Pieters van Rietfontein in die Koue-Bokkeveld het die Gevorderde Landbouwerker van die Jaar-merietetoekenning ontvang vir sy uitsonderlike werksvernuf, sterk persoonlikheid en goeie leierskap.
Pieters, wat op Rietfontein gebore is, het in 2002 daar begin werk nadat hy soos menige jongmens eers die groener gras aan die ander kant van die draad gaan beproef het.
“Ek het sommer gou besef my hart is op Rietfontein,” sê hy. Pieters het in 1999 by die plaas, wat op daardie stadium nog aan ‘n ander eienaar behoort het, ingeval. Hy het aanvanklik sy landboutande op groente- en vee-boerdery geslyp. Toe Rietfontein aan Graaff Fruit verkoop is, was Pieters die besproeiingsvoorman in beheer van die uieplantasies. Nog later word hy junior produksiebestuurder. En toe, ses jaar gelede, word hy na die vrugteboorde geskuif waar hy eers ‘n pluksak gedra het, maar binne ‘n kort tydjie homself onderskei het. Hy praat met gesag oor produksiekwessies soos sonbrand en hoe baie die droogte hom geleer het.
“Die droogte het ons anders laat dink oor vrugteproduksie. Ons moet innoverend wees, waterskedulering aanpas. Ons moet die natuur respekteer.”
Toe hy na vrugteverbouing geskuif het was hy onder baie druk. “Ek moes vinnig leer. Dit was ‘n groot uitdaging, maar ek geniet my werk terdeë. Daar is so baie fasette aan vrugteverbouing. Elke dag is dit iets anders, ‘n ander probleem wat opgelos moet word.”
Pieters se pa wat tans in die Oos-Kaap boer het ‘n groot invloed op sy lewe. “Ek het goeie verhouding met hom en hy hou my voete op die aarde. Ons praat gereeld en wanneer ek die kans kry gaan kuier ek vir hom.”
Volgens Pieters is daar definitief ‘n toekoms vir jongmense in landbou. Ek weet baie jongmense wil net stad toe en elke ou het maar sy eie visie oor die lewe, maar volgens my lê die beste werk op ‘n plaas. As jy dink jy wil boer en is bereid om hard te werk, dan kan jy.”
Volgens Wimpie Paulse, menslike hulpbronbestuurder van Graaff Fruit, maak Pieters van elke moontlike opleidingsgeleentheid wat aan hom gebied word, gebruik. “Hy is ‘n passievolle mens wat alles wat hy leer weer terugploeg in die gemeenskap.”
Pieters het ‘n ystere wil, is pligsgetrou en het ‘n besonderse sin vir verantwoordelikheid. As bestuurder word daar baie druk op hom geplaas, wat hy met onderskeiding hanteer. Pieters is ook welsprekend met ‘n fyn sin vir humor en tree gereeld as seremoniemeester in die gemeenskap op. Hy is ook aktief by verskeie gemeenskapsprojekte as leier betrokke.
Vir Pieters gaan boerdery oor veel meer as net sy werk op die plaas. “Ek dink dikwels daaraan dat my werk deel is van ‘n groter prentjie. Ek is besig om kos op die tafel te sit vir ander mense. En dit motiveer my. En wanneer ek op die dorp kom en ons vrugte op die winkelrakke sien…man, dan bars my bors van trots.”
Pieters som sy werk so op: “Daar is niks wat kan vergelyk word met die produksie van ‘n Golden Delicious appel nie – dié bome praat met my en as ek net die appels ruik, dan voel ek sommer goed.”
Net ‘n vrugteboer praat so.